Hertog van die Pampas. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach страница 6
“As Ramirez-hulle begin het om op groot skaal perde te steel, beplan hulle een of ander offensief,” het Alejandro haar gewaarsku. “Ons moet julle estancia eers beveilig voordat julle kan terugkeer.”
Hy was so adamant dat sy en haar moeder na sy huis saamkom dat sy nie kon teëpraat nie. Nou sit sy hier by haar broer in die kamer wat Alejandro aan hom toegewys het, geklee in ’n swart tabberd. Sy en Dolores maak beurte om by die koorsige Raúl te waak.
Tot Miranda se verbasing is haar moeder, wat altyd so sterk en doelgerig gelyk het, skoon verpletter ná haar vader se dood. Al wat sy kan doen, is op ’n bondel sit en treur. Sy wil nie eens afgaan eetsaal toe nie en die kos wat vir haar gebring word, raak sy skaars aan.
Miranda besef dat sy die sterk een sal moet wees – sy kan nie ook in ’n stoel gaan sit en rou nie. Die woorde wat haar vader vir haar geprewel het net voor sy dood, verstaan sy nou. Hy wou hê sy moet die leisels oorneem, want hy het geweet sy is sterk en haar moeder nie.
Wat sy ook nou besef, is dat Dolores veel meer vir Raúl omgee as wat sy, Miranda, ooit vermoed het, want sy verpleeg hom met die toewyding van liefde en angs.
3
“Miranda, Alejandro is terug by die huis,” sê Dolores toe sy inkom. “Hy het jou mense in die werk gesteek om by julle casco op te ruim.”
“Ek is regtig dankbaar. Hier sit ek in twee geskeur. Ek wil daar wees, maar ek wil ook hier by Raúl wees. Ek is bang om weg te gaan en as ek terugkom dalk te sien …”
Sy skraap haar keel en sien dat Dolores haar hande wring.
“Ek sou my lewe gee om syne te spaar.” Haar oë blink van ongestorte trane.
Miranda knik. “Ek weet, ek het dit agtergekom. Maar jy is in dieselfde posisie as Alejandro. Julle mag nie op crillo’s soos ons verlief raak nie, of hoe?”
Sy kan die seer nie uit haar stem hou nie.
“Ag, Miranda, ons is al van kleins af vriende. Ek het baie met Moeder en Vader gestry oor hulle keuses vir ons huweliksmaats, maar ek kon eenvoudig nie hond haaraf maak nie. Moeder is ná Vader se dood selfs nog meer onwrikbaar. Daar is een ding wat ek as ’n tydelike begenadiging beskou, en dis dat die aanval op julle estancia gemaak het dat Alejandro nie formeel verloof geraak het nie.”
Miranda kyk haar vriendin onbegrypend aan. “Maar sy is tog laat kom om …?”
“Ja, sy en haar broer is hier, maar die verlowing is nog nie amptelik nie – Alejandro het nog nie die ring aan Mercedes se vinger gesteek nie. Ek wens hy doen dit nooit nie. Ek kan haar nie verdra nie. Sy is koud en hooghartig. Hoe kan sy hom ooit gelukkig maak?”
’n Snaakse sensasie trek deur Miranda. Dis deels skok, deels verligting, deels hoop.
“Alejandro sê die verlowing moet wag tot al die krisisse verby is.”
“Regtig?” Miranda voel weer die verraderlike hoop in haar hart opvlam.
“Hy is besig om te beplan hoe om julle perde terug te kry. Hulle sal die banditti moet aanval, maar ons het nie genoeg mense om dit sommerso te waag nie. Ons moet mense van elders kry om te help. Ramirez is só slinks. Hy is seker al by die berge, en Alejandro sê dit sal dwaas wees om hom daar op sy eie terrein te probeer aanval. Hy moet op een of ander manier uitgelok word na waar hy meer kwesbaar is.”
