Meisie in die reën. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Meisie in die reën - Schalkie van Wyk страница 7
“Maar . . . het jy nie gehoor dat ek vir hom gesê het ek het hom nie lief nie?” vra sy verward.
“Ja, daarom het ek baie vinnig omgedraai en jou tasse in die gastebadkamer in die gang neergesit. Voor jou ouma se dood het jy dit geniet om saam met Frans uit te gaan. Ek is seker jou gevoel vir hom sal weer verander nadat jy by tant Alma gekuier het.”
“Jy glo ouma Heilet se dood is die oorsaak daarvan dat ek Frans nie kan liefhê nie?” vra sy ongelowig, en wonder ontsteld presies watter gedeelte van haar en Frans se gesprek hy gehoor het.
“Wel . . . hy noem jou ‘liefste’. Pas so ’n woord nie by verliefdes nie?” terg hy.
“Frans noem elke meisie wat hy ken ‘liefste’ of ‘skat’. Dis gerieflik as ’n mens te lui is om iemand se naam te onthou.”
Sy glimlag tart haar uit. “En hy koop ’n duur verloofring vir elke meisie wat hy ken?”
’n Blos van verleentheid vlek haar wange rooi en sy frons ongemaklik. “Hy het net vir my die ring kom wys!” antwoord sy misnoegd en probeer haarself kwaad dink. “Jy lag my met jou oë uit, Hilgard. Wil jy hê ek moet my humeur verloor?”
“En my ’n aaklige aspatat noem? Hoekom nie? Of het jy intussen ’n paar beter skelwoorde aangeleer?” vra hy, lag en warmte in sy stemtoon en oë.
Sy glimlag vir hom. “Aaklige aspatat . . . die kamtige vloekwoorde wat jy en Armand my geleer het . . . En toe skop ek die dominee op die maermerrie toe hy my die dag ’n ‘oulike aspatat’ noem!” Sy neem impulsief een van sy hande in albei hare. “Ek is so bly jy het my kom haal, Hilgard. Dit voel of ek die afgelope tien jaar op ’n vreemde plek gekuier het, maar nou is ek eindelik weer tuis.”
“En ek is weer heel, want ek het nie net Armand en my ouers nie, maar ook my klein asjas verloor die dag toe jou ouers jou weggeneem het van Groeneweide af. Ek dink ek is bly jy wou nie aan jou Frans verloof raak nie, want jy hoort op Groeneweide, Marli.”
“As deel van die agtergrond?” spot sy.
“Nee. As deel van my en tant Alma. Julle het almal saam in die opstal op Drie Werwe gebly, en omdat jou pa gewoonlik uithuisig was en jou ma skoolgehou het, het tant Alma jou grootgemaak. Dis waarom sy so gretig was om die ou opstal my nuwe ouerhuis te maak, want sy was nie minder stukkend as ek of jy óf jou ouers nie. Verstaan jy wat ek probeer sê?”
“Ja . . . ja, ek begryp. Ons was almal saam, totdat die vliegtuigongeluk ons lewens aan flarde geskeur het. As my ma net Armand se dood kon aanvaar en verwerk, kon ons mekaar heelgemaak het. Maar sy het die meeste gely, want ek het oupa Fanus en ouma Heilet gehad, en jy en tant Alma kon mekaar troos, maar niemand kon haar troos nie,” antwoord sy mymerend en skrik toe sy selfoon lui.
Hy kyk flitsend af na sy selfoon in die skede aan sy gordel, mompel: “Verskoon my,” en stap tydsaam weg terwyl hy praat. “Nee, nog nie . . . Ja, ons vertrek binnekort . . . Nee, ek het haar reeds gebel . . . Tot siens.” Hy plaas die selfoon terug, ’n ligte frons tussen sy wenkbroue. “Ek wens ek kan die vervlakste ding permanent afskakel, maar ek is bang tant Alma het my nodig.”
“Waarom het jy die oproep beantwoord as die persoon jou irriteer?” vra Marli met ’n tergende glimlaggie.
“Omdat die meisiemens . . .” ’n Skerp asemteug sny sy sin af, sy blik op die oopstaande dubbeldeur van die sitkamer.
Marli draai vinnig om en verys innerlik toe sy haar ma die vertrek sien binnekom voor sy by Hilgard verbystap asof hy nie bestaan nie en haar soen.
“Hallo, Marli,” groet Theresa Conradie glimlaggend. “Is jou tasse gepak? Ek het jou kom haal om saam met my en jou pa in ons strandhuis te gaan vakansie hou.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.