Die Profeet. Kahlil Gibran
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Profeet - Kahlil Gibran страница 3
En al is hulle by julle behoort hulle nie aan julle nie.
Julle mag hulle julle liefde gee, maar nie julle gedagtes nie,
Want hulle het hul eie gedagtes.
Julle mag hulle liggame huisves, maar nie hulle siele nie,
Want hulle siele woon in die huis van môre wat julle nie kan besoek nie, nie eens in julle drome nie.
Julle mag strewe om soos hulle te wees, maar moenie probeer om hulle soos julle te maak nie.
Want die lewe beweeg nie agteruit nie, nog minder vertoef dit met die dag van gister.
Julle is die boë waaruit julle kinders soos lewende pyle geskiet word.
Die boogskutter sien die doelwit op die pad van die oneindigheid, en Hy buig julle met Sy mag opdat Sy pyle vinnig en ver mag trek.
Laat julle tot blydskap in die hand van die Boogskutter gebuig word;
Want, net soos Hy die pyl wat vlie liefhet, so het Hy ook die boog lief wat bestendig is.
TOE het ’n ryk man gesê, Praat met ons van Gee.
En hy antwoord:
Wanneer jy van jou besittings gee, gee jy maar min.
Dit is wanneer jy van jouself gee dat jy werklik gee.
Want wat is jou besittings anders as goed wat jy behou en oppas uit vrees dat jy dit môre mag nodig kry?
En môre, wat sal môre aan die oorversigtige hond bring wat bene in die spoorlose sand begrawe terwyl hy die pelgrims na die heilige stad volg?
En wat is die vrees vir gebrek anders as gebrek self?
Is die vrees vir dors wanneer jou put vol is nie die onlesbare dors nie?
Daar is diegene wat min gee uit hulle oorvloed – en hulle gee dit ter wille van erkenning en hul verborge begeerte maak hulle gawes skadelik.
En daar is diegene wat min besit en dit alles gee.
Dit is hulle wat aan die lewe en die milddadigheid van die lewe glo en hulle koffers is nooit leeg nie.
Daar is diegene wat met vreugde gee en daardie vreugde is hulle beloning.
En daar is hulle vir wie dit seermaak as hulle gee en hulle word deur daardie pyn gedoop.
En daar is diegene wat gee sonder dat dit hulle seermaak, maar wat ook nie vreugde soek nie en gee sonder om gedagtig te wees aan deugde;
Hulle gee soos die mirte wat in die vallei daaronder haar geurigheid in die lugruim uitasem.
Deur die hande van sulke gewers spreek God en deur hulle oë glimlag Hy met die aarde.
Dit is goed om te gee wanneer jy gevra word, maar dit is nog beter om ongevraagd te gee, omdat jy begryp;
En aan die vrygewige is die soektog na iemand wat sal ontvang ’n vreugde groter as die van gee.
En is daar iets wat jy wil terughou?
Alles wat jy het sal eendag gegee word;
Gee derhalwe nou, sodat die seisoen van gee joune mag wees en nie die van jou erfgename nie.
Jy verklaar dikwels: “Ek sal gee, maar slegs aan die verdienstelikes.”
Die bome in jou vrugteboord sê nie so nie en ook nie die kudde in jou weivelde nie.
Hulle gee sodat hulle kan lewe, want om terug te hou, is om te sterwe.
Waarlik, hy wat dit waardig is om sy dae en sy nagte te ontvang is enigiets werd wat jy in staat is om te gee.
En hy wat verdien het om van die lewensee te drink, verdien om sy beker uit jou klein stroompie te vul.
En watter groter verdienste kan daar wees as dié wat bestaan in die moed en die vertroue, nee – die welwillendheid, om te ontvang?
En wie is jy dat mense hulle boesem moet ontbloot en hulle eergevoel moet prysgee sodat jy hulle waarde nakend en hulle eergevoel onbeskaamd kan sien?
Maak eers seker dat jy persoonlik werd is om ’n gewer te wees en ’n instrument van gawe.
Want in werklikheid is dit lewe wat aan lewe gee – terwyl jy wat jouself ’n gewer ag, slegs maar ’n getuie is.
En julle wat ontvang – en julle is almal ontvangers – moenie ’n las van dankbaarheid op julleself neem nie, opdat julle nie ’n juk op julleself en op hom wat gee, lê nie.
Word liewer saam met die gewer op sy gawes opgehef asof met vleuels;
Want om oorgedagtig te wees aan jou skuld is om te twyfel aan die vrygewigheid van hom wat die mildhartige aarde as moeder en God as vader het.
HIERNA het ’n ou man, ’n herbergier, gesê, Praat met ons oor Eet en Drink.
En hy sê:
Kon julle maar van die welriekendheid van die aarde lewe en soos ’n lugplant deur die lig onderhou word.
Maar aangesien julle moet doodmaak om te eet en die pasgeborene van sy moedersmelk moet berowe om julle dors te les, laat dit dan ’n daad van aanbidding wees.
En laat julle maaltyd op ’n altaar staan waarop die reine en die onskuldige van bos en vlakte geoffer word ter wille van wat reiner en nog meer onskuldig in die mens is.
Wanneer jy ’n dier doodmaak, sê aan hom in jou hart:
“Deur dieselfde mag wat jou lewe neem, word my lewe ook geneem; en ook ek sal verteer word.
“Want die wet wat jou in my hand oorgelewer het, sal my in ’n magtiger hand oorlewer.
“Jou bloed en my bloed is niks anders as die sap wat die boom van die hemele voed nie.”
En wanneer jy ’n appel met jou tande fynmaal, sê met jou hart daaraan:
“Jou saad sal in my liggaam lewe,
“En die bloeisels van jou môre sal in my hart blom,
“En jou geurigheid sal my asem wees,
“En saam sal ons deur al die jaargetye ons verheug.”
En in die herfs, wanneer jy die druiwe van jou wingerd vir die parskuip pluk, sê in jou hart:
“Ook ek is ’n wingerd, en my vrug sal vir die wynpers afgepluk word,
“En soos nuwe wyn sal ek in ewige vate gehou word.”
En in die winter, wanneer jy die wyn skep, laat daar in jou hart vir elke beker ’n lied wees;