Lewensblik. Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 2
Kersfees het vir my na sipres geruik.
Ons Namakwalandse oupa en ouma het nooit ’n Kersboom gemaak nie. Op asemlose warm Oukersaande op die pastorie se lang stoep het ons geluister wanneer Oupa die Kersverhaal elke keer nuut vertel. Dan het ons gekyk hoe helder die sterre teen Namakwaland se hemel hang. In ons gedagtes kon ons die ster daardie nag bo die stal sien skitter. Oupa het oor Jesus gepraat asof hy Hom self geken het. Hy wou nie dat ons ’n popkrippie maak nie.
“ ’n Seun is vir ons gebore,” het hy gesê en sy blou oë was wonderlik sag, “maar ’n Koning kom ons haal.”
Ek het nie geweet waarvan hy praat nie. Maar ek het nooit die klank in sy stem vergeet wanneer hy daardie Naam sê nie. Kersnag as almal gaan slaap het, kon ons hom op sy harp hoor speel terwyl hy sing. As kind was Kersfees ook vir my die soet klanke van Oupa se harp op ’n warm Oukersnag.
Die mooiste Kersfees wat ek ooit beleef het, was een jaar in Parys. Op elke straathoek het ’n Kersboom geflikker. Stringe liggies langs die Seine. Kersvader op ’n slee met rinkelende klokkies aan sy rendiere. In die Sacré-Coeur op Montmartre het die kerse wild gewalm in die ysige tog wat deur die kerk getrek het, gedans teen die koue marmerbeeld van Jesus. Dit het na wierook geruik en die stof van eeue. Buite het die sneeu in vlae gesif, nes op die Kerskaartjies.
Half verkluim het ons in ’n berookte bistro gaan sit en gluhwein drink, ons glase romanties teen mekaar geklink. Verruk “Bon Noel” geroep. In die strate rondom het die verkeer sketterend verbygetoeter. Ek kon nie sipres ruik of ’n harp hoor nie. Van die Seun het ek niks gemerk nie.
Vir my eie kinders het ek towermooi Kersbome gemaak. Ek het my verlustig in handjies wat na die tooisels gryp, die weerkaatsing van gesiggies in die blink glasballe. Die storie het ek dramaties met die figuurtjies om die geboortetoneel geïllustreer. Tog was hulle ogies gou geboei deur die geskenke onder die boom eerder as die Kind in die krip. Het hulle in die Kers-besete tyd verstrik geraak eerder as om by die Seun wat vir ons gebore is, uit te kom.
Toe leer ek die Seun van naby ken. Ek het geleer wat beteken: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Ek het verstaan dat sy heerskappy sal uitbrei en dat Hy vrede op aarde sal bring. Dié vrede wat net die Ewige Koning kan bewerkstellig.
En vir die eerste keer het ek geweet waarvan Oupa gepraat het.
Blomtyd
Anderdag sit ek in die motor voor die ou Rhenish Instituut, die kunsskool, op die Braak in Stellenbosch vir my man en wag. Meteens daag ’n herinnering so helder by my op dat ek skrik daarvan. Toe my dogter, Lenska, so vyf of ses was, kom ek op ’n dag met haar hierheen. ’n Vriend van my was toe die hoof en ek wou atmosfeer vang met die oog op ’n roman wat ek aan die skryf was.
Met haar aan die hand draai ek die koperknop van die voordeur oop. Onmiddellik kom die reuk van verf en terpentyn ons behaaglik tegemoet. Aan die hoë plafon brand hanglampe teen die skemering van die koue, winterse middag. Ons gaan staan voor ’n antieke bruin laaikassie met ’n kleimodel van ’n paartjie in innige omhelsing daarop. Die kind kyk met verwondering na die lig wat betowerend daaroor speel.
Ons loop langs die pragtige olieverfskilderye wat teen die muur hang. Langs mooie houtskoolsketse van sprekende gesigte. Oral staan ligbruin, pragtig geboetseerde figuurtjies van klei in alle moontlike posisies. Alleen aan my dogter se vingertjies om myne voel ek haar belewenis.
Byna almal is al huis toe. As ons met die breë houttrappe na bo gaan, klink ons voetstappe hol in die koue lug. Halfpad die trap op is ’n raam, in die vensterbank staan ’n kunswerk van keramiek, twee blou-wit voëls op kaal boomtakke. Bo glim ook lampe oor die houtvloerplanke. My kind kyk na my, haar oë is baie blou.
