Lewensblik. Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 8
Buite op die groot balkon wink vrolike tafels eetgoed. As ons appelskyfies in heuning doop, roep ons mekaar toe: “Mag die jaar goed en heuningsoet wees!”
Ons breek die granate oop en sing: “Mag ons goeie dade in hierdie jaar so oorvloedig soos hierdie pitte wees.”
My vriendin vang my oog. Waar’s die dae toe ons die nuwe jaar op maat van Auld Lang Syne in gedans het? Argeloos . . .
Ver onder ons streep die maan silwer oor die skuimende branderkoppe. ’n Nuwe jaar het gekom.
’n Veilige plek
Met die Valentynstyd in gedagte kom die storie van Tante Linneke en haar kat by my op.
My Hollandse man het dié storie saam met hom gebring. In die Tweede Wêreldoorlog se Hongerwinter van 1944-’45 word Tante Linneke, wat alleen met haar kat in Amsterdam woon, desperaat toe sy besef haar skamele voedselrantsoen kan nie meer vir Cornelius ook onderhou nie.
Eerder as hom van honger te laat omkom, sou sy hom moes wegmaak.
Maar hoe jou getroue, enigste oorgeblewe metgesel “wegmaak”?
Geld vir veearts is daar uiteraard nie, vergiftig kan sy nie. Versmoor? Nooit! Ná smartlike oordenking besluit sy al waarvoor sy kans sien, is om Cornelius in die grag te verdrink. Verskriklik soos dit ook al mag wees. Uiteindelik skraap sy elke vesel moed bymekaar, wikkel die kat stewig in lap toe, bind tou om. Probeer nie dink waarmee sy besig is nie.
Met hom in die saalsak van haar fiets ry sy tot by die naaste grag, haal diep asem, gooi die wriemelende pakkie in die water.
Traanverblind vat sy die pad terug huis toe, sonder om weer te kan omkyk. In haar binneste knaag verwyt meedoënloos.
Verbygangers wat die droewig wenende vrou op die fiets sien, haal die hoed respekvol af: “Sekerlik ’n vader of broer in die oorlog verloor.”
Maar siedaar, toe sy voor haar huisie van die fiets afklim, wie wag haar in? Niemand anders nie as Cornelius self! Hy sit hom verontwaardig op die stoepmatjie en was. Sommer kortpad huis toe gevat.
Oorstelp van dankbaarheid gryp sy die nat kat vas om hom nooit weer te laat gaan nie.
Vir die res van daardie bitter winter deel Tante Linneke eenvoudig elke krummel met Cornelius. Dit bring hulle op die randjie van verhongering, maar hulle haal albei die einde van die oorlog lewend.
Waartoe stel die liefde ’n mens tog in staat?
Met die koms van die voorjaar verskyn iets wonderliks in ons tuin. Jare lank al voer ons daar lemoenduifies en eekhorings, sodat ons al mak geraak het vir mekaar. Ons astrante Siamees, Shlomo, en twee onstuimige Jack Russells, Sarah en Sandy, ten spyt.
Iewers in verlede jaar sluit vier tarentale by ons diereversameling aan. Soggens vroeg hoor jy hulle soos ’n droë windpomp voor die kamervenster kners. Later raak hulle so hans dat hulle teen die glasdeur kom pik tot ons wakker word. Maar met die koms van die voorjaar verdwyn al vier meteens. “Seker beter weiveld gevind,” sê my man lakonies. Tot hy my twee weke later opgewonde roep.
Daar op die grasperk loop ons tarentale met tien fraai kuikentjies wat op dun oranje beentjies agter hulle aanhol. Dis tóé dat Shlomo reken hier vang hy vanmôre ’n voël wat nie kan vlieg nie.
Hy het hom nog nie behoorlik platgetrek vir die spring nie, of Vader Tarentaal lig sy vlerke en storm krysend. Ek het my arrogante kat nog vir geen hond die aftog sien blaas nie. Maar vanmôre vlieg hy vinniger as ’n jagluiperd die seringboom op.