Toe Alejandro by die siekekamer instap, ruik hy die onmiskenbare reuk van die gewonde – karbolsuur, sweet en bloed. Hy kyk na Miranda, slank en skielik so kwesbaar in swart, met haar dun middeltjie waarom sy hande maklik sou kon gaan. Nou is daardie glansende hare stemmig vasgemaak met ’n haarnet agter oor die krulle getrek.
Toe sy net na Ramirez se aanval by die casco aangery gekom het, het sy soos ’n wildewragtig gelyk: haar rok gekreukel, haar skouers kaal en daardie hare in lang, los lokke. Haar asem het so gejaag dat haar bors op en neer gedein het. Haar pragtige oë was wild, maar sy was vir hom nog nooit so begeerlik soos op daardie oomblik nie.
Nou het hy die oorweldigende begeerte om dié bykans ontembare meisie, wat so hartseer en verlore lyk, in sy arms te neem en te troos. Hierdie bedeesdheid van haar is weens skok, angs en hartseer, maar sy sal weer word soos sy was – gevul met onblusbare energie en lewenslus.
Vandag het sy donker kringe onder haar pragtige oë wat hom so uitdagend kan aankyk. Dit gryp hom aan die hart. Dis duidelik dat sy maar min slaap.
“Hoe gaan dit met hom?” vra hy sag.
“Nie goed nie,” antwoord Dolores met trane in haar oë.
“Ons kan net hoop hy sal oorleef.”
Die woorde kom sag uit Miranda se rooi mond, waarvan die onderlip net genoeg bewe dat hy dit kan sien. Hy ervaar ’n verskriklike begeerte om haar teen hom vas te druk en daardie bewing weg te soen.
Maar hy mag nie, want as hy nou ingee, is sy ouers se jare lange onderhandelinge met die aristokrasie in Spanje alles verniet. Dit sal sy moeder nooit oorleef nie. Die onbekende siekte wat sy so hard probeer om vir almal weg te steek, is besig om haar stadig te verteer, en hy wil nie tot haar pyn bydra nie.
Hy gaan na die bed en plaas sy hand op Raúl se voorkop. “My vriend, ons almal bid vir jou. Byt net vas.”
Toe Miranda dié woorde hoor, gaan die sluise oop en voordat sy dit kan keer, bars ’n rou snik uit haar bors.
Alejandro draai om, sy gesig ontsteld, en toe sy haar kom kry, gaan sy sterk arms om haar en snik sy teen sy breë bors. Hy hou haar vas totdat sy bedaar.
“Ek is jammer …” probeer sy verskoning maak. Hy los haar, maar sy kop is vooroor gebuig en hy kyk na haar met oë wat vreemd gloei.
“Enigeen kan treur,” sê hy sag. “Jy ook.”
Tot haar verbasing draai hy summier om en loop.
“As Alejandro nie aan daardie merrie van ’n Mercedes beloof was nie, het hy met jou getrou,” hoor sy Dolores meewarig sê.
Dit vererger net die pyn in haar hart, want die verlies van soveel word amper te veel om te dra.
Miranda is ook vol wraakgedagtes teenoor Ramirez en sy bende. Sy het ’n plan bedink en wag net tot die aandete om dit aan almal voor te lê.
Soos gewoonlik is die aandete bykans swierig in die groot eetkamer met sy swaar meubels, die silwer- eetgerei en duur porseleinware met die heraldiese wapen van die Conde Semillano de Oragon daarop. Almal behalwe Dolores, wat by Raúl wou bly, is daar in formele klere en Alejandro sit aan die hoof van die tafel soos die heerser van sy koninkryk.
Links van hom sit die hovaardige markiesin, regs is sy moeder, en langs haar sit Doña Maria Luísa, wat gedwing moes word om te kom eet. Oorkant haar is Miranda. Aan die ander punt van die tafel sit die pronkerige Marqués Fernando, wat soos sy suster uitermate deftig geklee is, asof hulle aan die wêreld wil toon dat hulle adellik en skatryk is.
Miranda hou nie van die manier waarop dié twee Spanjaarde na haar kyk nie. Mercedes kan haar oënskynlik nie verdra nie, en haar broer is opdringerig asof hy dink dat dit sy reg is.
Miranda