Onder die radar. Dana Snyman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Onder die radar - Dana Snyman страница 5
Daniëlskuil toe
Ek en Pa sit by die kombuistafel op Ventersdorp. Tussen ons staan my skootrekenaar. Ek is besig om vir hom te wys hoe Google Earth werk.
Ons het reeds na Memel, sy grootworddorp, gekyk.
“Wat van Daniëlskuil, seun?” vra hy. “Kom’s kyk na Daniëlskuil.”
Ek – asook Pa – was meer as twintig jaar laas op Daniëlskuil.
Ek tik in die langwerpige kassie aan die bokant van die skerm: Daniëlskuil, South Africa, en druk die doen-knoppie. Die aarde begin voor ons te draai en te kantel, en dan, stadig, sak ons in die binneland af tot die buitelyne van ’n dorp 20 000 voet onderkant ons in die voue van die Noord-Kaap lê.
Daniëlskuil.
Ons het in die jare sestig en sewentig op Daniëlskuil gewoon. Pa was die NG predikant daar.
“Gaan nader, seun,” praat Pa my aan. “Nader.”
Ek talm ’n oomblik met my hand op die rekenaar se muis. Daar is ander dorpe in my verlede ook, Grootfontein in die ou Suidwes, Naboomspruit, Nylstroom, maar op Daniëlskuil het ek, soos die ou mense gesê het, my verstand gekry. Op Daniëlskuil het ek vanuit my eerste onskuld iets begin gewaar van die magiese verwantskap van goed en kwaad, van vreugde en verdriet, van verlede en hede.
Ek laat gly die pyltjie op die skerm tot op die ikoontjie wat jou nader aan die aarde bring. ’n Paar oomblikke later daal ons af tot 20 meter bokant Daniëlskuil se middedorp.
“Seun, seun, seun,” sê Pa. “Kyk net. Kyk net.”
Party van die geboue herken ek dadelik: die munisipale kantoor, die skool en die koshuis, die polisiekantoor. Gers se winkel. Die Commercial Hotel.
Die Commercial Hotel het destyds aan oom Martiens Uys behoort, maar oom Martiens is waarskynlik al oorlede. Of die Commercial steeds ’n hotel is, kan jy nie vanuit die lug sien nie.
“Oom Osche se winkel is afgebreek, seun. Sien jy?”
Inderdaad. Skuins oorkant wat destyds ’n BP-vulstasie was, is nou ’n oop stuk grond waar oom Osche se kontantwinkel gestaan het.
Pa kies met sy vinger oor die skerm koers na die kerk en die pastorie naby die skool. “Kyk net hoe’t die bome gegroei wat ek geplant het, seun.”
Die pastorie het steeds ’n teëldak, maar die sementdam agter op die erf is nou leeg.
Die herinneringe kom in flarde in my los: paddaslyk. Dahliabolle in die motorhuis. Pa trap ’n koringkriek op die tuinpaadjie dood en net ’n geel pappery bly oor. ’n Groot rooi stamper-boormasjien boor vir water langs die huis, stamp, stamp, stamp, dae lank. Stofdeeltjies hang in ’n streep sonlig in my kamer. Ek stap met ’n bottel Creme Soda by die voordeur uit, die bottel gly uit my hand en val stukkend op die trap. Vlekkie jaag ’n haas deur die veld agter die huis, tjankend. Vlermuise in die skemer.
Langs die dam staan die geboutjie steeds. Hoe het ons dit nou weer genoem? Die bediendekamer. Simon se kamer.
“Ek wonder wat het van Simon geword,” sê ek.
“Ek wonder, seun. Hy was nog van die goeie ou soort.”
Ek sit by Simon op die bliktrommel langs sy bed waarvan die pote op verfblikke staan. Die kamer ruik na Vaseline en Jeyes Fluid en Lifebuoy-seep. Agter die deur hang ’n blou overall aan ’n spyker. Op die tafel voor die venster is die draagbare Supersonic-platespeler wat Simon oor die pos van Ghoors op Vryburg bestel het. “Across the bridge, there’s no more sorrow,” kraak Jim Reeves se stem by die luidsprekertjie uit. Iemand hamer aan die deur. Dis Pa. Sy gesig is rooi. Hy wil weet wat ek in Simon se kamer doen. Nooit ooit weer mag ek daar kom nie.
