En die klippe sal uitroep. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу En die klippe sal uitroep - Ena Murray страница 8

En die klippe sal uitroep - Ena Murray

Скачать книгу

haar praat. Hoe gouer sy haar ouers in haar vertroue neem, hoe beter. Asseblief. Moenie dat sy self iets probeer om die swangerskap te beëindig nie. Sy kan nie net haar gesondheid vir ewig knou nie, maar selfs sterf. ’n Aborsie wat nie in kliniese omstandighede deur ’n dokter of ’n vroedvrou uitgevoer word nie, is lewensgevaarlik en nie iets om mee te speel nie. Agterstraat-aborsies het al ontelbare lewens geëis.”

      Die kop val vooroor en die blonde hare tuimel oor die verwese gesiggie. “Ek sal haar sê.”

      “Yolande …”

      Maar sy is reeds besig om haar motorfiets pad toe te stoot. “Ek sal nou moet ry. Tot siens, suster.”

      Miempie staan die stofwolk en agternakyk en begin dan stadig terugstap kombi toe. Sy weet dat die bewing in haar ingewande nie meer van die skok van die amper-ongeluk is nie. Dis diepe ontsteltenis oor ’n pragtige jong meisie wat op amper sestien swanger is. En ten spyte van die gevoelens wat Ruda Visser in haar wakker gemaak het, is daar ook ’n innige jammerte vir die snobistiese rykmansvrou vir wie daar in die nabye toekoms miskien ’n geweldige skok wag. Nie eens vir Ruda Visser wens sy so iets toe nie. Vir geen ma en pa nie …

      Miempie slaap sleg dié Donderdagnag en toe sy Vrydagoggend wakker word, is haar binneste steeds ’n maalkolk in haar toe sy gereed maak vir werk. Eers moet sy haar weeklikse verslag by die distriksmunisipaliteit se kantoor indien en vir die res van die dag behartig sy die plaaslike kliniek. En sy sal met die dokter moet praat oor die potensiële tuberkulosegevalle op Grootfontein. Sy durf nie daarmee wag nie. En intussen hoop en bid sy maar dat Yolande Visser wel van ’n vriendin gepraat het …

      Sy kan haarself nie keer nie. Vandag moet sy meer te wete kom oor die Vissers van Grootfontein, watter soort mense hulle is. Dit kos haar net een of twee vrae in die regte rigting om Rina aan die praat te kry.

      “O, die Vissers? Praat van snobs!”

      “Ruda Visser is seker een van die mooiste vroue in die distrik en nog jonk. Sy kan nog nie veertig wees nie.”

      “Sy is seker daar rond, maar ek sal haar nie mooi noem nie. Sy lyk altyd suur. Trek pragtig aan, ja. Maar hulle het die geld. En sy het die smaak. Sy het vroeër ’n boetiek hier gehad, die mees eksotiese klerewinkel wat hierdie dorp nog geken het.”

      “Hulle het net een kind, of hoe?” vra Miempie.

      “Ja. ’n Dogter, Yolande. Sy is saam met my Harry in die klas. Dáár is nou ’n wilde enetjie vir jou, hoor?” sê Rina veel­seggend.

      “Wat bedoel jy?”

      “Wel, Harry sê sy leer nooit nie. Sy druip elke kwartaal en sy steur haar min daaraan. Verder is sy so oorryp as wat kan kom. Ek sal liewer nie vertel wat my Harry vertel wat alles aangaan nie, maar die klein Yolande is die voorbok.”

      “Dinge soos wat?”

      “Dwelms, drank en seks. Jy hoef nie so geskok te lyk nie, Miempie. Dink jy dis net in die stede waar hierdie dinge aangaan? Daar is nie meer ’n dorp in hierdie land waar hierdie dinge nie kop uitsteek nie, laat ek jou vertel.”

      Miempie voel mislik. Sy wens Rina wil ophou, maar sy gaan voort: “My Harry doen natuurlik nie mee nie. Hy weet wat sy pa met hom sal doen as hy aan sulke onheilsdinge deelneem, maar hy sê dagga is nie meer snaaks nie. Daar is kinders wat al heelwat sterker goed gebruik. En vrye seks is aan die orde van die dag. En daardie klein Yolande … die kind is nog nie eens sestien nie … is die gewildste onder die seuns, want sy is pragtig. Maar soos my Harry vertel, sal daardie meisiekind nie kan sê wie die pa van haar kind is as sy die dag moet ontdek sy is swanger nie. En ek sal nie verbaas wees as daar nog volwasse mans ook onder hulle is nie.”