Maar blitsiger nog as Shlomo, het Moeder Tarentaal haar vlerke gelig en verdwyn die kuikentjies daaronder. Oombliklik verstom die sagte tjiep-tjiep van die kleintjies wat ’n mens voortdurend hoor.
Ontroering oormeester my as ek daardie woorde onthou: “Jerusalem! Jerusalem! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak . . .”
Wêreld van beangstiging om my, ek ken ’n veilige plek!
Die saaier
My twee oupas en oumas het soos dag en nag verskil.
Nie dat die een paar soos dag en die ander paar soos nag was nie, maar die verskil was wel groot.
Daar was die plaas in die Klein Karoo en die pastorie in Namakwaland. In dié twee huise het ek in die eerste vyf jaar van my lewe, toe ek ál kleinkind was, die Here leer ken.
In die droë Karoo was my grootouers se afhanklikheid van die Almagtige ’n werklikheid. Die vrese van die Here was deel van hul daaglikse bestaan.
Voor ligdag word ek wakker van Oupa en Ouma wat “oggendgodsdiens” hou.
Deur die enkele muur wat die “vrykamer” en die “brekfiskamer” skei, hoor ek die vertroude gesange en Bybelgedeeltes, die geluid van stoele wat oor die houtvloer knars as hulle kniel om te bid.
Ek woel my dieper in die bulsak, maar ek hoor nogtans die name van elke kind, skoonkind en kleinkind. Ek dommel weer weg, getroos en geborge.
Daar word saans laat geëet. Ouma gee solank ’n “sononderkossie” teen die ergste honger. Gebraaide lewertjie op ’n biesiestokkie gesteek, of ’n vetkoekie wat gouestroop en botter drup.
Winters is dit donker as Oupa uit die veld inkom. Daar hang koue druppels aan sy snor. Ek ruik skaap en lusern aan sy klere.
Die lae bankie word nader gestoot. Oupa trek sy velskoene uit, sug behaaglik as hy sy voete in die badjie warm water laat sak wat Ouma uit die boiler getap het.
Op my eie voetstofie mag ek ook by wees. Oupa seep ons voete met blouseep in.
In die stoof knetter houtvuur, die ketel fluit ’n hoë noot. ’n Pasgebore lammetjie wat Oupa ingebring het, blêr stotterend by die vuurherd. Buite sif kapok wit oor die werf.
As daar ná ete boekegevat word, is my oë swaar. Maar ek moet mooi luister wat Oupa lees, want hy gaan vra wat die grote Moses op die Sinai-berg gaan haal het. Of hoekom die Israeliete bloed aan hul deurkosyne gesmeer het.
As ons lank moet kniel oor Oupa vir die ganse land en al die mense in die parlement bid, wonder ek hoe die Here die sterre in die hemel opgehang gekry het.
Oupa en Ouma Namakwaland se huis sing van Jesus.
In Oupa se studeerkamer waar die rakke onder die boeke kreun, hang ’n houtkruisie. Dis olyfhout uit Jerusalem, hoor ek. Ek vat nie daaraan nie, netnou kom dit van die boom af waar Jesus bloed gesweet het.
Sondae sit ek styf teen Ouma in die pastoriebank. Sy ruik na Sal Volatile en waai haarself met ’n kantsakdoekie koel teen Klawer se versengende hitte.
Oupa leun oor die preekstoel en sy silwer hare maak ’n ligkrans om sy kop soos wat Jesus in die Engelse Kinderbybel het. Sy gesig skyn as hy van die Here praat.
In die vaakste uur van Sondagmiddag ry ons met oom Joggem se bootjie oor die Olifantsrivier Trawal toe om buitediens te hou. Oupa preek, trap die orreltjie, sing al die versies van die gesang voor.
Saans as slaap op my aankruip, hoor ek die silwer nootjies van