Hertog van die Pampas. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach страница 8
Te gou bereik hulle die afdraaipad na die hoofstad, en Alejandro dink aan die Indiane wat met hul donkies en gesinne trek, die enkele rytuig en die paar ruiters wat hulle op pad teëgekom het. Dit het veilig gelyk. Ramirez is seker in die berge met sy gesteelde perde en beeste. Hy verwag dalk ook weerwraak en berei hom voor op ’n teenaanval.
“Dis hier waar jy moet omdraai,” sê Miranda.
Dis vir hom amper te moeilik om haar te laat gaan en hy wens hy kan haar beter beskerm.
“Julle moet Doña Miranda baie mooi oppas, anders kry julle met my te doen,” waarsku hy sy gaucho’s.
In ’n koor belowe hulle om haar met hulle lewe te beskerm.
Hy ry tot by haar en kyk af na die dapper gesiggie, wat sy trots oplig om hom te oortuig sy is nie bang nie. Hoe mooi is sy nie in die helder sonlig nie. Hy wens hy kan haar op haar mond soen, maar hy neem net haar hand in die sagte leerhandskoentjie en soen die pols waar die are klop.
“Veilig ry, en moenie tyd verspeel nie. Stuur iemand met ’n boodskap as jy my nodig kry.”
Miranda voel steeds sy lippe se skroeiing op haar vel toe hy haar hand los en die verraderlike hitte stu weer ongevraag in haar op.
“Pas asseblief vir Raúl mooi op,” sê sy vir oulaas, en toe druk sy haar hakke in die perd se lieste.
Sy kan nie weer na Alejandro kyk nie, maar sy voel hoe hy haar agternakyk. ’n Ent weg draai sy effens om en kyk oor haar skouer. Hy staan steeds daar met sy vier gaucho’s, maar hulle word al kleiner soos sy aanry.
Sy kyk weer voor haar en toe sy ’n rukkie later omkyk, steek die heuwel hulle weg en dink sy hulle moes reeds omgedraai het. As sy nie so ’n belangrike doel voor oë gehad het nie, het sy nou verlate gevoel. Jy is verspot, vermaan sy haarself, want om haar is die swaargewapende mans, en Carmen op die muilwa.
“Julle moet met ’n koets ry, dis veiliger as op ’n perd en dit skep ’n beter indruk,” het haar moeder gesê, maar sy het geweier.
“As ons vinnig moet wees, is perde veel beter,” het sy volgehou.
Haar oë soek oor die horison. Sy sien geen banditti op perde wat hulle dophou nie, maar haar rug kriewel en dit voel asof oë hulle van alle kante dophou.
Diego, die leier van Alejandro se gaucho’s, kom ry langs haar. “Señorita, ek sien u kyk rond. Ek wil u nie skrikmaak nie, maar ons word dopgehou.”
“Ek kry ook die gevoel.”
“Ek glo nie hulle sal aanval nie, want ons is goed gewapen en ’n hele klomp. Hulle weet ons sal ons verdedig, en vir een wa met kiste klere en ’n bietjie geld sal hulle dalk nie hulle lewe waag nie.”
Miranda knik en glimlag dapper vir hom. Hy lyk vreesloos en bruingebrand, met ’n pikswart snor en woeste hare onder sy breërandhoed. Al die mans, van haar eie estancia en Alejandro s’n, lyk kwaai en taai en sy weet dat hulle baie onafhanklik, trots en sterk is. Dis die tradisie waarin sy en Alejandro grootgeword het, en wat Mercedes en haar broer nie ken nie, dink sy meewarig.
Al die mans dra die tipiese gaucho-klere: ’n poncho, lospassende broek en breërandhoed. Almal het boleadoras, leerswepe, groot messe en gewere, alles mooi versier. Hulle perde, wat hulle belangrikste besitting is, is net so gehard soos hulle.
“Ek is nie senuagtig nie, Diego,” verseker sy die gaucho, want sy wil aan dié geharde mans toon dat sy net so dapper soos hulle kan wees.
Hy grinnik met wit tande onder sy swart snor. “Si, Señorita.” Maar toe sê hy ernstig: “Ons is jammer oor Don Ramon, en ons bid dat Señor Raúl sal herstel.”
“Dankie, Diego. My broer is in die hande van God. As dit Sy wil is, sal hy lewe. Intussen sal ek sy plek probeer vol staan en die wraak neem wat hy sou geneem het. Daardie Ramirez gaan boet.”
“Ek wonder of die president-diktator sy troepe sal stuur om ons te help,” sê Diego met ’n frons. “Anders moet ons maar self veg. Ramirez word al sterker soos misnoegde arm mense by hom aansluit. Daar is baie wat die paar honderd eienaars van estancias beny en hulle wil beroof van hulle grond en besittings.”
Miranda kyk onrustig na hom. Die markies het daarop gesinspeel, en nou staaf hierdie man uit die gewone mense wat weet wat op voetsoolvlak aangaan sy bewerings.
“Ramirez wil tog seker nie as president oorneem nie?” vra sy.
Diego haal sy skouers op. “Dalk wil hy, maar hy is van nature ’n skurk en ’n struikrower, wat hou van die vryheid van die campo en die pampas. Hy skuil in die berge en kom uit om te roof.”
“Die grootste ding wat hy kan roof, is die president se paleis en posisie.”
“Dan sal daar chaos en bloedvergieting in hierdie land wees, Señorita.”
Inderdaad, dink sy en sidder. Die toekoms lyk dreigend. Die groter werklikheid is van soveel belang en dan mors sy tyd en energie om te treur oor Alejandro wat sy nie kan kry nie. Dis maar hoe die vrouehart werk, dink sy met ’n wrang glimlag.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.