.
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу - страница 14
Wat wil Jesus hiermee by ons tuisbring? Ek reken dit gaan daaroor dat ons ’n oog en ’n oor vir die Herder moet hê, asook om in ons pasoppens te bly vir allerlei vreemde invloede – selfs as ons meen om veilig in die kraal te wees! Moenie dalk meen dat jy veilig is omdat jy in die regte “kerkkraal” is nie …
Maar Jesus sê dan verder dat Hyself die hek is waardeur die skape toegang tot die kraal kry. Hierdie keer is die kraal vir seker die veilige oord van redding wat vir God se kinders bedoel is. En daardie redding kan ’n mens net op een manier kry, naamlik deur die regte hek, deur Jesus Christus, die Herder wat sy lewe vir sy skape afgelê het.
Daar is net een manier om in die kraal te kom, naamlik deur die Hek, Jesus die Verlosser.
25 Februarie
Die Herder se stem
Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Johannes 10:3–4
~
In Johannes 10 kom die intieme band tussen skaap en herder baie prominent aan die lig. Hier is van ’n verhouding sprake. Soos ons reeds by Psalm 23 gesien het, gaan dit nie oor ’n steriele werksverhouding nie, maar oor intimiteit. Dit gaan oor kommunikasie en kennis van mekaar. En dit is mos presies waaroor dit gaan in die verhouding tussen Christus en sy volgelinge, tussen God en sy kinders.
Die skape luister na die Herder se stem. Hy roep na hulle by name. Wat wil sê: God ken sy kinders een vir een by name. Hy het met elkeen ’n persoonlike saak. In Jesaja 43:1 spel die Here dit só uit: “Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne.” En so, al pratend met sy skape, lei Hy hulle uit na weiding en water en veiligheid.
Ons Herder loop vooruit. Hy jaag ons nie aan nie. Dis die een ding wat ons God nie doen nie. Hy laat die keuse aan ons oor. Ons hoor sy stem. Nou kan ons besluit of ons sy stem wil gehoorsaam, of ons Hom gaan volg of nie.
Die skape ken sy stem. Hoekom ken hulle sy stem? Vanselfsprekend omdat hulle dikwels na Hom luister, omdat hulle met sy stem en sy woord vertroud geraak het. Omdat hulle uit ervaring sy stem as ’n stem van liefde leer ken het. Die vraag is hoe goed ons ons Herder se stem ken. En die antwoord is opgesluit in die mate wat ons met sy Woord vertroud is.
Ken jy die Woord? Dan ken jy die Herder se stem. Volg sy stem.
26 Februarie
Lewe in oorvloed
’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Johannes 10:10
~
Toe Jesus oor die hek van die kraal gepraat het, het Hy verwys na die diewe en rowers wat nie deur die hek die kraal binnekom nie, maar op ’n ander, onwettige manier, inbreek. Die dief is die Herder se teenstander. Hy verteenwoordig presies alles wat die Herder se bedoeling met sy kudde in die wiele sal ry. Sy doel is selfverryking en die uitwissing van die kudde. Sy metodes is laakbaar en oneties – slag en steel en uitroei. En dit is mos wat Satan se strategie is. Hy dring die kraal binne op sy eie slinkse maniere. En sy doel is om God se kudde uit te roei. Ons hou dalk nie altyd genoegsaam rekening met sy sluwe planne en soms uiters suksesvolle maneuvers nie. Lig loop! Hy word op ’n ander plek ’n brullende leeu genoem. Hy soek om te verslind. Moenie mak raak nie.
Daarenteen het die Herder net een doel voor oë, naamlik om vir sy kudde die lewe in oorvloed te gee. ’n Oorvloedige lewe – ons droom daarvan, ons preek daaroor, maar nogtans kom dit nie tot volle verwesenliking nie. Die meeste gelowiges sal kop onderstebo bely dat hulle dit mis. Die lewe is vir hulle in vele opsigte ’n taamlik gebrekkige oefening. “Die Here is my herder; ek kom niks kort nie” – wel, om eerlik te wees: ons kort ’n lewe van oorvloed in die Here. Ons kan nog nie jubel oor ’n beker wat oorloop nie. Die goeie nuus is dat die Here dit vir jou gereed het. Hy wil jou met sy oorvloedige liefde bederf. Luister jy maar net na sy stem en volg Hom nougeset, dan sal jy in sy oorvloed deel.
Die Here wil jou vandag met sy oorvloedige liefde bederf.
27 Februarie
Die Herder wat sy lewe gee
Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape … Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Johannes 10:11, 14–15
~
In hierdie paar verse bereik Psalm 23 sy hoogste vervulling. Die digter van die herderpsalm sou nie daarvan kon droom nie. Dat die herder nie net sorg en bewaar en lei nie, maar letterlik sy lewe vir sy skape gee – dít klink darem net té vergesog. En dit is presies wat gebeur het! Wat Jesus hier sê, is natuurlik profetiese woorde. Hy het geweet dat dit nog moes plaasvind. Sy dissipels kon in daardie stadium nog niks daarvan verstaan nie. Die konsep is net te groot, skrikwekkend groot.
Ja, dit is geweldig groots. Ons moet oppas dat ons nie te gewoond raak daaraan nie. Die kruis van Christus moet vir ons telkens opnuut ’n wonder word. Die Herder wat sy lewe gee sodat ons kan lewe. Die Goeie Herder is die Seun van die Vader. Die Vader en Seun ken mekaar, is een met mekaar. En soos daar ’n innige verbondenheid tussen Vader en Seun is, is daar ook ’n hartlike verbondenheid tussen Christus en sy kerk. Soos reeds gesê: dit gaan oor ’n verhouding, ’n liefdesverhouding, ’n onlosmaaklike verbondenheid. Dit gaan oor ’n verbond wat met die bloed van die Herder verseël is. “… dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sonde” (Matt 26:28).
Ons buig in aanbidding by ’n nagmaaltafel in die skadu van die kruis waar die Herder sy lewe aflê vir sy skape.
Ons mag nooit gewoond raak aan die grootsheid van die kruisgebeure nie.
28 Februarie
Skape van ’n ander kraal
Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. Johannes 10:16
~
Toe Jesus in Johannes 10 van ’n herder begin praat, was dit glad nie ’n vreemde beeld vir sy omstanders nie. Hulle het elke dag iewers langs die pad ’n herder met sy skaaptroppie teëgekom. En daarbenewens was hulle ook goed bekend met die profete en psalmdigters se gebruik van die herderbeeld om die verhouding tussen God en sy volk te beskryf. God word immers die Herder van Israel genoem.
Dit was juis net hier waar Jesus met ’n nuwe gedagte vorendag kom, ’n gedagte wat wel vir die Jode vreemd op die oor geklink het. Jesus praat van sy ander skape wat nie “van hierdie kraal” is nie.
Hier het ons met ’n sendingdeurbraak te make! Tot nou toe het Jesus sy bediening hoofsaaklik in ’n Joodse omgewing bedryf. Daar was wel enkele voorvalle waarby die sogenaamde “heidene” betrokke was, maar in hoofsaak