Skitternag vir dokter Vasti. Rykie Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skitternag vir dokter Vasti - Rykie Roux страница 5

Skitternag vir dokter Vasti - Rykie Roux

Скачать книгу

vryf oor haar oë. “Ek en Jacques –”

      Hy val haar in die rede voor sy hom dit weer voor die kop gooi dat hulle verloof is. “Hy is dood, Vasti.”

      “Wát?” fluister sy.

      “Motorongeluk.”

      Sy gaan sit weer, stamp in die proses aan die kitaar se snare en ’n lelike klank bewe op.

      “Wanneer?”

      “Op die sewende Desember, verlede Vrydagmiddag.”

      Hy sien hoe daag begrip in haar oë. Dit was laas Donderdagnag dat hulle twee … Hy is vroeg Vrydagoggend hier weg. Jacques is dus daarna dood.

      “Wat het gebeur?”

      Haar oë is net so vuilgroen soos wat hy verwag het hulle gaan wees. Hy moet sy vuiste saamklem om te keer dat hy haar nie teen hom vasdruk nie.

      “Hy het hospitaal toe gejaag vir ’n noodgeval, oor ’n vierrigtingstopstraat geglip en kop teen kop met ’n ander motor gebots.”

      Vir presies watter noodgeval Jacques gejaag het, is een van die besonderhede wat hy eers van haar wil weghou. En hy wat Frits is se aandeel in die nagevolge van die ongeluk is nog een.

      “Hoekom hoor ek nou eers daarvan?”

      “Jy sit hier in die boendoes, onopspoorbaar op ’n selfoon. Ek kon seker gewag het tot jy terug is, maar ek het nie geweet of jy dalk nog weke hier gaan bly werk nie.”

      “Die begrafnis. Ek moet dadelik terug om dit te gaan reël. Hoe het jy hier gekom?”

      “Huurvlug.”

      Nes laas week se peperduur een. Dié keer was hy gelukkiger, want hier is mense wat wil huis toe en die vlieënier moes buitendien hierheen vlieg.

      “Wanneer gaan jy terug?” vra sy.

      “Die vlieënier sit en wag vir my op die vliegveld.”

      Sy staan dadelik op. “Kan ek saamkom?”

      Hy moet vir ’n lang oomblik teen die versoeking veg om ’n plan te maak dat sy kan, maar dan skud hy sy kop. “Daar is plek vir net drie passasiers. Twee van die Rooi Kruis-mense moet haastig terug Amerika toe. En jy kom mos buitendien môre.”

      “Maar wat van die begrafnis?”

      Dis eintlik die heel moeilikste stukkie nuus dié. Sy gaan woedend wees, want sy sal nie verstaan dat hy dit om haar ontwil gedoen het nie.

      “Jacques is klaar begrawe, Vasti. Gister al.”

      “Ek is sy verloofde! Hoe kon jy hom begrawe het sonder dat ek by was?”

      Groen vuur spoeg na hom, nes hy verwag het.

      “Jy weet hoe voel die kinderhuis oor Jacques. Hulle het alles gereël.”

      Dit lyk of die kinderhuis Jacques alles gaan vergewe. Hy was immers hulle ster. Onverstaanbaar, Jacques Hugo se charisma. Maar ook onweerstaanbaar. Vir hom wat Jacques se vriend was. En vir Vasti wat sy verloofde geword het. Dis dalk omdat Jacques altyd so hard probeer het om goed te wees, al kon hy dit nooit heeltemal regkry nie.

      Hy voel bitter sleg dat hy sy dooie vriend in die rug gesteek het deur sy verloofde te probeer afvry. Miskien is sy ma reg oor hom, hy is net so ’n misoes soos sy pa.

      “Hulle kon twee dae vir my gewag het,” sê sy verwytend.