      Miempie stuit die stortvloed vinnig: “Rina, jy sal my nou moet verskoon, maar ek moet nou hierdie verslag afhandel anders kom ek nie betyds klaar nie.”

      “Ja. Ek sal ook moet roer.” Rina kom by Miempie se lessenaar verbygestap en laat vir oulaas hoor: “Maar daardie soort meisies kom nie in die moeilikheid nie. Hulle is te slim. Behalwe dat hul eie ma’s hulle die voorbehoedpil voer, kan hulle dit mos maklik in die hande kry. Enersyds is dit ’n goeie ding. Dit verhoed baie ongewenste swangerskappe. Andersyds … dit maak ons kinders sleg. Nou kan hulle te kere gaan soos hulle wil, sonder vrese. Maar pasop as hulle die dag vergeet om die pil te neem … Dit gebeur ook.”

      Gelukkig lui die telefoon op daardie oomblik en Miempie tel dit vinnig op, dankbaar vir die onderbreking. Dis meneer Hough, die sekretaris. Sal suster Rust asseblief onmiddellik na sy kantoor kom?

      Toe Miempie hom oomblikke later in die oë kyk, weet sy dat haar duistere voorgevoelens oor gister se voorval bewaarheid is.

      “Meneer Visser van Grootfontein was so pas hier by my in die kantoor, suster. Hy het ’n sterk klag teen jou kom indien.”

      Miempie staal haar. “Wat is die klag, meneer Hough?”

      “Dat jy beledigend en aanmatigend teenoor sy vrou was en wilde beskuldigings gemaak het.” Hy wys na ’n stoel. Suster Rust is een van sy knapste en fluksste werknemers. Hy sal haar nie graag wil verloor nie. Maar hy durf ook nie ’n klag van die Vissers van Grootfontein ignoreer nie. “Sit, suster, en vertel my wat gebeur het.” Hy kyk haar goedig aan. “Ek het na sy relaas geluister, en nou wil ek jou kant van die storie hoor. Wat presies het gebeur?”

      “Ek het nie bedoel om beledigend of aanmatigend te wees nie, meneer Hough. En daar is geen wilde beskuldigings gemaak nie, net blote feite gestel.” Sy vertel byna woord vir woord wat gesê is en wat aanleiding daartoe gegee het. Sy sluit af: “Meneer Hough, glo my, jy weet nie onder watter omstandighede daardie werkers bly nie. Meneer Visser se varkhokke lyk soos hotelle teen sy werkershuise. Ek oordryf nie.”

      Hy knik. “Ek weet, suster. Ek was ook al op Grootfontein.”

      “Dit verbaas my dat daardie man nog werkers het.”

      “Hy sal altyd hê, suster. Werk is skaars en mense wat werk soek, kan nie bekostig om uitsoekerig te wees nie. Hy het vanoggend gesê dit sal nie help om vir hulle beter huise te bou nie, want hulle wil so lewe. Volgens hom is hulle almal onbetroubare suiplappe en daggarokers. Hy glo net nie dat hy beter gehalte werk sal kry as hy sy werkers se lewensomstandighede verbeter nie.”

      Miempie skud haar kop. “Hoe kan hy hulle so beskuldig van alles wat sleg is? En hoekom nie hulle omstandighede verbeter nie? Dit is tog sy plig as mens – het hy dan geen gewete nie? Sy werkers kry makliker allerhande siektes net omdat hulle leefplek so haglik is. Ek is doodseker van hulle het tuberkulose. Maar om hulle te dokter en dan terug te stuur na dieselfde omstandighede …”

      “Ek weet, suster. Maar dit is wel jou plig om hulle te dokter. Die res val nie in jou posbeskrywing nie.”

      “In wie s’n val dit, meneer?”

      “In baie streke stig die mense plaaswerkerverenigings of ander hulpdiensorganisasies wat wonderlike werk onder die plaaswerkers doen, juis op die gebied van opheffing en om lewensomstandighede te verbeter. Laat dit aan hulle oor.”

      Sy laat sak haar kop moedeloos. “Daar is só baie opheffingswerk wat gedoen moet word.”

      “Dit is waar, suster Rust, maar jy kan nie álles wil doen nie. Jy is een mens en …”

      Sy kyk op toe hy aarsel en vul self aan: “En net die suster van die kliniek-op-wiele, soos ek hier bekend staan, wou u sê?”

      “Ja.

Скачать книгу