Bybelboodskappe. Jan Hulme
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme страница 11
11 Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, binne ’n oomblik, in ’n oogknip, onverganklik uit die dood opgewek word, daarna sal ons wat dan nog lewe en in Christus is, verander word. Almal sal saam weggevoer word ons Verlosser tegemoet. Ons sal Hom dadelik herken en saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel (Kol 3:4). Ons word uitgenooi na die bruilofsmaal van die Lam, wat hierná volg (Op 19:9) en ontvang sy oorwinnaarskroon en lewe dan vir altyd by God (2 Tim 4:8).
12 Volgens 2 Korintiërs 5:10 moet ons almal voor die regterstoel van Christus verskyn, maar ons wie se name in die boek van die lewe geskryf is, sal net daar wees om ons loon te ontvang volgens wat ons tydens ons aardse lewe gedoen het (Op 22:12). Ons hoef geen vrees te hê vir die oordeelsdag nie, want ons het volmaakte liefde ontvang deur die Heilige Gees in God die Vader, wat in ons bly deur die toedoen van Jesus Christus, ons Verlosser. Jesus het deur sy bloed aan die kruishout vir ons sondes betaal en ons is dus volkome gereinig. Jesus is ons voorspraak by God, sodat ons saam met Hom erfgename kan wees van God se koninkryk (Rom 8:17).
13 So kom die skeiding tussen gelowiges en ongelowiges: die skape wat van die bokke geskei word. Die ongelowiges, wat agterbly, word eers na 1 000 jaar opgewek. Nadat die Satan ’n kort tydjie vrygelaat is en verwoesting gesaai het, word hulle wat nie in Christus gesterf het nie, opgewek. En hulle wat nog lewe en ook nie Christus in hulle lewe aangeneem het nie, verskyn dan saam voor God se groot wit troon om hulle skrikwekkende straf te ontvang. Hierdie mense is die antichris en sy volgelinge wat bekend staan as “die wettelose mens” wat vir die verderf bestem is. Dit is dié wat op die bed agtergebly het en die een vrou wat by die meule agtergebly het, wat dwaalleringe aanvaar het en wat nie die liefde van die waarheid aanvaar het nie (2 Tess 2:11).
14 Hulle wat hulle buite die nou poort sal bevind is die dwaalleraars, die bedrieërs, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen, hulle is op pad na die breë poort van verderf. Hulle sal volgens hul slegte dade veroordeel word (Op 22:15). Hulle sal vir altyd geban word uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag (2 Tess 1:9–10).
15 Volgens 1 Tessalonisense 5:23 is Paulus se groet aan alle medegelowiges: “Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees, wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.” My gebed is dat jy wat hierdie woorde lees of dit hoor, ernstig sal bid vir verlore gaande mense sodat hulle betyds tot inkeer sal kom en Jesus ons Saligmaker sal aanneem. Onthou dat ons lewe maar soos ’n wolk is wat verby trek, vandag sien jy hom, maar môre is hy nie meer daar nie. Wanneer ons sterf, is dit vir ewig te laat om gered te word. En tog sal dit die gevolg wees van my en jou eie wilsbesluit.
16 Mense wat dink dat hulle en hulle nageslag met al hul aardse besittings watvan geslag tot geslag oorgedra word, vir ewig op hierdie aarde gaan voortbestaan, maak ’n baie groot fout. In Hebreërs 12:26–27 sê die Here duidelik dat Hy die aarde en die hemel nog een maal gaan laat bewe. Hierdie woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat slegs die ewige, onwankelbare dinge kan bly.
17 By die oordeelsdag – nie die wederkoms van Christus nie – sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame verbrand tot niet en die aarde met alles wat daarop is, vergaan (2 Pet 3:10). Vers 13 dui vir ons aan dat daar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gaan wees, waar God vir ewig by sy aangenome kinders teenwoordig gaan wees.
|
Boodskap 8 Ambassadeur vir die koninkryk van God |
Skrifgedeelte
Johannes 3:3
Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
2 Korintiërs 5:20
Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!
Preekskema
Ambassadeurs van die wêreld
1 Dit is ’n erkende gebruik dat volke van die wêreld hul eie ambassadeurs in ander lande stasioneer om hul eie land se mense daar te verteenwoordig. Die persoon oorhandig sy of haar geloofsbriewe aan die uitvoerende hoof (bv die president) van daardie land, wat ’n amptelike verwelkoming rig en die briewe aanvaar. Die ambassadeur tree met sekere gedelegeerde magte namens sy land op en dra die goeie beeld van sy nasie uit. Hoewel hy of sy by die nuwe volk inskakel en in hul leefwyse deel, behou hy of sy hul eie identiteit en is gevrywaar van sekere vorme van vervolging. Die ambassadeur kommunikeer gereeld met sy of haar regering en hou hulle op die hoogte van sake wat die vaderland raak.
2 Voordat iemand na sy land kan emigreer, moet die ambassadeur as gesant van sy land, die aansoeker se aansoekvorms en dokumente nagaan en as dit aanvaarbaar is, dit goedkeur deur sy rubberstempels daarop aan te bring.
Jesus, ambassadeur van God se koninkryk
1 Jesus was ook die ambassadeur van God se heilige koninkryk hier op aarde. God se koninkryk is alomteenwoordig, en is volgens Lukas 17:21 hier by ons. Jesus het sy opdragte van God ontvang (Joh 10:18). Jesus het persoonlik met God gekommunikeer deur gebed en God het Jesus bygestaan deur die Heilige Gees en engele.
2 Jesus het die mensdom kom inlig wat aangaan in God se wonderlike koninkryk, waaraan geen vlees of bloed kan deel kry nie (1 Kor 15:50), maar volgens vers 51 moet ons verganklike liggame verander en beklee word met onverganklikheid en in onsterflike liggame verander word as ons gelowiges daarheen wil emigreer.
3 God se koninkryk is allerheilig en daarom kan geen onreine en sondebesoedelde wese daar aanvaar word as immigrant nie (Op 21:27). Jesus het bevestig dat daar ook ander wesens in sy koninkryk is na wie Hy moet omsien.
Ons is almal in sonde gebore, maar God het vir ons ’n verlossingsplan
1 Die nasies van hierdie wêreld is almal in sonde gebore en daarom was en is niemand geskik om na God se heiligdom te immigreer nie. Volgens 2 Petrus 3:13 gaan daar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde kom. Die huidige aarde is broos en wankelbaar en gaan weggeneem word. Ons verblyf hier is net tydelik (Heb 12:26–28).
2 Daar is egter twee koninkryke en alle mense moet ’n keuse maak vir een van die twee. Ons het reeds daarna verwys dat Jesus die ambassadeur is van God se koninkryk van die lig. Daar is egter ook die koninkryk van die duister waarvan Satan die prins en ambassadeur is.
3 Ons hele lewe bestaan uit die maak van keuses. Sommige van ons keuses was goed en ons sal weer só kies as ons weer die geleentheid sou kry. Ander keuses was nie so goed nie en as ons die geleentheid sou kon kry, sou ons die keuses wou verander. Die grootste keuse wat ons tydens ons tydelike leeftyd op aarde moet maak, is om te besluit na watter een van die twee koninkryke ons wil emigreer vir ons ewige lewe in die hiernamaals (Joh 3:19–20). Ongelukkig kan die keuse ook nie uitgestel word nie, want ons lewe is soos ’n wolk wat verbytrek. Vandag sien jy hom, maar môre is dit nie meer daar nie.
4 Die