'n Vonk van liefde. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Vonk van liefde - Christine le Roux страница 6
Hy was net ’n paar dae hier en hy kan nie wag om terug te kom op die plaas nie. In die hotel waar hy tuisgegaan het, het hy verstom voor die venster gestaan en afkyk na die verkeer, die nimmereindigende lawaai van motors en sirenes. Die sonsondergang het vir hom besoedel gelyk, asof hy daarna kyk deur ’n gordyn van uitlaatgasse en rook.
“Koop vir my iets moois in die stad,” het sy vriendin Mieke vir hom gesê.
“Wat?” wou hy weet. “Ek weet nie wat jy wil hê nie en ek gaan nie veel tyd hê om in die winkels rond te loop nie.”
“Iets om te dra,” het sy gesê. “Toe, man, ek was maande laas in die stad. Koop vir my iets moois.”
Hy het moedeloos deur die winkels geloop. Hy was seker al die verkoopsdames staar na hom en wonder wat hy daar maak. Om vir homself klere te koop, is moeilik genoeg en iets wat hy so vinnig moontlik doen. Binne tien minute het hy vir homself hemde, sokkies, ’n nuwe trui en ’n lekker leerbaadjie bymekaargeraap en daarvoor betaal, maar om te besluit wat vir Mieke mooi sal wees, was ’n byna onbegonne taak. Hy het dit amper oorweeg om mevrou Steyn te bel en te vra of sy dit nie vir hom wil doen nie. ’n Ander vrou sal ten minste weet wat nou mode is en wat nie. Maar haar stem was so ontegemoetkomend oor die telefoon toe hy afgespreek het wanneer om haar te ontmoet, dat hy dit liewer nie gedoen het nie.
Die verkeerslig verander en hy ry weer.
Hy hoop die vrou gaan suksesvol wees. Na die fiasko van die afgelope maande sedert sy ma se dood, was hy min of meer gereed om die gastehuis toe te sluit en van die hele onderneming te vergeet. Die vrou wat waargeneem het, het klaarblyklik gedink sy kan heeldag op haar bed lê en lees. Sy het nie gesorg dat kos gekoop word nie, sy het nie toesig gehou oor die werkers nie. Alles het verval. Toe een egpaar – gereelde gaste wat jaarliks ’n week lank in die winter kom – toevallig noem dat hulle beddens nooit opgemaak is nie en dat hulle ’n week lank met dieselfde handdoeke moes klaarkom, het hy mevrou Delport ingeroep en gesê hulle het haar dienste nie meer nodig nie. Onder sy ma se bekwame leiding het alles glad verloop. Daar was elke dag vars blomme in die eetkamer en die versorging van die gaste was haar prioriteit.
Neil tuur na die straatname en ry stadiger. In hierdie voorstad loop die strate nie parallel nie, maar waaier uit soos die speke van ’n wiel. Hy probeer onthou wat mevrou Steyn gesê het. As sy Cissie se niggie is, kan sy nie te sleg wees nie, het hy besluit toe Cissie van haar vertel het. Cissie is een van die knapste boervrouens in die distrik. Toe Piet met die stadsmeisie op die plaas aangekom het, was almal skepties, maar sy het vinnig bewys dat daar niks is wat sy nie kan leer nie. Nou wen haar ingelegde vrugte en groente pryse op die landbouskou, sy kan biltong maak en vleis bewerk, sy voorsien die tuisnywerheid op die dorp van beskuit en gebak.
“Danielle is die regte mens,” het sy vir hom gesê. “Ek weet dit net. En sy moet wegkom uit die stad. Haar huwelik was nie so idillies soos almal aan die begin gedink het nie. Hy het hulle geld gemors en nou is sy alleen en verwagtend.” Meer wou sy nie sê nie en hy het ook nie uitgevra nie. Die swangerskap is natuurlik ’n komplikasie, maar hy is bereid om filosofies te wees. Hy hou van kinders – om die waarheid te sê, dis een van die twispunte tussen hom en Mieke en die groot rede waarom hulle nog nie getroud is nie.
“Ek weet wat sal gebeur,” sê sy altyd. “Nes ons getroud is, sal jy begin neul oor kinders. Ek is nog glad nie reg daarvoor nie. Ek wonder of ek ooit sal wees.” Haar suster se twee kleintjies irriteer haar, selfs Cissie se tweejarige wat ’n vreeslik oulike klein seuntjie is, laat haar koud. “Ek is abnormaal,” lag Mieke altyd wanneer sy sien hoe verbaas hy is. “Ek is gebore sonder ’n moederinstink.”