Ek sien die skoonheid rondom haar daarin weerkaats. Ek gaan sit met haar in ’n breë vensterbank en kyk af op die binneplaas onder ons. Ons sien die verdroogde blomme van die hortensia, wat nog steeds persblou is, terwyl dit al Junie geword het. Êrens uit ’n aangrensende skool kom die yl klanke van ’n viool deur die mieserige weer na ons toe aangesweef.
So hewig is die herinneringsbeelde dat ek trane in my oë voel skiet. Het dié dae nes die Psalmis s’n soos rook verdwyn? Wat hou ek daarvan oor?
Maar toe kom ’n ander beeld ewe helder voor my geestesoog. My kleindogter, Aliyah, ewebeeld van haar ma, staan voor my studeerkamervenster intens na buite en kyk. Die lig val oor haar blonde hare en die sagte ronding van haar wang. Ek loop versigtig nader en kyk oor haar skouer. Voor die venster op die stoeptafel sit een van ons mak eekhorings. Sy handjies is afwagtend oor sy bors gevou. Hy kyk haar stip aan. Dis tyd vir sy laatmiddagkossie, weet sy dit nie? Sy gespierde lyfie blink in die son.
“Jou mooi ding!” fluister sy. Ons kyk na mekaar. Ek sien haar ma se verwondering van daardie dag lank gelede ook in haar oë.
Ek druk haar teen my vas. Van ses weke gelede se breinchirurgie is nog net ’n verdwynende letsel onder haar lang blonde hare te sien. In die blou-blou oë is nie ’n sweem van die angs en trauma merkbaar nie. Dié dae het inderdaad soos rook verdwyn. Want om haar gevou ál daardie tyd was volgehoue gebed van soveel mense oor die hele land. Ek onthou die vertroostende woorde wat ’n dierbare vriendin voor die operasie van die Here ontvang het: “Die stryd om die kind se lewe is verby!”
Nou kyk ek weer na die wit ou gebou tussen die akkerbome. Die wind roer lig deur die blare en dis of hulle fluister: “Niks van God se dae verdwyn ooit soos rook nie. Wat Hy in jou kinders saai, sal in húlle kinders blom.”
Die Here van die kiewiete
Ek gaan met die honde in die rooi aandskemer stap. Plotseling klink ’n skril kreet in die lang gras voor ons op. Op dun oranje beentjies pyl ’n bont kiewietjie oor die veld. Ek hou die honde teë, loop ’n wye draai om twee gespikkelde eiertjies, weerloos in die sand. ’n Paar treë verder sien ek die kiewiet-ma waar sy bibberend in die gras waak.
Sonder waarskuwing vervul diepe verwondering my, so intens dat trane my verblind. “O Here, Here, hoe onbeskryflik groot is U deernis! U wat die magtigste oseane, die verste berge gemaak het, U hand is oor hierdie fragmentjie lewe.”
Algaande kom ’n gedagte tot my. Dié van ’n lêer in my studeerkamer se liasseerlaai. Een met die etiket: Armand/Angola. Daar-in is die briewe wat my seun vir my geskryf het toe hy in die bosoorlog was. En sy dagboek. Ek draai kortom met die honde en gaan terug.
Toe hy uiteindelik weer by die huis was, kon twee wassiklusse nie Angola se vuil uit sy klere haal nie. So anders as die vrolike kind, was hy maer, bleek, donker om sy oë. Stil. Op ’n dag bring hy die dagboekbladsye vir my. “Niks verder praat nie,” sê hy. En hy het nooit.
Die vergeelde blaaie is vuil van vingermerke en stof. Ek vind dat ek nie meer as enkele frases kan lees nie. Die skrik en die verlang van daardie vreeslike weke toe ek nie geweet het wat van hom geword het nie, is meteens vlak by my.
“Ek is onbeskryflik vuil . . . My sokkies is al so hard dit skawe my stukkend. Ek is baie moeg, die hele nag ry ons – niemand weet waarnatoe nie, niemand weet waar die vyand is nie – bedags is dit te warm om te slaap . . . Vreemd om te weet ons is 3 000 km van die huis af . . . Ek verlang baie na julle . . . Ek is bang ek word siek, ons leef baie vuil . . . Ek dink ek het nierinfeksie, want my niere is baie seer van die verskriklike paaie wat ons ry. Hier is baie landmyne . . . Ons water is op . . . Ek het nog net kos vir vandag en môre . . . My sigarette en toiletpapier is klaar . . . Laat hulle ons nou maar aanval. Ek voel niks meer nie. Ek bly honger.
“Dis nou 11 dae dat ek nie gewas het nie. Die wêreld is besaai