Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit страница 28
Sy het dikwels die gevoel gekry dat sy van haar pasiënte afskeep bloot omdat ander, meer dringende gevalle haar tyd opeis. Dit was weliswaar ’n besonder besige maand. Selfs in normale omstandighede sou sy en Hugo hulle hande vol gehad het om die uitgestrekte praktyk alleen te behartig. Met die kwaai griepepidemie en die ander siektes wat die skielike koue weer meegebring het, het dit feitlik ’n saak van onmoontlikheid geword.
Maar dit was slegs tydelik. Oor tien dae is Isak Roux terug en dan sal dit heelwat makliker gaan. As dit van haar afgehang het, sou sy verkies het om ’n tydjie langer saam met hulle te werk.
Maar sy moes ook aan die moontlikheid dink dat sy ná Juniemaand sonder werk kan wees en dit was in daardie lig dat sy dokter Silbur se aanbod oorweeg het. Indien sy werklik gretig is om op die platteland te praktiseer, is dit ’n kans wat sy nie kan laat verbygaan nie.
Sy moet die saak natuurlik vroeër of later met Hugo bespreek, maar sy is nog vreemd onwillig om dit te doen. Haar gevoelens teenoor hom is in hierdie dae deurmekaarder as ooit vantevore. Die weke wat hulle so nou saamgewerk het, het haar bewondering vir sy vermoëns as dokter laat toeneem. Hy was ook stimulerende geselskap en – haar vrouehart het dit erken – ’n besonder aantreklike man. Maar hoewel sy houding teenoor haar nie meer so styf en afsydig is soos aan die begin nie, is daar ook nie die geringste teken van toenadering van sy kant nie.
Wat die werk betref, het sy al hoe meer die gevoel gekry dat sy so stadigaan sy vertroue wen. Hy het al hoe meer van die verantwoordelike werk aan haar toevertrou en het haar die afgelope tyd selfs toegelaat om kleiner operasies te doen. En hoewel hy haar met valkoë dopgehou het, was hy blykbaar tevrede.
Dis hoekom dit so ’n skok was om by dokter Silbur te hoor dat Hugo vir hom gesê het dat hulle ná Juniemaand nie langer van haar dienste gebruik sal maak nie.
Nadat sy die hele oggend alleen met haar teleurstelling geworstel het, kon sy die spanning en onsekerheid nie langer uithou nie. Toe hy haar die middag ná spreekure kom sien om ’n plaasbesoek met haar te bespreek, vertel sy hom van dokter Silbur se aanbod.
Hy antwoord haar nie dadelik nie. Fronsend staar hy ’n rukkie voor hom uit, dan vra hy: “Vra jy my raad?”
“Ek wil graag die saak met jou bespreek,” antwoord sy koel. Stilswyend wag hy, sy oë ondersoekend op haar gerig en sy vervolg: “Dokter Silbur het my die aanbod gemaak nadat jy hom vertel het ek sal net tot einde Junie saam met julle werk.”
Sy een wenkbrou gaan effens op. Dan het hy hom nie verbeel dat haar houding die hele dag so effens koel en afsydig was nie. Dit was dan die rede.
“Wanneer sou ek dit vir dokter Silbur gesê het?” vra hy.
Sy merk dat hy dit nie ontken nie en haal ongeërg haar skouers op. Sy kan haar ontsteltenis nie heeltemal wegsteek nie, maar sy probeer so kalm moontlik praat: “Ek weet nie. Dit maak ook nie juis saak nie. Ek het net gedink jy sal die saak eers met my bespreek voor jy dokter Silbur of enigiemand anders daarvan sê.”
“Ek het dit nie met dokter Silbur bespreek nie,” ontken hy kalm.
“Maar jy het hom tog laat verstaan dat ek ná Juniemaand beskikbaar sal wees.”
Hy begin op en af stap.
“Kom ons veronderstel jy sou net tot einde Junie hier by ons werk. Sou jy dan dokter Silbur se aanbod aanvaar?”
“Ek het nog nie besluit nie,” antwoord sy koel.
“Antwoord dan vir my dié vraag: Wil jy nog so graag op ’n dorpie soos Doringlaagte werk?”