Neil is so ingedagte dat hy verby die straat ry en moet omdraai. ’n Hond blaf vir hom toe hy in iemand se rylaan instoot om te draai.
Hy is vier-en-dertig, ’n feit wat hy kort-kort onder Mieke se aandag bring. Hy wil nie ’n middeljarige vader wees nie, hy wil sy kinders geniet. Die probleem is dat hulle al kêrel en nooi is vandat hulle op skool was. Die feit dat hulle op buurplase grootgeword het, het natuurlik meegehelp. Sy was die meisiekind wat hy moes leer perdry en op skool het hy ook ’n oog oor haar gehou. Terwyl hy nog saam met sy pa geboer het, is sy universiteit toe. Na sy pa se dood het hy haar die eerste keer gevra om te trou.
“Nee,” het sy toe gesê. “Ek is nog te jonk. Ek wil eers die wêreld sien.” Sy het ook. Sy was ’n jaar oorsee terwyl hy geduldig gewag het. Toe het sy in Kaapstad gaan werk en net vakansies huis toe gekom. Hy was besig op die plaas en daar was nie eintlik ander hubare meisies in die omgewing nie. Miskien het sy dit geweet en is dit waarom sy hom so aan ’n lyntjie gehou het.
Op die oomblik bestuur sy ’n weefskool op die plaas en sien hulle mekaar gereeld. Sy is amper dertig en hy werk nou hard aan haar dat hulle tot trou kan kom – tot dusver met min sukses. Daar is altyd iets anders wat sy eers wil doen. Die weefskool moet selfonderhoudend word, haar jonger broer moet eers trou.
Neil hou vinnig stil. Hy het amper by nommer ses verbygery. Hy kyk na die huis en sien die voordeur staan oop. Drie groot reistasse en ’n stapel kartondose staan reeds in die paadjie. Hy klim uit en stap nader. Net voordat hy by die deur kom, verskyn Danielle. Sy is netjies aangetrek in ’n liggrys rok en swart jas. Die jas is van goeie snit en materiaal, maar kan nie meer voor toeknoop nie.
“Ek is Neil Greyling,” sê hy en steek sy hand uit. “Aangename kennis.”
“Danielle Steyn.” Haar hand is yskoud, haar vingerpunte raak skaars aan syne. “Ek is reg.” Sy buk en tel twee van die tasse op.
“Nee,” sê hy vinnig en vat dit by haar. “Asseblief. U kan nie . . .”
Sy staan terug en sê nie ’n woord nie. Hy begin alles aandra na die bakkie. “Die dose is swaar,” waarsku sy in ’n lewelose stem. “Dis breekgoed en –”
“Ek is gewoond aan swaar goed,” verseker hy haar.
Toe alles op die bakkie gelaai is, trek hy ’n seil oor en maak dit vas. “Wat nog?”
“Ek moet net toesluit en die sleutel by die bure laat.” Hy stap agter haar aan deur die leë huis. Hulle voetstappe eggo in die verlate vertrekke. Alles is kraakskoon, in die kombuis blink alles. Selfs die vensters is so skoon dat dit lyk asof daar nie glas is nie.
“Jy het die huis baie mooi laat skoonmaak,” sê hy. “Die nuwe eienaars gaan dit waardeer.”
“Ek het dit self gedoen.” Sy sluit die deur toe en stap na die bure terwyl hy seker maak die seil is goed vas.
“Nou ja,” sê hy toe sy langs hom ingeskuif het. “Is jy gemaklik? Kan ek die sitplek agtertoe skuif?” Hy skakel die enjin aan en trek weg. “Ons gaan tog nie vir mekaar ‘u’ sê nie. My naam is Neil.”
“Danielle,” sê sy en haal ’n donkerbril uit haar handsak. Sy kyk nie weer terug na die huis nie, maar leun haar kop agteroor.
“Jy lyk baie moeg,” sê hy. “Dit moet ’n groot werk wees om so ’n huis op te pak.”
Sy antwoord nie, knik net.
“Dis al halfelf,” sê hy. “Ons ry maar vandag so ver ons kan. Jy moet sê as jy ongemaklik word, dan hou ons stil. Ek besef in jou . . .