Klopdans van die liefde. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Klopdans van die liefde - Elza Rademeyer страница 4
Natuurlik sal hy nie ’n besmeerde sakdoek wil terughê nie, dink sy ’n bietjie verleë. Sy druk die sakdoek in haar handsak en haal haar beursie uit. “Ek sal vir jou geld gee om ’n nuwe sakdoek te koop.”
“Nee dankie. Jy sal my nie glo nie, maar daardie sakdoek het nogal sentimentele waarde vir my.”
“Dan sal ek dit was en by die kantoor van die verpleegsterstehuis los. Jy kan dit daar gaan afhaal.” Toe klim sy uit en loop na haar voordeur toe.
Vanselfsprekend sleep die res van die dag langsaam verby. Van woonstel skoonmaak kom daar niks. Vir wie of wat moet die woonstel skoon wees? Dit sal haar pas om in die stof te versmoor. En die aand toe die telefoon lui en sy Anton se stem herken, skakel sy onmiddellik haar selfoon af. Ook die foon in die sitkamer se prop trek sy uit. Van slaap kom daar egter min.
Is dit haar preutsheid wat Anton na die arms van ’n ander meisie gedryf het? wonder sy vir die soveelste keer. Sou sake anders verloop het as sy meer toegeeflik was? Het hy gelieg toe hy gesê het hy respekteer haar gevoelens oor voorhuwelikse seks en dat hy nie daarop sal aandring nie? Hy wás die laaste tyd baie opgeruie en vatterig . . .
Elke keer dat die snikke kom, druk sy haar kop in die kussing om dit te smoor. Sy sal nie huil nie! Sy sal hom uit haar gedagtes verban en nooit weer aan hom dink nie!
2
Dis nie vir Pennie vreemd dat almal die volgende dag by die werk wil weet of sy siek is nie. Sy het in die spieël gesien hoe sy lyk. En sy’t geweet grimering gaan nie die tekens van haar trane en die min slaap verdoesel nie. Maar sy skryf haar “siekte” toe aan hooikoors. As hulle dink sy jok, is dit tot daarnatoe.
Maar vir John kan sy nie bluf nie. Toe hy Sondag terugkeer werk toe, gee hy haar net een kyk. “Wat gaan aan met jou? Hoekom lyk jy soos een wat ’n week lank gehuil het?”
“Hooikoors. Al van Vrydagaand af.”
“Hooikoors se voet!” sê hy onomwonde. “Jy en Anton het natuurlik weer rusie gemaak. Maar hierdie keer moes dit nogal erg gewees het om jou só te laat lyk.”
“Dis klaar tussen my en Anton. Alles verby!”
Sy kop knik. “Hm. Ek het gedink dit gaan nie hou nie.”
“Wat het jou só laat dink?” vra sy verbaas.
“My liewe mens, dit was dan gedurigdeur ’n bakleiery! Julle kon skaars twee dae in vrede leef.”
Sy frons. “Waar kom jy daaraan?”
“Waar kom ek daaraan? Deur die dinge wat jy my vertel het. Jul rusies oor die tye wat hy laat opgedaag het vir jul afsprake. Jy was nie lus vir fliek nie, maar Anton het daarop aangedring. Anton was saam met jou na jou tante op Jongensfontein, maar dit het hom so verveel daar dat julle douvoordag die Sondagoggend teruggekom het Kaap toe sonder om op pad terug ’n woord met mekaar te praat. Die talle kere dat hy –”
“Ja toe, los maar. Ek dag jy is ’n vertroueling. Nou moet ek uitvind jy’t boekgehou van alles om dit op jou vingers af te tel!”
“Toe maar, ek gesels nie met ander daaroor nie. En ek bly jou vriend. Wat het gebeur? Het hy jou afgesê?”
Sy skud haar kop. “Ek wou hom by sy huis gaan verras en toe . . . was daar ’n ander meisie.”
“Ek sien. En toe?”
“Ek het hulle gehoor . . . gehoor praat.”
“Hier, vat my sakdoek en droog jou trane af. Wat het hy te sê gehad toe jy hom daaroor konfronteer?”
“Ek het hom nog nie weer gesien of met hom gepraat nie.”
“Het hy die hele naweek niks van hom laat hoor nie?” vra John met opgetrekte wenkbroue.
“Hy’t Saterdag gebel, maar ek het my selfoon afgeskakel en die prop van die sitkamer se telefoon uitgetrek.”
“En hy kan nie na jou toe ry nie, want sy been is in gips. Dink jy hy vermoed onraad?”
Sy vee vinnig oor haar oë met sy sakdoek en hou dit na hom toe uit. “Dit kan my nie traak wat hy vermoed nie.”
“Hm, dis wat jou mond sê, maar ongelukkig nie jou hart nie. Vir hoe lank gaan jy met hom wegkruipertjie speel?”
“Wat bedoel jy met wegkruipertjie speel? Ek sê jou dan dis klaar tussen ons. Oor en uit!”
“Nee, jy’s nie klaar met hom nie, want dan sou jy hom gebel en dit vir hom gesê het. Jy wil hom straf sodat hy kan voel wat dit is om seer te kry. In jou hart hoop jy hy sal jou om vergifnis smeek en dan sal alles weer dooddollies tussen julle wees.”
“Onsin. As ek sê ek is klaar met hom, dan ís ek! En nie net met hom nie, met al wat man is! My vriendin Tersia het presies dieselfde stel afgetrap. Dis ’n duidelike bewys dat geen man te vertrou is nie!”
“Ons sal maar sien,” sê hy met ’n effense glimlag voordat hy wegdraai om voort te gaan met sy werk.
Pennie wroeg die dag deur.
Die aand in haar woonstel toe die telefoon lui, wik en weeg sy lank of sy dit moet beantwoord. Dog, haar moed begewe haar weer eens. Netnou bars sy in trane uit wanneer sy sy stem hoor. Hy moenie agterkom . . . of dink sy is verleë oor hom nie.
“Jy kan jou nie aand ná aand in die woonstel sit en verknies nie,” sê John twee dae later vir haar. “Kom ons gaan eet vanaand iewers.”
“Ek is nie lus nie. My aptyt is in elk geval van so ’n aard dat dit net ’n vermorsing van geld sal wees.”
“Ek nooi jou, so jý hoef nie te betaal nie.”
“Wat van jou pelle en dinge? Ek dag dan dis jul pokeraand?”
“Hulle kan sonder my klaarkom.”
“Jy hoef nie vir my jammer te wees nie.”
“Ek bejammer jou g’n stuk nie. Jy het self dié ongelukkigheid oor jou gebring. Jou oë behoort lankal oop te gegaan het vir sy selfsugtigheid.”
“Sies, maar jy’s lelik! Toe ek en Anton nog danig was, het jy nooit sleg van hom gepraat nie.”
“Toe sou jy nog minder wou hoor wat ek van hom dink as nou. Hoe laat moet ek jou kom oplaai?”
“Ek weet nie. Ek is nie lus . . .”
“Ek sal agtuur by jou woonstel wees.”
Dis toe nie so sleg om van haar woonstel en die telefoon af weg te kom nie. John is ’n gawe maat. Juis die feit dat hy haar nie bejammer of sag met haar probeer wees nie, veroorsaak dat sy sy geselskap geniet.
“Ons werk elke dag saam,” sê sy tydens hul ete. “Maar eintlik ken ek jou baie sleg. Leef jou ouers nog?”
“Net my ma. My pa is al jare oorlede.”
“Het