Wysheid. Benescke Janse van Rensburg
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wysheid - Benescke Janse van Rensburg страница 6
5 Lees Spreuke 5:22–23. Wat is die gevolge van die oortreding van ’n goddelose en iemand wat aanhou om ontrou te wees in ’n huwelik of ’n losbandige lewe te lei?
6 Watter teksverse het vir jou in Hoofstuk 5 uitgestaan? Hoekom?
6 Sewe dinge wat God haat
Spreuke 6
1As jy vir iemand borg gestaan het, my seun, as jy jou verbind het vir ’n ander, 2verstrik geraak het deur wat jy gesê het en vasgevang is deur jou eie woorde, 3doen dan dít, my seun, en red jouself só as jy in ’n ander se mag beland het: gaan soebat hom, gaan pleit by hom; 4moenie gaan slaap nie, bly wakker, 5red jou uit sy mag soos ’n wildsbok uit ’n strik, soos ’n voëltjie uit die net van ’n voëlvanger. 6Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. 7Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, 8tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. 9Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan? 10Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie handevou en bly lê, 11en daar oorval die armoede jou soos ’n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos ’n inbreker. 12Dit is ’n nikswerd mens, ’n mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, 13om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee, 14wat altyd met ’n skelmstreek kom en voortdurend op kwaad uit is. Hy maak moeilikheid waar hy gaan. 15So ’n mens se ondergang kom skielik; hy stort ineen, en daar is nie herstel nie. 16Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het: 17oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, 18gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, 19’n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers. 20My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer, moet jy nie in die wind slaan nie. 21Dit moet jou altyd bybly, daarmee moet jy saamleef; 22dit sal vir jou leiding gee in wat jy doen, dit sal jou beskerm as jy slaap en jou lei sodra jy wakker word. 23Wat ek jou voorskryf, is ’n lamp, my onderrig is ’n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe. 24My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van ’n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei. 25Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie. 26Jy kan ’n prostituut kry vir ’n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos. 27Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? 28Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? 29Net so min kan jy by ’n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie. 30’n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil, 31en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit. 32Maar ’n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. 33Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie. 34Die woede van die vrou se man is ’n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie; 35hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.
Dink vir ’n oomblik terug aan daardie eerste liefde in jou lewe. Kan jy die vlinders in jou maag onthou? Of hoe jou hart skielik gebokspring het as jy daardie spesiale persoon tussen ’n skare mense gewaar het? Jy sou baie moeite doen om uit te vind waarvan daardie persoon hou en wat hy of sy verafsku, nie waar nie? Só sou jy immers kon verseker dat ’n glimlag op sy of haar gesig verskyn.
Ons staan ook in ’n liefdesverhouding met God. Hy wil ons eerste liefde wees. Maar ken jy sy hart? Weet jy waarvan Hy hou en wat Hy verafsku? In Spreuke 6:16 skryf Salomo: “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het …”
Hier is die dinge wat God verafsku:
Een: oë wat straal van hoogmoed
Jakobus 4:6: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”
Wees vir ’n oomblik eerlik met jouself. Vergelyk jy soms jou motor, jou huis, jou skoonheid of selfs jou intellek met jou buurman of -vrou of jou kollega by die werk s’n terwyl jy dan trots voel op jouself? Besef jy dat alles wat jy het, genade uit God se hand is?
Twee: ’n tong wat lieg
Psalm 34:13: “As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.”
Praat jy altyd die waarheid – selfs al kan dit jou benadeel? Onthou, ’n witleuentjie bly ’n leuen.
Drie: hande wat met bloed bevlek is
Eksodus 20:13: “Jy mag nie moord pleeg nie.”
Pleeg jy karaktermoord deur skinderstories oor jou vyand te help versprei? Of kies jy om doelbewus ’n skinderstorie in iets positiefs en opbouends oor die persoon te verander?
Vier: gedagtes wat met komplotte besig is
Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Maak jy planne om wraak te neem teen jou vyand of vertrou jy dat God namens jou die oordeel sal vel?
Vyf: voete wat net een koers ken, dié van die kwaad
Psalm 119:105: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
Wandel jy in God se lig of is daar ’n paar “duistere stegies” waarin jy soms in die geheim gaan draai?
Ses: ’n getuie wat lieg
1 Petrus 3:10: “As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.”
Praat jy te alle tye en in elke situasie die waarheid?
Sewe: iemand wat rusie tussen broers stook
Hebreërs 12:14: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”
Soek jy doelbewus na maniere om vrede in jou werkplek, jou huisgesin, jou huwelik of jou kerk te bevorder, of is jy die een wat eerste die foute raaksien en kritiek lewer?
Onthou, God begeer ’n liefdesverhouding met jou. Wat doen jy vandag daaromtrent?
Gebed
Vader God, baie dankie dat ek U beter kan leer ken deur u Woord. Maak my bewus van tye wanneer hoogmoed in my hart kom, help my om ’n wag voor my mond te plaas en net die waarheid te praat en help my om altyd daarna te streef om u pad te volg terwyl ek in liefde teenoor die mense rondom my optree. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Besprekingsvrae
1 In Spreuke 6:16 lees ons van die sewe dinge wat God haat. Hoe lyk jou lewe rondom hierdie sake? Is daar een aspek waaraan jy moet werk? Hoe doen jy dit?
2 Lees Spreuke 6:1–5, 17:18, 22:26–27 en 27:13. Waarom is dit vir God belangrik dat ons nie vir ’n ander sal borgstaan nie? Wat moet jy doen as jy dit wel gedoen het?
3 In Spreuke 6:6–9 en 26:15–16 word ons aangemoedig om na die mier te gaan kyk en by hom te leer. Waarom is dit belangrik om vooruit te beplan in ons lewens? Wat is die gevolge vir ’n lui mens? Wat