Kies die lewe. Solly Ozrovech

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Kies die lewe - Solly Ozrovech

Скачать книгу

steeds lewend gehou word.

      Laat eers die koninkryk van God in jou lewe ’n werklikheid word en streef na volmaaktheid voordat jy die onvolmaaktheid van die wêreld probeer reg­stel. Nie in eie krag nie, maar deur die genade van Jesus Christus alleen kan jy in jou doel slaag.

      Here, ek plaas U in die sentrum van my lewe met die wete dat ek dan alle ander dinge in die regte perspektief sal sien. Ek dank U vir krag tot oorwinning.

      31 Januarie

      1 Tessalonisense 5:12–28

      Groet die dag met dankbaarheid

      Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. – 1 Tess 5:18

      ~

      Dit is van die uiterste belang dat ’n Christen ’n positiewe gesindheid teenoor die lewe sal hê. Daar is egter baie faktore wat daartoe kan bydra dat ’n mens met ’n negatiewe oog na die lewe kyk.

      Gebrek aan genoeg liggaamlike rus kan jou geïrriteerd maak en jou hele le­wensbeeld verwring. Swak gesondheid kan jou so beïnvloed dat dit vir ander moeilik word om met jou saam te leef. Aan die ander kant is daar talle invalides wat ’n pragtige voorbeeld stel vir almal met wie hulle in aanraking kom.

      Jou gesindheid teenoor die lewe is van deurslaggewende belang vir jouself en vir hulle met wie jy saamleef. Die regte lewenshouding is nie maar vanselfsprekend nie. As jy soggens wakker word, is jy die prooi van jou emosies. As jy sleg geslaap het, kyk jy met weersin na die nuwe dag en begin mor en kla voordat jou voete die vloer geraak het.

      Dit is noodsaaklik dat jy positiewe beheer oor jou gedagtes en emosies sal neem vanaf die oomblik dat jy wakker word. Dank God vir die heerlike voorreg om ’n nuwe dag te kan begin. Bepeins bewustelik daardie seëninge uit sy hand wat jy as vanselfsprekend begin aanvaar het: jou huis; jou geliefdes; jou werk; jou vriende en die talle dinge waarvoor jy God kan dank. Tel jou seëninge en noem hulle met ’n blye hart voor God.

      Wanneer jy dankbaar is, kan jy nie anders as om die dag met ware vreugde en vrede binne te gaan nie.

      Liefdevolle Vader, skenk aan my die begeerte en die wysheid om elke dag met ’n dankbare hart te begin. Deur Jesus Christus, my Verlosser bid ek dit.

      Februarie

      Gebed

      Liefdevolle Vader, daar is maar een en dertig dae van die jaar verby

      en alreeds moet ek met skaamte voor U staan om te bely

      dat so baie van die goeie voornemens van die nuwe jaar, skipbreuk gely en gestrand het;

      dat versuim oor soveel van my kosbare tyd geskrywe kan word;

      dat ek meer tyd saam met U in gebed kon deurgebring het, om met U te praat en na U te luister;

      dat u Woord vir my kosbaarder kon gewees het sodat dit my lewe kon verryk het;

      dat ek nagelaat het om getrou u wil te soek en dit in gehoorsaamheid te doen.

      Dankie, Here, dat U nie alleen vergewe nie, maar dat U deur u Heilige Gees die wil in my wek om oorwinnend te lewe; om U beter lief te hê; U meer nougeset te volg; meer gehoorsaam aan u wil te lewe.

      Dankie dat U, deur Jesus Christus, die ou dinge laat verbygaan en alles nuut maak.

      Lei my hierdie maand deur u Gees en om Jesus Christus ontwil.

      Amen.

      1 Februarie

      Romeine 12:1–8

      Wat is God se wil in my lewe?

      Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir hom goed en aanneemlik en volmaak is. – Rom 12:2

      ~

      Dit is maklik om te praat oor die wil van God, maar dit is iets heel anders om sy wil te ken en dit te doen. Sommige toegewyde kinders van die Here het ’n besondere verhouding met die Here en daar is by hulle hoegenaamd geen twyfel oor wat sy wil vir hulle is nie. Ander weer is net so toegewyd, maar dit lyk asof hulle in ’n doolhof van onsekerheid leef oor wat die wil van God vir hul lewe is.

      As jy besig is om te soek na God se wil vir jou, staak vir ’n wyle jou soektog. Bid dat God jou “denke sal vernuwe”. Konsentreer jou denke en gemoed op Hom. Jy moet God ken voordat jy sy wil kan ken! Dan eers kan jy sy weg ken en Hom gehoorsaam wees.

      Maar bo alles moet jy Hom van harte liefhê. Liefde is die sleutel wat die poort na sy pad vir jou ontsluit. Ontwikkel ’n steeds toenemende liefde vir Hom. Dit gee ’n mens soveel vertroue om te weet dat, hoe groot my liefde vir Hom ook al mag wees, sy liefde vir my altyd groter is.

      Wanneer liefde vir die Meester en onwrikbare vertroue in Hom jou denke beheer en jou geestelik sensitief maak vir sy leiding, word sy wil aan jou ontvou.

      Wag geduldig en biddend wanneer jy twyfel oor wat God se wil vir jou is. God skenk leiding aan hulle wat nie ongeduldig raak nie.

      Getroue Leidsman, deur liefde en vertroue soek ek u heilige en volmaakte wil vir my lewe. Laat u Heilige Gees vryelik in my werk.

      2 Februarie

      Psalm 42:1–12

      Wat van môre?

      Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God. – Ps 42:6

      ~

      Mense wil graag weet wat in die toekoms gaan gebeur, sodat hulle hul daarop kan voorberei. Daar is soveel dinge wat die mens vrees in die lewe: ouderdom, eensaamheid, nood, siekte … die dood!

      Maar as ons kon weet wat in die toekoms op ons wag, sou ons dalk so vreesbevange wees dat ons nie eens in die hede sou kon lewe nie.

      God openbaar nie die toekoms aan sy kinders nie, maar Hy leer ons in sy Woord hoe om dit te hanteer.

      Omdat God ewig is, is daar by Hom geen verlede, hede of toekoms nie. Geloof is om God onwrikbaar te vertrou met al jou môres. Dit ban kommer uit jou lewe en stel jou in staat om die hede te waardeer en te geniet, in die wete dat die toekoms in sy alvermoënde hand is.

      Jy kan in die vertroue leef dat, as jy aan Hom gehoorsaam is, daar ’n konstruktiewe en bevredigende lewe voor jou lê. Jy word verhef bo kommer oor beuselagtighede en nuttelose en negatiewe spekulasie en leef met blye verwagting, gereed vir al die onverdiende seëninge wat God vir sy kinders in die toekoms voorberei het.

      Leef in die hede: één dag op ’n keer. Word diep bewus van Christus se le­wende teenwoordigheid en jy sal nie vrees nie.

      Liefdevolle Here, ek weet dat U die toekoms beheer. Leer my om hierdie geloof prakties uit te leef en met geloof in my hart U die toekoms in te volg. In Jesus Christus

Скачать книгу