Leeus met letsels. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Leeus met letsels - Fanie Viljoen страница 2
“Zulu!” hoor hy nog Jonathan se stem in sy ore.
“What are you doing here, Zulu? Why don’t you go live with your people?”
Your people. Jou mense.
Hierdie ís sy huis. Hy ken nie ’n ander plek nie.
Vies verander Buyi die TV-kanaal en staan op om die pizza te gaan haal.
Maar tog weet hy dis nie net Jonathan se woorde wat hom vandag so pla nie. Daar is iets anders: vanoggend se haastige gesprek tussen hom en sy ma.
“Ons moet praat,” het sy gesê.
“Nie nou nie, ek’s laat.”
“Dis belangrik, Buyi.”
“Ma!”
“Vanaand dan. Wanneer ek terugkom van die werk af.”
Hy weet iets pla haar ook. Dit gaan nou al vir meer as ’n maand so aan. Hy wou haar nie daaroor vra nie. Hy het geweet sy ma sou hom vertel wanneer sy gereed is.
Moeilikheid, sê ’n stem in sy agterkop.
Daar is moeilikheid aan die broei. En dit is nie iets wat ’n mens sommerso buite kan laat nie. Die moeilikheid is reeds binne die woonstel.
2
BUYI SE MA sug toe sy by die voordeur instap. Donker merke kring onder haar oë en haar gesig is bleker as gewoonlik. Haar blonde hare is deurmekaar en haar klere is gekreukel. Inkopiesakke beur aan een hand en ’n pizzaboks hang skeef in die ander.
Sy probeer die deur oophou met haar voet.
“Moenie net daar lê nie, Buyi, kom help my,” sê sy met haar verfynde Engelse stemtoon.
“Wat? Al weer pizza?” kla Buyi toe hy van die bank af opstaan. “Ons het gisteraand ook gehad.”
“Ek is gedaan. Ek gaan nie kosmaak nie. Jy is in elk geval mal oor pizza.”
“Ja, maar nie elke liewe dag nie.” Hy laat val die boks op die kombuistoonbank en help sy ma met die sakke.
“Jy kon ’n bietjie hier skoongemaak het,” sê sy toe sy die laaste sak neersit.
Buyi kyk na die vuil borde op die toonbank, die oorvol vullisblik. Die res van die woonstel lyk ook nie veel beter nie.
“Ek is ook moeg. Dis Vrydag. Wie werk nou op ’n Vrydagaand?”
“Wil jy hê die rotte en kakkerlakke moet ons wegdra?”
“Ag, Ma kan mos môre skoonmaak.”
“Ek werk môre!”
“Sondag dan.”
Sy ma sug weer en vee oor haar gesig. Toe sy haar hande langs haar sye laat val, is daar skielik trane in haar oë. Sy vee hulle nie af nie, maar leun net aan teen die toonbank. “Jy maak die lewe ook nie makliker vir my nie, weet jy, Buyi?”
“Dis net vuilgoed, Ma, niks om oor te stres nie.”
“Nee, dis meer as dit, Buyi. Jy help nie in die huis nie. Ek sukkel om kos op die tafel te hou, ’n dak oor ons koppe.”
Hy rol sy oë, maar sy gaan aan.
“Weet jy hoe moeg is ek al daarvoor? Maar ek sien nou ek het die regte besluit geneem.”
“Watse besluit?” Die vrees is dadelik terug. Hy het sy ma al vantevore moeg gesien, maar nou is dit anders. Hierdie klank in haar stem het hy nog nie voorheen gehoor nie. Dis amper asof sy moed opgegee het. Asof sy soos ’n vasgekeerde dier uit ’n hok probeer ontsnap.
“Ek wou jou vanoggend vertel, maar jy was so haastig. Ek het dit toe maar laat gaan. Ek het gedink, laat ek weer vandag oor die hele ding dink. Dan sal ek besluit.”
Sy ma draai weg. Die trane stroom nou oor haar gesig. Haar skouers ruk. Buyi wil sy arms om haar sit, maar hy kan nie. Dis asof daar ’n muur tussen hulle is.
“Jy weet ek neem nie sommer net besluite nie. Ek oordink alles goed . . . En hierdie keer was dit nie maklik nie. Dis seker die moeilikste besluit wat ek nog ooit geneem het.”
“Ma?” fluister hy.
“Die ding wat vandag by die skool gebeur het, het alles bevestig. Dit was amper soos ’n teken.”
“So, Ma het daarvan uitgevind?”
“Die skool het my gebel, Buyi.” Sy ma vee die trane weg. Haar gesig is steeds hartseer. “Mevrou Fletcher het my vertel van die geveg. Dit was blykbaar nie jou eerste nie. Mevrou Fletcher sê sy het genoeg gehad. En ek weet nou die tyd het uiteindelik aangebreek . . .”
Wat gaan hier aan? wonder hy, koud van angs.
“Buyi, ek kan nie meer twee mense aan die lewe hou met my klein salaris nie. Ek het probeer, jy weet dit.”
Sy ma word skielik stil. Buyi kan voel hoe die wêreld om hom begin draai. Dinge is besig om te verander, hy weet dit. Hier is die ding nou, die skadu wat hom so agtervolg het. Uiteindelik gaan dit sy gesig wys.
“Jy is nou veertien,” sê sy ma sag. “Dit is tyd dat jy jou pa ontmoet. Themba. Ek het hom al ’n paar keer die afgelope maand gebel. Ek het hom vertel van ons finansiële probleme. Ons het alles deurgepraat . . .”
“Ma?”
“Wag nou, Buyi, laat ek klaarmaak. Ek weet hy was nie daar vir jou die afgelope jare nie. Maar dit gaan nou verander. Hy . . . hy het ingestem om van nou af na jou om te sien.”
“Wat?” roep Buyi uit. Angs bewe in sy stem.
Sy ma knik haar kop. “Jy gaan by jou pa in Suid-Afrika bly.”
3
VIR DAE NÁ hulle gesprek kan Buyi nie slaap nie. Sy ma se woorde bly by hom spook: “Jy gaan by jou pa in Suid-Afrika bly.”
Sy maag draai elke keer as hy net daaraan dink. Afrika? Waar de hel is Afrika in elk geval? Hoekom moet hy Afrika toe gaan? Net omdat hy in ’n vuisgeveg was? Omdat hy anders is?
Buyi het probeer om uit die ding te kom, maar sy ma het klaar alles netjies deurdink.
“Jy weet hoe lief ek vir jou is, Buyi, maar dit sal die beste wees vir albei van ons. As dinge beter word, kan ons weer daaroor gesels. Buitendien, jy sal mos daarvan hou om jou pa te leer ken, of hoe?”
Hy weet regtig nie of hy wil nie. Sy ma het oor die jare so een of twee keer al van die man gepraat, maar hy het hom nooit eintlik daaraan gesteur nie. Waar was sy pa al die tyd? Hy gee nie vir hom wat Buyi is om nie, anders sou hy mos gebel of e-posse gestuur het. Dis nou as hulle ooit rekenaars het in Afrika.
Hy het nooit gevra vir foto’s van Buyi