Louisa du Toit Omnibus 6. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit страница 7
“Juistement. Die gras moet gesny kom, en die krane lek, en die latrine hou aan met spoel as ’n mens hom afgedruk het. En my kamerlig bly dood. Saans moet ek ’n kers aansteek of ek moet in die sitkamer sit en hekel. Hoeveel keer het ek jou gevra om ’n inskroefgloeilamp vir my te koop, maar nee. Ons sit met tien bajonette.”
Een erge oomblik dink Danie dat sy van regte bajonette praat, die soort waarmee vroue hulle seuns kan doodsteek. Dan snap hy, en werk in sy kop uit. “Dis nou die vierde keer,” antwoord hy op die enigste vraag wat in die loop van die lang verwyt voorgekom het. Hy besluit terstond om iets aan al die sake te doen. In haar kamer sal hy ’n muurlampie met ’n verlengdraad aanlê, want dis ’n ou huis met min muurproppe. Die krane sal hy stywer gaan toedraai en die latrine se hefboompie sal hy ’n bietjie wikkel. Die gras is ’n kruis. Vir die ou wat grasperke uitgedink het, moes daar ’n vreeslike straf gewees het. Soos om ’n hele grasperk met ’n skeermeslemmetjie af te sny, week na week. Dit sou die vent uit sy sotterny verlos het.
Danie Momberg is nie lui nie. Werk kan soms ’n furie by hom word. Dit bou op soos ’n langsame siklus, en bars uit. Dan moet niemand naby hom kom nie. As Betta sulke tye kom staan en raad gee, sorg hy sommer ongemerk dat sy ’n skoot grond of water in die gesig kry. Sy kon nog nooit bo twyfel vasstel of dit opsetlik geskied nie, en blaas veiligheidshalwe die aftog.
Tydens hierdie werkuitbarstings ruim Danie dan nie alleen sy kamer van hoek tot kant op nie, maar hy spit, plant en skoffel, verf en timmer, ry ysterwarewinkel toe om lysies goed te koop. Boonop sit hy snags tot laat en studeer. Wanneer hierdie tekens aan Betta se horison begin verskyn, raak sy opgeruimd en loop heeldag en neurie. En hou intussen duim vas dat die brander nie breek en strand alvorens die werk klaar is nie. Aan die ander kant het sy dan niks om oor te neul nie, en sy mis die gebruiklike bron van irritasie.
Gewoonlik breek die brander wel ontydig, sodat sy dan self met tou en kitsgom en kleeflint moet inspring om noodreddingswerk te doen. ’n Los geut moet dan maar in die wind klap, roosbome moet half gesnoei staan en los vloerteëls moet onder jou skoensool bly wikkel.
Maar die werkgier het hom lank laas voorgedoen. Dwarsdeur die vakansie het Danie “gedink”. En noudat sy meisie skoolhou en hy ’n nuwe roetine moet aankweek wat haar betref, is dit of hy ’n bietjie van koers af is.
“Ek verwonder my dat Petro Schoon jou nog nie gelos het nie,” deel Betta Momberg nou haar gedagtes met haar seun. “ ’n Man wat so kan niksdoen, dis ’n kruis vir ’n vrou.”
“Los tog nou maar vir Petro, Ma. Sy verstaan my baie beter as wat Ma ooit vir Pa verstaan het, of vir my.”
Geen moeder hou daarvan om so iets te hoor nie. “Sy’s net te gewoond aan jou om nog dinge raak te sien,” betaal sy hom terug.
“H’m. Kan wees,” stem hy saam, net om van haar ontslae te raak. Nie dat hy heeltemal van opinie verskil nie. Hy en Petro is wel baie gewoond aan mekaar. Ontstellend gewoond. Hulle het nooit ander maatstawwe gehad as net mekaar nie. ’n Paar keer het hy ander meisies probeer uitneem, maar dit het hopeloos te veel inspanning geverg. Hy moes “oe” en “aa” en bek trek, en hy het vir Petro so gemis dat hy haar laataand opgesoek het na afloop van die eerste afspraak. Sy het saam met hom pepermente gekou en hom na die liefdesavontuurtjie uitgevra, selfs verbeteringe aan die hand gedoen toe hy moes bely dat dit nie geslaag was nie.
Dis vir hom die grootste enkele oase in sy lewe: dat hy volkome homself by Petro kan wees. Sy is nie die neulerige soort vroumens wat sy ma is nie. As sy byvoorbeeld moes wees soos daardie kyfbek van ’n Rina, die vrou van haar broer Marius, sou hy haar lankal in haar peetjie gestuur het. Daardie vrou se mond gaan hy nog toestop.
