Die Profeet. Kahlil Gibran
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Profeet - Kahlil Gibran страница
DIE
PROFEET
deur
KAHLIL GIBRAN
In Afrikaans vertaal deur
LOUIS FOURIE
ADAMASTOR
DIE PROFEET
ALMUSTAFA, die uitverkorene en die geliefde, wat soos ’n daeraad vir sy dag was, het twaalf jaar lank in die stad van Orphalese op die skip gewag wat sou terugkeer om hom na die eiland van sy geboorte terug te voer.
En in die twaalfde jaar, op die sewende dag van Ielool, die maand van die oes, het hy die heuwel buitekant die stadsmure bestyg en seewaarts getuur; en hy gewaar sy skip wat met die mis aangeseil kom.
Toe is die deure van sy hart oopgegooi en sy vreugde het ver oor die see gevlieg. En hy het sy oë gesluit en daar was aanbidding in die stiltes van sy siel.
Maar terwyl hy van die heuwel afklim, het hy bedroef geword en in sy hart gedink:
Hoe sal ek in vrede vertrek en sonder verdriet? Nee, ek sal hierdie stad nie sonder ’n verwonde gees verlaat nie.
Lank was die dae van pyn wat ek binnekant sy mure deurgebring het en lank was die nagte van eensaamheid; en wie kan van sy pyn en sy eensaamheid afskeid neem sonder leedwese?
Te veel brokkies van die gees het ek in hierdie strate rondgestrooi en te menigvuldig is die kinders van my verlange wat nakend tussen hierdie heuwels rondloop en ek kan my nie van hulle onttrek sonder opoffering en smart nie.
Dit is nie ’n kledingstuk wat ek hierdie dag uittrek nie, maar ’n vel wat ek met my eie hande afskeur.
Ook is dit nie ’n gedagte wat ek agterlaat nie, maar ’n hart soet gemaak deur honger en deur dors.
Nogtans kan ek nie langer vertoef nie.
Die see wat alle dinge na haar toe roep, roep ook my en ek moet skeepgaan.
Want om te bly, al brand die ure in die nag, is om te vries en te kristalliseer en in ’n vorm vasgegiet te word.
Gewilliglik sou ek alles wat hier is met my wou saamneem. Maar hoe kan ek?
’n Stem kan nie die tong dra en die lippe wat daaraan vleuels gegee het nie. Allenig moet dit die eter binnegaan.
En allenig en sonder sy nes moet die arend voor die son vlie.
Toe hy die voet van die heuwel bereik het, draai hy weer na die see en hy sien dat sy skip die hawe nader en op haar voorstewe die seevaarders, manne van sy eie land.
En sy siel het na hulle uitgeroep en hy sê:
Seuns van my oue moeder, julle ruiters van die getye,
Hoe dikwels het julle my drome binnegevaar. En nou kom julle in my ontwaking, wat my diepere droom is.
Gereed is ek om te gaan en met siele gespan wag my gretigheid op die wind.
Nog net een asem wil ek in hierdie stille lug adem, nog net een liefdevolle blik na agter werp.
En dan sal ek tussen julle staan, ’n seevaarder tussen seevaarders.
En jy, ontsaglike see, slapende moeder,
Wat alleen vrede en vryheid vir rivier en stroom is,
Nog net een kronkeling sal hierdie stroom maak, nog net een gemurmel in hierdie bos,
En dan sal ek na jou toe kom, ’n grenslose druppel na ’n grenslose oseaan.
En terwyl hy loop, sien hy van ver af mans en vrouens wat hulle landerye en wingerde verlaat en na die hekke van die stad haas.
En hy hoor hulle stemme sy naam noem en van akker tot akker roep om mekaar te vertel van die koms van sy skip.
En hy sê vir homself:
Sal die dag van skeiding die dag van samekoms wees?
En sal dit gesê word dat my aand in werklikheid my môrestond was?
En wat sal ek aan hom gee wat sy ploeg in die middel van die voor gelos het, of aan hom wat die wiel van sy wynpers laat staan het?
Sal my hart ’n boom word, swaar belaai met vrugte, sodat ek kan pluk en aan hulle kan uitdeel?
En sal my begeertes soos ’n fontein vloei sodat ek hulle bekers kan volmaak?
Is ek ’n harp dat die hand van die Almagtige my kan aanraak, of ’n fluit dat sy asem deur my kan gaan?
Net maar ’n soeker na stiltes is ek, en watter skatte het ek in stilte ontdek wat ek met vertroue kan uitdeel?
As hierdie die dag van my oes is, in watter landerye het ek die saad gesaai en in welke vergete jaargetye?
As hierdie inderdaad die uur is waarin ek my lantern moet ophef, is dit nogtans nie my vlam wat daarin sal brand nie.
Leeg en donker sal ek my lantern omhoog hou,
En die bewaker van die nag sal dit met olie vul en hy sal dit ook laat ontvlam.
Hierdie gedagtes het hy in woorde gestel. Maar ’n groot deel van sy hart het onuitgesproke gebly. Want selfs hy kon sy diepere geheim nie uitspreek nie.
En toe hy die stad binnegaan, kom al die mense hom tegemoet en roep na hom soos met een stem.
En die ouderlinge van die stad het na vore getree en gesê:
Moet ons nie nou al verlaat nie.
’n Middaguur het jy in ons skemering vertoef en jou jeug het ons drome gegee om te droom.
Geen vreemdeling is jy onder ons nie, nog minder ’n gas, maar ons seun en ons teerbeminde.
Moenie toelaat dat ons oë nou al na jou gesig hunker nie.
En die priesters en priesteresse spreek hom aan:
Moenie dat die golwe van die see ons nou skei en die jare wat jy in ons midde deurgebring het slegs ’n herinnering word nie.
Jy het as ’n gees tussen ons gewandel en jou skaduwee was ’n lig op ons gesigte.
Groot was ons liefde vir jou. Maar ons liefde was stom en met sluiers gesluier.
Maar op hierdie oomblik roep dit luid tot jou en verlang om aan jou geopenbaar te word.
Immer was dit maar so dat die liefde nie sy eie dieptes ken tot die uur van skeiding nie.
En ander het ook by hom kom soebat. Maar hy het hulle nie geantwoord nie. Hy het slegs die hoof gebuig; en die wat naby staan het gesien hoe sy trane op sy bors val.