Son op die horison. Susanna M. Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Son op die horison - Susanna M. Lingua страница 7
“Dit wil vir my voorkom of sy haar gesig met haar arms beskerm het, want haar linkerarm is agt sentimeter bokant die gewrig gebreek en aan haar regterarm is ’n sny van tien sentimeter lank. Die veiligheidsgordel het ten minste verhoed dat sy uitgeval en miskien onder die motor beland het. Die inwendige beserings is nie so ernstig dat dit nie volkome kan genees nie, en sy het gelukkig geen kopbeserings opgedoen nie. Sy moet nog net haar bewussyn herwin, dan sal ons almal gelukkiger voel. Maar gee my haar volle name, van en adres hier op die eiland, asook in Londen en in haar vaderland, sodat ek haar ouers van die ongeluk in kennis kan stel …”
“Verena het geen familie meer in Suid-Afrika nie, dokter. Haar ouers en haar enigste broer en suster het in ’n motorongeluk omgekom. Haar pa was baie vermoënd en die prokureur wat haar geldsake hanteer, ene meneer Hugo, is glo ’n huisvriend sowel as prokureur. Miskien moet u hóm van die ongeluk in kennis stel,” meen Alice, innig bly dat Verena nie ernstig beseer is nie. “Maar ek vrees ek ken nie meneer Hugo se adres nie, dokter. Al wat ek weet, is dat hy ook in Pretoria woon waar Verena se tuiste is, en dat hy getrou sorg dat sy nie in Londen gebrek ly nie.”
“In daardie geval sal ek moet wag totdat sy haar bewussyn herwin –”
“Maar, dokter,” val Alice hom in die rede, “hoe op aarde sal Verena kan klavier speel terwyl haar arm gebreek is?”
“Sy sal nie kan klavier speel terwyl haar arm in gips is nie,” sê die dokter asof Verena se klavierspelery vir hom van minder belang is.
“Sy is besonder talentvol,” sê Alice half ingedagte. “Maar hierdie motorongeluk gaan vir haar ’n groot terugslag beteken, en dit sal haar hart breek. Ek weet nie hoe sy sonder haar musiek sal kan lewe nie.”
“ ’n Mens se hart breek nie so maklik nie, señorita,” help die dokter haar reg. “Die señorita sal maar net geduldig moet wag totdat haar arm herstel het.”
“U verstaan nie, dokter,” laat sy weer hoor. “Verena het geen familie of ’n spesiale mansvriend nie, daarom lewe sy net vir haar musiek …”
Die binnekoms van ’n verskrikte verpleegster laat Alice stilbly. Die verpleegster rammel ’n klomp woorde in Portugees af waarvan Alice nie ’n woord verstaan nie en verlaat daarna die vertrek net so haastig.
Alice kyk die dokter vraend aan.
“Die verpleegster sê daar is groot moeilikheid in die señorita se kamer,” sê hy. “Sy het flussies haar bewussyn herwin, maar dit lyk of sy haar sig verloor het … Sy kan glo niks sien nie.”
Alice is etlike sekondes lank spraakloos van skok en sy kan die dokter net verslae aanstaar. Maar dan kom sy skielik tot verhaal en roep net saggies uit: “Blind … Bedoel u dat Verena blind is, dokter?”
“Ek weet nie,” sê hy. “Jy moet my asseblief verskoon, ek moet nou dadelik na haar toe gaan.”
Toe die dokter Verena se kamer binnestap, het die verpleegster reeds van al die besoekers ontslae geraak. Verena is doodsbleek. Sy huil saggies en sielsverlore. Dokter De Almeida sê iets vir die verpleegster. Sy verlaat die siekekamer onverwyld en trek die deur saggies agter haar toe.
Daar is ’n trek van kommer in die dokter se oë toe hy Verena se hand van haar gesig af wegneem en haar trane met sy sakdoek afdroog.
“Wie is jy?” vra sy op Engels en met trane in haar stem.
“Ek is dokter Carlo de Almeida, superintendent van hierdie hospitaal,” verduidelik hy met ’n bedaarde stem en vervolg: “Ek hoor jy huil en sê jy kan nie sien nie?”