Danie rys orent. Nou gaan stort, besluit hy, en dit lê soos ’n berg voor hom. Nie om daar in te kom nie, maar om weer daar uit te kom.
Toe hy eers aan die stort is, kan hy nie klaarkry nie. Hy laat die koue water eindeloos oor hom spoel asof dit alle ergernisse kan weg was . . . tot sy ma hard klop en oor die waterverbruik maan. En die afdroëry is altyd ’n kwessie. Jy dink jy is oral droog, en jy trek aan, en dan steek jou hemp teen ’n klam rug vas, veral as jy dit oor jou kop trek sonder om die knope los te maak. Knope is ’n ander onnodige uitvindsel.
Maar hy moet darem vars wees as hy na Petro toe gaan. Hy weier om slonsig te raak net oor hy aan haar gewoond is. Sy besnuffel hom graag as hy lekker ruik. Maar die nuwe omstandighede maak haar afgetrokke. Dis vir hom ook ’n aanpassing. Hy was gewoond om by haar studentekoshuis net ’n klippie teen die ruit te gooi om haar aandag te trek. Nou moet hy altyd in die motor sit en wag tot sy eindelik deur die venster kyk. Voordeur toe gaan hy nie, die meisiekinders krioel en is nuuskierig.
Dis vanaand Charlene Winters wat vir Petro inlig dat Danie in sy motor wag. Die meisiekind is nogal ’n betroubare brandwag, en volwasse genoeg om nie op loop te sit as sy ’n man sien nie. Sy het self ’n “groot” kêrel.
“As ons nog veertien jaar uitgaan, sal ek seker nog veertien jaar soos ’n straatvrou by jou moet kom inklim,” verwyt Petro skadeloos toe sy langs Danie in die diep kussing van die kewer neersink. Sy voel gedaan, afgemat. Agt periodes met groot klasse, daarna buitemuurs, toesig en nasienwerk. Sy vervies haar selfs ’n bietjie vir sy rustigheid.
“Korrek. Ek sal dit net dertien maak om jou te troos,” beloof Danie. “Nee, ongelukkige getal. Sê twaalf.”
“Dan is ek vier en dertig.”
“Maak dit vyf en dertig, vir ’n ronde getal. Dit gee ons weer dertien. Kom ons beklink dit met twaalf en ’n half. Sal ons die bod toeslaan?”
“Ag, man. Hou op strooi praat. Ek is moeg. Ek sou liewer in my kamer wou bly en gaan slaap. Dit voel vir my of ek nooit weer in my lewe uitgeslaap sal kom nie.”
“Slaap maar teen my skouer. Moet net nie op my hemp kwyl nie.”
Sy laat rus inderdaad haar kop teen sy skouer. Dis so bekend soos ’n nagtelike kussing teen haar wang. Die reuk van sy hare, sy vel, sy asem, is ’n kwessie van assimilasie. Sy begeer soms dat hy net een keer weer heeltemal vreemd vir haar kan wees, sodat sy hom van nuuts af kan beleef. Soos toe hy die skoolseuntjie was aan wie sy haar kon verkyk: soms uit sy vel, ’n voorbok by die spel, soms ingedagte met ’n dik boek op die skoolstoep. Tot die dag toe sy, gekneus deur ’n misverstand op die speelgrond, langs hom uitgespoel het en hy vir haar ’n toffie aangebied het.
“Dit was taaitoffie,” sê hy hardop nadat sy ’n wyle slegs die lui roering van sy skouer, soos hy bestuur, onder haar wang gevoel het. “En ek moes dit met ’n haasbek probeer kou.”
“Dit was sagte toffie,” weerlê hy.
“Danie Momberg, ek sal jou tot die dag van my dood wed dit was taaitoffie. Of sê dan tot die dag van my troue, dit kom op dieselfde neer.”
“Nou ja, ek kan ook nie dink dat ek as tjokkertjie geld sou hê vir sagte toffies nie.” Hy dink ’n tydjie na. “Weet jy, noudat ek daaroor dink, ek moes al vreeslik baie op jou uitgegee het. Kan nie nou meer kop uittrek nie.”
“Beslis nie, dan moet jy my uitbetaal vir die deel van die verloofring wat ek vir jou geleen het.”
“Dankie dat jy my herinner. Ek vat jou huis toe, my ma het darem vanmiddag opgehou broei en begin verwyt. Dan is sy ten minste onderhandelbaar.”
“Ek weet presies wat haar woorde was toe sy begin verwyt het: jy lê op jou rug, die krane lek, jy’s nes jou pa.”