Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit страница 29

Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit

Скачать книгу

het my nie mooi verstaan nie, meneer Malan. Ek sal alle verantwoordelikheid vir Paul se vrou aanvaar. Sy kan vanselfsprekend nie hier bly nie. Ek sal haar na ’n plek toe neem waar sy goed versorg sal word. Ek sal haar dadelik neem – dit sal lyk of sy maar net weer universiteit toe gaan. En volgende jaar hervat sy haar kursus in alle erns.”

      “En dan?”

      “Dit moet die tyd ons leer. Debbie kan vir Paul wag. Dis nie so baie lank nie. Nog vyf jaar, dan kan hulle weer begin. Maar soos ek gesê het, moet hulle natuurlik self kies. As hulle verkies om hulle eie paadjie in te slaan moet hulle self sien kom klaar. As hulle my voorstel aanvaar, sal ek hulle help, soveel as wat ek kan.”

      Debbie sit langs haar ma by die tafel. Sy is strak en haar hande rus styf inmekaargeklem in haar skoot. Miem Malan het met een hand haar oë bedek, die ander het sy op Debbie se hande geplaas. Sy sit roerloos. Dit lyk of sy bid.

      Pieter Malan sit nog stroef en ontevrede, sy hande op sy knieë, maar daar is tog verligting op sy gesig te bespeur. Tina hou haar oë op haar hande, wat sy gevou op haar skoot hou. Hulle moet Chris se voorstel aanvaar, hulle moet. As hulle eenmaal weg is van mekaar sal die res maklik wees.

      Paul is bleek en die spiertjie trek al weer langs sy mond. Debbie kyk na hom, maar hy hou sy oë op die vloer.

      Hier is geen simpatie vir haar nie, geen liefde nie, dink Debbie. Net haar ma begryp. Haar pa wil ten alle koste van haar ontslae raak, al breek dit ook haar ma se hart. Die Hugo’s skerm net vir Paul. Paul se ma is haar bitter vyandiggesind. Is dit hoe Paul se Tina is – afsydig en hard en koud? Het sy Paul ook teen haar opgesteek? Dink sy eerlik dat dit net ’n storie is, dat ek my verniet so verneder? In haar binneste besef sy al meer hoe haglik haar posisie is. Sy voel sy word in ’n hoek gedryf.

      Uiteindelik kyk Paul na Debbie. Hy is verleë, maar sy sien die verligting op sy gesig. Hy sien die vraag in haar oë. Moet hy dan besluit? Vir hom staan die deur nou wawyd oop. Maar vir haar? Wat wil sy hê? As hy tog maar net haar gedagtes kan peil.

      Debbie sien hoe Paul weifel. Sy sien hy wag vir haar om te praat. En dis vir haar of daar nog ’n deur in haar gesig toegeklap word. Sy sou bereid wees om enige swaarkry saam met Paul te verduur. Maar sy sien nou dis sy wat in die pad is. Dis sy wat verleë is. Dis nie die man nie, dis altyd die vrou. Is dit wat liefde is? Liefde moet opbou, versterk en vertroos. Dit is ware liefde. Maar liefde wat verskeur en seermaak, wat verneder, verwoes en vergruis, so ’n liefde moet ’n vrou uit haar hart ruk en vernietig voor dit háár vernietig. Trou? Waarom moet sy trou? ’n Mens trou net omdat jy mekaar liefhet, omdat jy wil saam wees en saam wil swaarkry, miskien ’n kind saam wil grootmaak. Sy en Paul moet trou om hulle skande te verberg. Soos ’n misdadiger moet sy padgee onder die oë van haar medemens uit, alleen in skande en verdriet haar kind kry en dan, asof daar niks gebeur het nie, weer haar plek in die samelewing inneem. Waarom moet sy trou? As sy soos ’n misdadiger behandel word, laat haar dan ’n misdadiger wees. Sy het ’n wet van die samelewing oortree en sy sal alleen daarvoor boet. Sy wil nie nog ’n meulsteen om Paul Hugo se nek ook wees nie. Sy wil niks verder met hom te doen hê nie. Sy hoor Paul praat, maar sy stem klink veraf en dof.

      “Ek weet nie hoe Debbie voel nie. Ek wil graag eers met haar praat.”

      “Ek dink Deborah sal seker instem met jou pa se voorstel, Paul,” sê Tina Hugo. Haar stem is soet en strelend, maar Debbie weet dis maar net om die haat en venyn wat sy vir haar voel te verbloem. “Dis sekerlik die beste; dis nie dikwels dat ’n mens gelukkig genoeg is om ’n tweede kans te kry nie. Deborah sal tog nie in jou pad staan nie, Paul. Sy kry die beskerming van jou naam en jou pa sal vir haar sorg. En vyf jaar is nie so vreeslik lank nie.”