“Weet Pa wat Simon se van was?” vra ek.
“Nee, seun. Hoekom?”
“Ek wonder sommer net. Ons het hom net as Simon geken. Maar hy’t ’n van gehad: Khumalo of Sangweni of wat ook al.”
Pa is dadelik sy liggeraakte self. “Wil jy vir my sê ons het nie goed vir Simon gesorg nie, seun?”
“Dis nie wat ek probeer sê nie, Pa.”
Ek druk met my vinger op ’n gebou in die hoofstraat. “Die stadsaal staan darem nog,” probeer ek die onderwerp verander. “En die hoofstraat is geteer.”
“Dis seker nou Zuma-straat of Mbeki-straat,” brom Pa.
Die stadsaal was die kulturele middelpunt van die kontrei. Charles Jacoby het daar opgetree. Ook Martino, die towenaar, en die Drakensbergse Seunskoor. Een aand het ’n minister vir ons van daardie saal se verhoog vertel ons, die blankes van Suid-Afrika, het ’n Goddelike roeping om die Westerse beskawing hier aan die suidpunt van Afrika te laat voortbestaan.
Ná klagtes oor die saal se akoestiek het meneer Piet Human, die skoolhoof, die mure met eierhouers laat uitplak, tot teen die dak. Soms het meneer Human vir ons op ’n Saterdagaand ’n fliek in die saal vertoon. Dis waar ek Kaptein Caprivi die eerste keer gesien het. Dirkie wat in die Namib verdwaal, met ’n hiëna op sy spoor. Dirkie wat al in die rondte loop, vuil en dors en honger, en oor en oor sê: “My pa het my lief, hy sal my kry. My pa . . .” terwyl ek snikkend agter die stoele insak om nie te sien wat gebeur op die skerm nie.
Twee straatblokke van die stadsaal af, skuins oorkant die skool, is die gebou waarin die Sonskyn Kafee was – oom Mike Botha se kafee.
“Oom Mike van die kafee is seker al oorlede,” sê ek.
“Dit sal my nie verbaas as sy kafee nou ’n China shop is nie, seun. Die Chinese neem als oor.”
“Die dorp lyk vir my heel goed, Pa.”
Pa laat gly sy vinger tot by die township aan die rand van die dorp. “En dié, seun? Lyk dít ook vir jou goed?”
Die township lyk soos soveel ander in hierdie land: Een gedeelte bestaan uit ouer, gevestigde huise; ’n ander bestaan uit hoekige HOP-huisies; en dan is daar die wond van ’n plakkerskamp.
“In ons tyd is die swart mense gedwing om in armoede in die tuislande te bly, Pa.”
“Dis reg, seun. Maak ons wittes maar sleg.”
“Ek sê net dis hoe dit was, Pa. Dis al.”
“Ons het nie van die regering verwag om alles vir ons te doen nie, seun. Ons het basaars en môremarkte gehou om geld in te samel vir ekstra klaskamers by die skool, en vir die bou van die nuwe pastorie, en die nuwe pawiljoen by die skougrond.”
O, ’n môremark op ’n Saterdagoggend op Gers se stoep: Ma en tant Hester van Niekerk en tant Berdina Smit en die ander tantes met hul blou-en-wit ACVV-voorskote aan. ’n Lang tafelblad wat op bokkies rus. Primusstofies. Eenkant staan die deeg, wat die vorige aand aangemaak is, in ’n roomkan. Pa en die ooms neem die geld en is in diens van die tantes. “Ou Japie, toe-toe, maak jouself handig,” praat tant Hester vir oom Japie Griesel aan. “Kom doen ’n bietjie iets aan al hierdie vlieë. Hulle dra ons