'n Lang, vreemde pad. Susanna M. Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Lang, vreemde pad - Susanna M. Lingua страница 7
“Wel, ek moet sê dit klink vir my glad nie . . . e . . . opwindend nie,” kan Elise nie help om te sê nie. “Ek is bly ek is nie ’n Portugese meisie nie, want ek sal net met ’n man van my eie keuse trou en met niemand anders nie. Maar vertel vir my, hoe voel die meisies hier in Portugal oor hierdie . . . e . . . wel, die manier waarop huwelike vir hulle gereël word en die feit dat hulle nie eens alleen met ’n kêrel mag uitgaan nie?”
“Ek weet self nie, Elise, maar Rita sê dit is vir hulle iets doodnatuurliks omdat hulle met die gewoonte grootword. ’n Mens mis tog nie iets waaraan jy nie gewoond is nie. Met jou en my sal dit natuurlik ’n perd van ’n ander kleur wees. Ons is gewoond aan ’n vry, ongebonde lewe.”
“Wel, ek beny hulle hoegenaamd nie. Trouens, ek dink jy is gelukkig dat jy in Suid-Afrika grootgeword het waar die lewe nie so ingewikkeld is nie,” sê Elise. “Ons land mag nou wel ’n baie jong landjie wees in vergelyking met Portugal, maar ons meisies is ten minste vry om vir hulself te dink en te besluit.”
So onder die gesels het hulle tot by die groot hek gestap wat ingang tot die hawehoof verleen, maar hier bly Maria meteens staan.
“Ek glo nie dit sal raadsaam wees om hier in te gaan nie,” sê sy met ’n gesteurde trek op haar gesig. “Kyk hoe staar die ellendige mans ons aan, kompleet asof ons twee goedkoop meisies is.”
“Gits, ja, hulle dink bepaald ons is, want volgens hul eng leefwyse oortree ons stellig ’n maatskaplike wet,” meen Elise, en vervolg met ’n geamuseerde glimlaggie en ’n ondeunde trek in haar oë: “Ons sal beslis ’n duenna moet aanskaf om ons na al die besienswaardige plekke te neem. Kan jy aan iemand dink?”
“Nee, ek kan nie,” sê Maria. “My ma is in Suid-Afrika en my ouma is al vyf en tagtig. Ons kan haar nie met ons saampiekel nie.”
“Nee, ons kan nie, sy is te oud,” stem Elise saam. “Maar ek moet sê, dit is vervlaks ergerlik om so . . . so gestrem te word deur hierdie mense se nougesetheid. Die brouery moes ons liewer saam met ’n toergeselskap gestuur het, dan het ons nie nou met hierdie probleem te kampe gehad nie.”
“Toemaar, Rita en haar skoonma sal sorg dat ons die hele stad besigtig sonder om ons aan onplesierigheid bloot te stel,” troos Maria. “Ek dink ons moet liewer nou teruggaan.”
Terwyl hulle terug na die hotel stap, besluit Elise dat dit werklik onsin is om haar lewe so aan bande te lê ter wille van hierdie mense se preutsheid. Sy is nie ’n Portugese meisie nie en is dus nie aan hul gewoontes gebonde nie.
“Ek stel voor dat ons eers koffie drink,” doen Elise aan die hand toe hulle die restaurant oorkant die hotel nader. “En moet asseblief nie weer sê die mans sal ons snaaks aanstaar omdat ons alleen is nie. Ek gee nie ’n flenter om wie ons aanstaar nie, en ek gaan ook nie toelaat dat hul preutsheid my vakansie bederf nie. Sal ons by een van die tafeltjies hier op die sypaadjie sit, of wil jy liewer daar binne gaan sit?”
“Wel . . . e . . . ek glo nie my swaer sal dit goedkeur dat ons alleen hier in ’n openbare restaurant kom koffie drink nie . . .” begin Maria, maar Elise gee haar nie kans om meer te sê nie.
“As dit oor ’n duenna is wat jy jou bekommer, kan jy my gerus as een beskou,” sê Elise met ’n terglustige glimlaggie, onbewus van die lang, donker man en meisie by die tweede tafeltjie wat haar en Maria waarnemend beskou.
Maria bars uit van die lag.
