Wie met vuur speel. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wie met vuur speel - Deon Meyer страница 14
Dié keer neem dit Mignon nog langer om oor haar verbasing te kom. Ná ’n rukkie stilte sê sy: “Luister, dit is Maandag. Kom ons probeer môre weer om dié gesprek voort te sit. Dalk voel jy beter.”
“Ek voel baie goed. Daar is niks met my verkeerd nie,” sê Ragel vies.
Mignon sug en groet. Ragel sit die telefoon neer met ’n groot frons. Hoekom is almal skielik so vyandig? Kan hulle nie besef dat sy onder druk is nie? Dit is ’n groot transaksie – die grootste waarby sy nog betrokke was. En sy kan nie eens daaroor praat nie. Behalwe met Dirk. Hy sal verstaan. En sy moet nog tot vanaand wag om hom te sien.
Die res van haar dag is vol frustrasie. Sy is in die winkel vasgekeer saam met Frikkie wat sy oë gedurig verwytend op haar rig soos ’n gekweste dier. Boonop sukkel sy om te konsentreer wanneer kliënte kom gesels.
Teen vieruur kan sy dit nie meer hou nie.
“Frikkie, dit is regtig ’n blou Maandag. Ek gaan in ’n warm bad klim,” maak sy verskoning.
Sy slaan die MG se dak terug en kies koers Houtbaai toe, al langs die see af.
Ragel se gedagtes maal. Daar het in die laaste 24 uur só baie gebeur. Doen sy die regte ding? Het sy nie met die voorstel dat sy die erf sal koop, te gou haar gevoelens vir Dirk gewys nie? Sy gee nie ’n duiwel om vir die geld nie. Sy wil net nie vir Dirk verloor nie. Nee, dit is nie heeltemal eerlik nie. Die geld sal heerlik wees. Net die idee om so baie geld te kan besit . . .
Die wind deur haar hare wil nie help om die spinnerakke weg te waai nie.
Sy besluit om vanaand met Dirk te praat. Hy sal verstaan. Sy draai die MG om en ry huis toe.
Die eerste groot verrassing is toe hy haar kom haal en sy hom skaars kan sien agter die reuse bos blomme in sy arms.
“Sit dit net eers in die water. Ons gaan dadelik ry. Ek het iets wat ek met jou wil bespreek,” sê Dirk ernstig.
Ragel skrik. Maar sy doen meganies wat hy sê.
Wanneer hulle by Dirk se woonstel kom, laat hy haar op die rusbank sit en maak dadelik ’n bottel sjampanje oop. Hy kom sit langs haar en skink twee glase.
“Op jou nuutgevonde rykdom.”
Sy klink haar glasie. “Jy wou iets met my bespreek het.”
Toe kom die tweede verrassing.
“Ja.” Dirk skuif nader. “Jy het nie ’n goeie dag gehad nie, nè?”
“Kan ’n mens dit só maklik sien?”
Dirk glimlag. “Jy was onseker of jy die regte besluit geneem het, deurmekaar oor die hele spul, bekommerd dat jy al jou geld in een neseier belê.”
Nou glimlag sy vir die eerste keer. “Hoe op aarde weet jy dit?”
“Luister, dit is my werk om te weet. Elke transaksie wat ek beklink, het dieselfde uitwerking op mense wat nie elke dag by sake van dié grootte betrokke is nie. Jou gevoelens is doodnormaal. Die rede daarvoor is dat die opwinding vir eers verby is. Maar moenie jou bekommer nie. Die groot euforie kom wanneer jy die Duitsers se tjek in jou hand vashou. Dit sal dit alles die moeite werd maak.”
Ragel se hande gly om Dirk se nek. “Ek verdien jou nie. Ek voel al klaar beter.”
Hy soen haar vinnig. “Daar is nog nuus.”
“Kan dit nie wag nie?”
Dirk lag. “Dit kan.”
Laataand eet hulle Dirk se pasta voor die kaggel.
“Jy moes nooit ’n transaksiemakelaar geword het nie. Die voedselbedryf het een van sy grootste seuns verloor,” sê Ragel.
“Met sulke vleitaal kan jy ’n tweede porsie kry.”
“Jy het vroeër gesê daar is nog nuus.”
“Vroeër?” terg hy.
“Ja, Dirk, net voor ek jou skaamteloos in die sitkamer verlei het.”
“Mmmmm . . . Ek onthou vaagweg so iets.”
Sy dreig hom met die pastavurk. “Praat.”
Hy leun vorentoe om haar te soen, maar sy laat haar nie van stryk bring nie. “Vergeet dit. Ek laat my nie soen deur ’n man met mosselsous in sy snor nie.”
Dirk gooi sy kop agteroor en lag daardie uitbundige lag wat Ragel soveel intense genot gee om dop te hou.
Wanneer sy lagbui bedaar, vertel hy haar. “Ek het vanoggend ’n lang telefoongesprek gehad met Otto Muller, die ontwikkelingsdirekteur van die hotelgroep. Hulle is bereid om ’n onmiddellike opsie op die erf te neem, met ’n kanselleringsklousule van twee miljoen.”
“Stadig nou. ’n Kanselleringsklousule. . .?”
“Ja. Hulle is so gretig om die erf te bekom, en natuurlik jou te verhoed om aan iemand anders te verkoop, dat hulle die klousule in die opsiekontrak wil insit. Dit sal beteken dat jy in elk geval twee miljoen sal kry, al besluit hulle uiteindelik om nie die erf te vat nie.”
Sy soen hom op sy snor. “Dirk, dit is ongelooflik.”
“Alles deel van die diens, juffrou Bergh.”
“Ek het ook darem goeie nuus. Ek het vanoggend met my makelaar en bankbestuurder gepraat.”
“En . . .?”
“En ek kan die tjek teen Vrydag hê.”
“Cartwright gaan jou vir ewig dankbaar bly.”
“My makelaar was ’n groot hulp. Hy het aangebied om met ondertekening van die nota en oorhandiging van die sertifikate dadelik te betaal, al is die verkoop van die aandele nog nie deur nie. By die bankbestuurder was dit ietwat moeiliker.”
“Hoe so?” sê Dirk besorg.
“Die aandelemark is blykbaar op die oomblik glad nie te stewig nie. Ek sou saam met die opbrengs uit die aandele en die toegelate oortrokke geriewe by die bank nog ’n honderdduisend kort wees van R750 000.”
Dirk stort rooiwyn op die mat.
“Moenie bekommerd raak nie. Ek het lank met my bankbestuurder gepraat. Hy sal die oortrokke limiet opskuif – met my huis as sekuriteit. Ek skuld niks op die huis nie.”
“Jy het my vir ’n oomblik groot laat skrik. Weet jy hoe kan Cartwright jou ry as jy nie die koopprys kan betaal nie?”
“Ek kan net dink. Maar alles het mooi uitgewerk. My makelaar en bankbestuurder vrek natuurlik van nuuskierigheid oor wat ek met die geld wil doen.” Sy maak haar stem dik. “Juffrou Bergh, jy moet maar versigtig wees. Ek hoop jy weet wat jy doen.”
“Ek weet wat