“Ek kan niks sien nie, dokter,” sê sy met ’n gebroke stem. “Alles voor my is swart, soos ’n inkswart nag wanneer ’n mens nie eens jou hand voor jou kan sien nie. Dokter, ek is bang vir hierdie onbekende donker wêreld …”
“Señorita Verena, as jy werklik jou sig verloor het, sal dit net tydelik wees, want daar is hoegenaamd geen rede vir blindheid nie. Jy het geen kopbeserings nie. Inteendeel, daar is nie eens ’n skrapie aan jou gesig nie. Ek vermoed hierdie blindheid van jou is aan skok te wyte. Maar om jou gerus te stel, het ek die verpleegster gevra om vir my ’n oproep na Oporto te bespreek. Ek wil die uitstekende breinspesialis, dokter De Reuda, vir jou ontbied. As daar êrens ’n drukking op die brein of op die oogsenuwees is, sal hy dit dadelik opspoor. Maar ek verseker jou daar is na my wete geen drukking op die brein of op die oogsenuwees nie.”
“Wat is my kanse op herstel as … e … hierdie blindheid aan skok te wyte is, dokter?” vra sy.
Hy streel bemoedigend met sy hand oor haar sagte hare wat soos ragfyn, goue draadjies lyk en sê: “Jy sal jou sig óf skielik óf geleidelik herwin, señorita. Moet net nie haastig of wanhopig word wanneer jy nie gou genoeg na jou sin weer kan sien nie. Hierdie dinge neem soms tyd om reg te kom en dan moet ’n mens net geduldig wees.”
Verena bly so lank stil dat die dokter al begin dink dat sy geen vrae meer gaan vra nie. Maar Verena sukkel nog wanhopig om die dokter se verduideliking in te neem sonder om haar pyn en frustrasie uit te gil. Toe is dit asof iets in haar breek.
“Skielik … geleidelik … inderdaad,” bars dit oor haar lippe soos ’n onstuitbare vloedwater. “En intussen moet ek geduldig in ’n donker, onsekere wêreld rondtas. Besef u wat u van my vra wanneer u sê ek moet geduldig wees, dokter? Besef u wat dit beteken om voortdurend in ’n inkswart nag te lewe? Ek voel of ek my leed, my wanhoop en my teleurstelling aan die ganse aarde kan uitskreeu totdat daar geen asem meer in my liggaam oor is nie, en u sê ek moet geduldig wees. Ek sal my blindheid nooit kan aanvaar nie. Nooit, verstaan u? Nooit. Nóóit!”
Die laaste woorde gil sy half histeries uit. Toe raak sy genadiglik in ’n beswyming weg.
“Arme meisie,” sê die dokter met deernis in sy stem vir die verpleegster wat die vertrek verskrik binnestorm. “Dit gaan vir haar ’n lang en ’n swaar stryd wees om haar met haar blindheid te versoen.”
“O, maar sy is pragtig, dokter!” sê die verpleegster. “Ek het nog nooit in my lewe so ’n mooi meisie gesien nie. Haar blindheid is inderdaad ’n ramp – ’n ontsettende ramp.”
“Ja, jy het gelyk. Haar blindheid is ’n ontsettende ramp, veral as ’n mens dit in gedagte hou dat sy ’n begaafde pianiste is,” stem die dokter saam en versoek die verpleegster om vir hom die nodige vir ’n inspuiting te bring.
“Dis waar,” mymer die dokter toe die verpleegster die siekekamer verlaat, “señorita Verena se skoonheid is iets besonders. Maar dit lyk vir my haar skielike blindheid gaan óf ’n koue, harde en ongevoelige mensie van haar maak, óf dit gaan al die blymoedigheid, die lewensvreugde in haar doodmaak en haar in ’n teruggetrokke meisie laat ontaard, iemand wat bang is vir die lewe en sku vir haar medemens … en in laasgenoemde geval sal sy beslis ’n makliker mensie wees om mee oor die weg te kom.” Die dokter beskou die bewustelose meisie met oë wat al baie vreugde en verdriet in die lewe aanskou het.
Nadat die dokter haar die inspuiting toegedien het, herwin Verena haar bewussyn en sy word geleidelik kalm. Sy maak haar oë net een keer oop asof sy haarself wil oortuig dat haar blindheid nie net ’n droom is nie, maar ’n wrede werklikheid. Daarna sluit sy haar groot, blou oë sonder om eens te vra waarom haar linkerarm in gips en haar regterarm in ’n verband is. Dis of sy al haar belangstelling in haar omgewing en omstandighede verloor het,