“Wat, jý ’n duenna?” sê-vra sy nadat haar lagbui bedaar het. “My liewe Elise, jy is maar net een jaar ouer as ek en self nie eens getroud nie . . . Nee, jy lyk allermins soos ’n duenna, maar laat ons tog maar gaan sit en koffie drink. Het jy Portugese geld?”
Hulle neem by die tafeltjie langs die belangstellende man en meisie plaas.
“Ek het reisigerstjeks saamgebring, dus kan ons die inwendige mens behoorlik versterk,” sê Elise. “Wat sal jy saam met die koffie geniet? Ek verkies roomkoekies met baie room . . . lekker vars room.”
“Ek dink ek sal dieselfde neem, dankie, maar met minder room.”
“Nou goed, dan sal dit koffie en roomkoekies wees. Maar jý sal die bestelling moet plaas, want ek glo nie die kelner sal my verstaan nie,” sê Elise.
Maria plaas die bestelling en draai dan weer na Elise. “Ek dink ek moet jou Portugees leer praat, anders gaan jy ná my vertrek hopeloos verlore hier in Lissabon wees.”
“Ja, nogal glad nie ’n slegte plan nie,” glimlag Elise. “In elk geval, hier in Lissabon sal dit nog gaan, want ná jou vertrek sal Rita en Pedro hulle bepaald oor my ontferm. Maar wat gaan ek in Oporto aanvang? Daar sal ek die spreekwoordelike vreemdeling in Jerusalem wees.”
“Hm, ja, jy sal baie beslis vir jou ’n duenna moet aanskaf,” terg Maria met ’n sagte laggie.
Elise glimlag meteens ondeund toe sy sê: “Ek wonder wie sal op die ou end na wie moet kyk, die duenna na my, of ek na haar . . . Nee, jong, ek is nie bereid om my met so ’n verantwoordelikheid op te saal nie. Trouens, ek het nie ’n ou vrou se hulp nodig nie, ek is gewoond daaraan om vir myself te sorg. Dis net jul taal wat my oor is . . .”
Die kelner sit hul bestelling op die tafeltjie neer en Elise bring haar reisigerstjeks te voorskyn.
“O, griet, ek het nie ’n pen nie,” sê sy ietwat droog. “Jong, jy sal die kelner moet vra om vir my sy pen te leen sodat ek ’n tjek kan teken.”
Dit blyk egter dat die kelner ook nie ’n pen het nie, maar die lang, donker man by die tafel langsaan bied Elise sy pen aan – ’n duur vulpen met ’n goue dop.
“Hoe sê ’n mens dankie op Portugees, Maria?” vra Elise. “Miskien is dit beter dat jy hom namens my bedank – my Afrikaanse aksent slaan dalk te sterk deur.”
Haar blik gaan vlugtig na die lang, donker man toe hy ewe bedaard op Engels sê: “Ek verseker jou dit is ’n plesier om jou van diens te wees, señorita.”
Elise bloos liggies, maar kry dit tog reg om met ’n glimlag te sê: “Baie dankie vir die gebruik van jou pen, meneer. Dit is baie vriendelik van jou.”
“Die plesier is myne, señorita,” sê hy.
Terwyl sy en Maria die koffie en roomkoekies geniet, gesels hulle oor die volgende dag se uitstappie saam met Rita. Maar Elise bly deurentyd bewus van die lang, donker man se teenwoordigheid en van sy blik wat telkens op haar rus. Toe hulle later van die tafeltjie af opstaan, voel albei dat dit paslik sal wees om darem vir die hulpvaardige man tot siens te sê.
Die twee meisies stap geselsend terug na die hotel, albei onbewus van die man se blik wat Elise tot by die ingang van die hotel volg. Elise het reeds besluit dat hy óf getroud óf verloof is aan die meisie in wie se geselskap hy verkeer, dus probeer sy om maar liewer nie aan hom te dink nie.
Maar so maklik is dit nie, want toe sy daardie aand in die bed lê en luister na die polsende hartklop van die stad, dink sy onwillekeurig aan die mooi, lang man. Sy sien hom weer voor haar geestesoog. Sy donkerbruin oë is skerp en intelligent, maar dit is ook oë wat ’n mens met een blik sal kan laat voel asof jy al die sondes in die wêreld begaan het. Sy reguit, swart hare het ’n natuurlike glans, en die wyse waarop dit gekam is, dui daarop dat hy baie aandag daaraan gee. Sy ken is sterk en manlik en sy wangbene hoog. Sy gladgeskeerde vel getuig