      Hulle wou. Maar hy het hulle aangepor om die begrafnis agter die rug te kry. As Vasti daar was, sou sy van alles uitgevind het, en hy wou nie hê die lig in haar groen oë moet eensklaps uitdoof nie. Laat sy haar geloof in mense net nog ’n bietjie langer behou.

      “Soos ek gesê het, Vasti, jy sit op ’n onbereikbare plek,” probeer hy paai.

      Sy vou haar arms voor haar bors, haar gesig waswit. “Jý het my opgespoor. Twee keer.”

      ’n Vreemde vrou lig die rietflap by die deur op.

      “Is jy die ander passasier? Kan ons maar vertrek? Anders gaan ons nie betyds wees vir ons vlug in Johannesburg nie,” sê sy met ’n swaar Amerikaanse aksent.

      “Ek is nou daar,” sê hy.

      Uit die duffelsak oor sy skouer haal hy ’n fotoraam en gee dit vir Vasti. “Die kinderhuis het al sy besittings verkoop om te help betaal vir die begrafnis en sy laaste studieskuld, maar ek het gesê jy sal dit wil hê.”

      Sy kyk na die foto en hy sien hoe haar mond bewe. Hy wou nie die foto vir haar gee nie, hy wou nie hê sy moes enigiets hê wat haar aan Jacques kon herinner nie, maar sy gewete wou nie toelaat dat hy dit vernietig nie. En nou het sy die donnerse verlowingsfoto wat hy van haar en Jacques geneem het. Sy stralend in haar rooi rok. En Jacques? Hy lyk net verlig oor die versekeringspolis wat hy in Vasti gevind het.

      Die Amerikaanse vrou maak keel skoon buite die riethut. Hy moet gaan, maar hy gee ’n laaste kyk in Vasti se rigting. Sal sy regkom? Sy lyk so klein en broos in haar wit T-hemp.

      “Ek is jammer dat dit so moes gebeur, Vasti.”

      Hy sien hoe katrol sy haar argwaan in.

      “Dankie dat jy my ten minste kom sê het.”

      Môre, pas nadat sy terug is, sal sy na die begraafplaas gaan. Hy ken haar so. Maar die vars graf sal nog nie ’n naam op hê nie. Nie een van die nuwe grafte sal nie. Die kinderhuis se mense sal die skande help wegsteek. Die geheim sal vir nog ’n rukkie langer veilig wees.

      En sy sal vir nog ’n rukkie langer beskerm wees teen ontnugtering, troos hy homself terwyl hy hom van haar moet wegskeur.

      2

      Vasti voel Engela Dekker se oë op haar voordat sy vir dokter Peens vra: “En wie gaan by oom Pierre oorneem?”

      “Sy naam is Frits Spies,” sê die ou dokter en steek oudergewoonte ’n peperment in sy mond nadat hy sy koppie neergesit het.

      Frits? Is hy terug? Haastig sit Vasti ook haar koppie tee op die tafel neer. Haar hand bewe te veel, netnou laat val sy die koppie. Dan besef sy: Engela het op een of ander manier geweet hy kom.

      Dis elf maande sedert Vasti Frits laas gesien het, en tyd het die skerpte van haar ma en Jacques se dood afgevyl. Sy het so gehoop dieselfde sou gebeur met haar herinneringe aan Frits. Dit het nie. En nou is hy blykbaar terug en Jacques, die versperring wat sy tussen hulle twee opgerig het, is weg.

      Weer voel sy hoe Engela na haar kyk. Ken Engela met haar sensuele, wye mond vir Frits? Dis al asof sy iets weet wat Vasti nie weet nie.

      “Ek hoop nie hy is een van daardie dokters wat so belangrik is dat ’n mens hom nie eens op sy voornaam mag noem nie,” sê Engela liefies.

      Vasti weet sy verwys na haar. Sy verkies ’n professionele afstand met die verpleegpersoneel. En Engela hou daarvan om ’n knuppel in die hoenderhok te gooi en te kyk hoe die vere waai, probeer sy haar gebelgdheid

Скачать книгу