[vii]. Gilbert Gibson
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу [vii] - Gilbert Gibson страница
[vii]
Gilbert Gibson
Tafelberg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van [vii] mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
[1]
ek’t ’n hond hy stap
deur die oop veld naby my
huis styf teen my been
neus gevestig op die vreemde
reuke ver of woes geleë
soos die son bo-oor bome
vou hy sy vlerke vir my oop
skemer tot lig gevalk
ek laat vir hom ’n dun fluit
dat ons omdraai
om onder wolke te vertoef en bly hoop
ons gaan stap eendag
deur ’n digte staning doringbome
voor ’n rant waar die sweem van
ribbokke in die skaduwee lê
plek-plek omliggende gras nog
vars gedou en nat voor die snoet
en voor ons meedoënloos
’n kiewiet sal vlug sy voete verwild
sy oë rooikring-cokebottelbodems
in die opkomende
[2]
daar lê vanoggend soos ou kos in
koue kookolie ’n dooie duif
in die swembad
glibberig en onverwags
vasgenes in blare wat te veel
was vir afskep
die duif is deur chloor omhul
soos voetstappe deur ’n klooster
ek en die kind klim in die kar
waai vir ma op die stoep sy
staan so roerloos soos ’n soutpilaar
soos ’n jetplane is ons leaving
margaret ons wonder
are you grieving
[3]
verbeel my dat soos ’n wolf sluip
jou lyf met die blywende onsekerheid
van roofdiere voor maansverduistering
na die warmte van lakens die
skimp van onvermydelike slaap
daar wag ’n wêreld van bloed en bene
sonder die rebellie van
kwade bedoeling
die slaap slik om jou soos ’n pels
ons lywe saam soos die bene-
weling van ledemate
wat eens die wakker van beweging
tot uiterste verlamming beding
daar gaan die arm oor
in die pols
die pols oor in die hand
die wakkerword ’n gewrig
wat in onwaarskynlike verband
met die dood van elmboë staan
daar versamel die arms donkerte
daar word die nag beraam
in ’n droom se onderwaterweg
voel ek hoe jy
spleetloer na my kyk
hoe jy sluk en met
’n vlymgeskerpte vingernael
die hare uit jou oë haal
en omdraai en aanslaap
rooies die nag is lank en swaar
siende dat ek my verbeel
’n wolf sluip in jou lyf
die blywende onsekerheid deur
[4]
nie majola nie was klara
twee jaar voor my op skool
haar rok duime korter
as die ander meisies
bruin van netbal
eenkeer vir my ’n oefeningboek
met gedigte in gewys haar
eie handskrif in ’n netjiese
krul soos haar hare op die jaarbladfoto
na debat in die donker
strate teruggestap
na haar ouma-hulle se huis
hande sweterig in mekaar en
lank daarna nog die reuk
op my vel in die stilte
van die seunskoshuis
tot vandag nog goedkoop parfuum
uit moerdyk se apteek wat my
terugvat na die leë
straat voor die skool
na haar meer gesofistikeerde
beheersde lag ’n krakerigheid