Onwillig antwoord sy: “Ek dink so.” En dan meer beslis: “Ja, ek wil nog net so graag.”
“Het selfs die afgelope drie weke jou nie van plan laat verander nie?”
“Dit was harde werk, maar ek het dit geniet.”
“Het jy jouself onlangs geweeg?” vra hy onverwags.
“Wat het dit met die saak te doen?”
“Jy weet net so goed soos ek wat dit met die saak te doen het. Jy het die afgelope weke baie gewig verloor – agt pond, sou ek skat. Hoe lank dink jy gaan jy die pas kan volhou?”
“Ek is nie die enigste een wat die afgelope weke gewig verloor het nie,” sê sy koel. “En ek dink jy sal self erken dat dit ’n baie moeilike paar weke was.”
“Ek erken dit, maar daar kan weer sulke tye kom.” Sy antwoord nie en ná ’n rukkie vervolg hy: “Dokter Silbur dink ernstig daaraan om ’n vennoot te kry.”
“Hy het my gesê,” antwoord sy, nog uit die hoogte, en weer gaan een wenkbrou op.
“En jy aarsel nog om sy aanbod te aanvaar?”
“Ek sal dit heel moontlik aanvaar,” sê sy koel, net om hom te wys dat sy nie die minste verleë is nie. Maar nadat sy die woorde geuiter het, sou sy enigiets gee om hulle te herroep.
“Ek is seker jy sal nie jammer wees nie,” sê hy goedkeurend. “Die werk is maklik. Selfs ’n vrou sal dit kan behartig.”
Dit moes hy nie gesê het nie. Vuurvonke skiet uit die blou oë.
“En dink jy dis waarvoor ek nege lang jare gewerk het – net so hard soos enige van die manstudente – waarvoor ek al die opofferings gemaak het, om nou tevrede te wees met ’n rusbankpraktyk waarna geen ander dokter wat sy sout werd is, sal kyk nie? Dokter Silbur het ’n ryk vrou – ek moet myself onderhou.”
Sy draai weg sodat hy nie haar skielike trane van ergernis kan sien nie, en dit is ’n oomblik stil in die vertrek. Dan kom staan hy vlak voor haar.
“Karin,” sê hy en sy stem is diep en bruusk. “Wil jy liewer saam met ons werk?”
Sy kyk ’n oomblik op in sy donker oë terwyl sy dink dat dit die eerste keer is dat hy haar op haar naam noem. Dan draai sy vinnig weg en koel en beslis kom haar antwoord: “Nee dankie, dokter Slabbert – tot die einde van Junie sal lank genoeg wees. En as jy my nou sal verskoon, ek moet nog ’n plaasrit doen.”
“Net ’n oomblik,” sê hy. “Ek is self haastig, maar ek wil jou net graag dit sê: Jou naam was onlangs tussen my en dokter Silbur ter sprake toe hy my vertroulik oor jou werk uitgevra het. Hy het jou seker die aanbod gemaak na aanleiding van wat ek vir hom gesê het, maar hy het my nie gesê hy is van plan om jou te nader nie. Wat jou ander beskuldiging betref, is ek ook onskuldig: ek het die saak nog met niemand bespreek nie. Ek het jou belowe dat ons ná ’n maand weer kan gesels, maar terwyl jy blykbaar reeds besluit het, is daar nou verder niks te sê nie.”
Hy kyk ’n lang oomblik na die meisie wat met ’n bleek gesig en neergeslane oë voor hom staan, dan sê hy saggies, spottend: “Ek het dit nie van jou verwag nie, dokter De Wet – tipiese vroulike histerie!”
Hy draai om en stap uit.
Karin het Kosie Roux belowe sy sal die middag kom kyk hoe Doringlaagte se eerste skoolspan een van die naburige skole pak gee. Hoewel sy glad nie in die bui daarvoor was nie, het sy besluit om tog by die rugbyveld langs te ry en net ’n paar oomblikke te kyk hoe hulle speel. Die twee spanne was reeds op die veld toe sy daar aankom, maar sy het by een van die jong toeskouers