      Paul skuif ongemaklik op sy stoel rond. Hy wens Tina wil stilbly, sy ontstel Debbie net nog meer. Maar voor hy iets kan sê, praat Debbie. “Ek wil nie meer met Paul trou nie.”

      “Deborah!” sê Pieter Malan skerp, asof hy haar uit ’n droom wil wakker skud.

      Debbie staan op. “Ek gaan nie met Paul Hugo trou nie.”

      In die stilte wat volg, sê die dokter sag: “Waarom nie, Deborah?”

      “Waarom moet ek met hom trou as ons nie gaan saamwoon nie? As ons nie die baba kan behou nie?”

      “Deborah!” Dis haar pa se stem. Streng. Ontevrede. “Dis nie vir jou om te kies nie. Jy moet die dokter se aanbod met dankbaarheid aanvaar.”

      Daar is haat vir haar pa in haar oë. “Dankbaarheid? Waarvoor? Omdat hulle my soos ’n misdadiger wil versteek sodat hulle seun, hulle naam, nie ’n klad op kry of besoedel word nie? Waarvoor moet ek dankbaar wees?”

      “Debbie!” Paul Hugo staan voor haar. “Dis nie wat ek dink nie. Dis nie my idee nie. Ek wil met jou trou, jou oppas en beskerm. Maar ek het gedink dis ’n goeie plan. Ek het jou al soveel kwaad aangedoen. Ek wil net doen wat vir jou die beste is. Maar as jy bereid is om met my te trou en saam met my swaar te kry, sal ek alles opoffer.”

      Dit is ’n swaar oomblik vir Deborah. Die versoeking is groot. ’n Vlugtige oomblik wonder sy of hul liefde nie miskien nog gered kan word nie, maar Paul se laaste woorde bring haar tot besinning. Sy wil nie hê Paul moet enige opofferings vir haar maak nie. Al het hy haar nou nog lief, sal dié liefde nie lank duur nie. Haar oë het skielik oopgegaan. Sy besef nou dat bitterheid, selfs verwyte, die onvermydelike gevolg van so ’n gedwonge huwelik sal wees, dat die dag miskien gou sal kom dat Paul met haat na haar sal kyk omdat sy hom van soveel beroof het.

      Nee, daar is net een uitweg.

      Sy skud haar kop.

      “Nee, Paul. Ek wil nie jou opofferings hê nie. Gaan maar jou gang. Ek sal nie in die pad staan van jou geluk en sukses in die toekoms nie.”

      Paul kyk haar verslae aan. Moet hy haar glo? “Debbie,” sê hy sag, ongelowig. “Het jy my nie lief nie?”

      Daar is pyn in sy oë. Vir ’n minuut sluit sy haar eie oë. Sy kan nie meer nie. Hulle moet nou gou maak. Moeg sê sy: “Nee, Paul, ek het jou nie lief nie. Op die oomblik is ek gevoelloos, dood. Later, as ek weer eendag begin voel, sal ek jou seker haat en verag – soos ek myself haat en verag. Nou wens ek net jy wil weggaan, ver weg, sodat ek jou nooit weer sien nie.”

      Daar heers stilte, ’n doodse stilte. Paul se gesig is strak en sonder kleur. “Debbie,” sê hy ongelowig.

      Maar sy antwoord hom nie.

      “As ek dan mag vra, wat is jy van plan om te doen, Deborah? Verwag jy dat ek jou in dié toestand hier by my in die huis moet hou?” Haar pa is woedend. Maar dit raak haar nie.

      “Nee, ek verwag dit nie.”

      “Waarnatoe sal jy gaan?”

      “Ek sal wel ’n plek kry. Daar is tog inrigtings wat meisies soos ek inneem.”

      “Deborah!”

      Dis ’n uitroep van pyn van haar ma. Die dokter sien dat die jong meisie breekpunt bereik het. Hulle het wreed opgetree, besef hy. Hulle het haar onderskat. Hy moes versigtiger gewees het. Eers met die meisie alleen gepraat het. Hulle het haar beledig en verneder. Tina moes nooit saamgekom het nie. Dis hy wat na haar toe gaan en sy arm om haar sit. Sy mooi, diep stem is kalm en gerusstellend. “Moenie so praat nie, Deborah. Jy weet ons sal na jou kyk. Ons sal nie vandag verder daaroor praat nie, maar ons sal na jou kyk en by jou staan.”

      Hy beduie vir Deborah se moeder om haar kamer toe te neem

Скачать книгу