Onder die radar. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onder die radar - Dana Snyman страница 8

Onder die radar - Dana Snyman

Скачать книгу

die munisipale kamp is omtrent almal al uitgekap. Hout is ver stap en swaar dra.

      Hy maak nie bedags vuur by sy mokhukhu, sy sinkhut, nie. Die son is die vuur in die dag. Hy wag totdat dit donker is, dan pak hy die hout in die paola. Wanneer die vuur hoog brand, kom staan die ander by hom by die paola, lyf teen lyf teen lyf. Hulle staan daar en trek die hitte in hul lywe op.

      Hy weet nie altyd hoeveel van hulle op sulke aande daar is nie. Dis hy en sy vrou, sy twee seuns en sy een meisietjiekind. Sy klein boetietjie is ook daar, en dié se girlfriend. En sy ander boetie, die een wat stadig in die kop is. Net MmaMsutu, sy ma, kom staan nie saam met hulle by die vuur nie. MmaMsutu lê nou al hóé lank op ’n matras op die vloer in die mokhukhu, onder die komberse, met haar maer lyf en haar hoes.

      Hulle wag vir die slaap daar by die vuur, en wanneer die slaap kom, wag hulle nog ’n bietjie, dan maak hulle hulle reg om by die mokhukhu in te gaan. Hulle kan nie almal gelyk in die mokhukhu gaan lê nie. Die mokhukhu is te klein daarvoor. Binne is ’n bed, twee stoele en ’n kas waarop die kombuisgoed is.

      Sy vrou en sy klein boetie se girlfriend kry die bed, want sy klein boetie se girlfriend dra ’n kleintjie in haar lyf. Sy vrou en sy boetie se girlfriend gaan lê eerste. Daarna gaan die kinders by die mo­khu­khu in. Die seuns en die meisies moet apart lê, op stukke karton en komberse op die vloer.

      Sodra die kinders hul lê gekry het, lig hy en sy klein boetietjie die paola met stokke op en dra dit by die mokhukhu in. Hulle sit die paola in die middel van die mokhukhu op die vloer neer sodat die kole se warm asem oor almal kan blaas.

      Hy maak altyd seker sy boetie – die een wat stadig in die kop is – lê ver van die meisiekinders af voordat hy langs sy vrou op die bed onder die komberse inkruip. In die nag word hy soms wakker en dan kyk hy of party kinders nie te naby aan die paola geskuif het agter die hitte aan nie.

      Vuur versprei vinnig deur ’n mokhukhu.

      ’n Tienjarige verstandelik gestremde seun het eergisternag in ’n plakkers­hut in Sebokeng naby Kempton Park doodgebrand. Drie ander mense, waaronder ’n bejaarde vrou, het ernstige brandwonde opgedoen. Mnr. Lucky Msutu, die seun se pa, het vergeefs probeer om sy kind uit die vlamme te red. Volgens ’n woordvoerder van die polisie aan die Oos-Rand het die brand glo ontstaan nadat ’n konka vol brandende kole in die nag in die hut omgeslaan het.(Beeld, 24 Junie 2011)

      Down to earth

      Frits en Ina-Mari was toe by daai charity ball in Johannesburg. Hulle het Vrydag opgevlieg soontoe. Business class, natuurlik. Maar dit was die moeite werd, sê Ina-Mari. Alles was so amazing.

      Hulle het die nag in die Michelangelo geslaap en Frits het vir hulle ’n Jag gehuur. Die doe self was by Gallaghers, wat ’n amazing venue is.

      Oprah sou ook daar gewees het, sê Ina-Mari, maar dalk was dit net ’n rumour. Almal wat iemand is, was daar. Selfs die Vavi-ou van Cosatu en sy vrou het gekom. En Bryan Habana. En Kurt. En Ray McCauley. En die Nutsman. En Amor.

      Amor het lekker gedans met daai ou wat in Idols was. Wat is sy naam nou weer? Hy is ’n baie bekende celebrity. Anyway, hy en Amor het lekker gedans, sê Ina-Mari. Tog kan ’n mens sien daar is ’n diep sadness in Amor, maar sy gym weer en lyk absoluut stunning. Sy het iets van Malcolm aangehad – Malcolm, wat al klere vir Clint Eastwood se vrou gedesign het.

      Jy sal dit nie glo nie, sê Ina-Mari, daar was agt ex-Miss South Africas in die saal. Agt! Een van hulle was Amy Kleinhans. Of was Amy ’n Mrs South Africa? Die tyd vlieg so. Anyway, Amy was daar en sy was stunning soos altyd, so down to earth, ’n regte mens-mens.

      Een van die ANC-ministers wat daar was, het vir Frits gesê hulle sal nooit die myne nasionaliseer en die boere se plase terugvat nie. Die minister het nogal ’n sin vir humor, sê Ina-Mari. Hy het grappies gemaak oor sy Tag Heuer-horlosie. Hy sal nooit ’n Breitling dra soos die mannetjies van die ANC Jeugliga nie, het die minister gesê. Hy moes ongelukkig vroeg loop, want hy sou die volgende dag Zimbabwe toe vlieg vir ’n vergadering.

      Sy het vinnig met Pastor Ray gesels, sê Ina-Mari. Pastor Ray is net so down to earth en hy het ’n beter kleresmaak as enige van die dominees wat sy ken.

      Pastor Ray het ook mos nou ’n wyn wat onder sy naam bemark word. Of is dit Bryan Habana wat sy eie wyn het? Of Kurt?

      Kurt se vrou het stunning gelyk, in ’n lang rooi Simon Rademan. Stunning, stunning, stunning.

      Sy het besluit om dit maar eenvoudig te hou, sê Ina-Mari. Sy het sommer vir haar ’n swart nommertjie by Errol gaan koop. Swart is mos die nuwe wit. Oe, dié Errol is darem ’n darling, ’n absolute darling. Eintlik verkies sy hom bo Gert van de Merwe, al is Gert se ontwerpe dalk meer daring.

      En die kos was uit ’n ander wêreld, sê Ina-Mari. Siberiese salm, lam uit die Karoo, Franse truffles, en die divineste chocolate mousse waaraan jy kan dink. Ná die ete was daar eers ’n comedy show deur Marc Lottering, toe kom die charity-veiling.

      Dis amazing om te sien hoeveel hierdie celebrities vir hul mede­mens care, sê Ina-Mari. Charlize Theron kon nie self daar wees nie, maar sy het ’n serp geskenk om opgeveil te word – die serp wat sy gedra het toe sy aan die fliek oor daardie moordenares gewerk het. En Bryan het ’n rugbybal geskenk. Selfs die Nutsman het iets geskenk: Die boorstel wat hy gebruik het toe hy sy huis gebou het.

      Frits het tot by R6 000 op Bryan se bal gebie, maar toe het hy liewer opgehou, sê Ina-Mari. Sulke celebrity-rugbyballe het nie juis herverkoopwaarde nie, en buitendien het Frits nie regtig meer ’n plek om die bal uit te stal nie. Hy het mos sy kroeg en lapa by hul huis verander in ’n cigar room.

      Ná die veiling, sê Ina-Mari, het hulle gepaartie tot ná middernag. Frits het ’n Cohiba-sigaar gerook en sy het vir die eerste keer geproe hoe Johnnie Walker Blue smaak.

      Sy kry sommer so ’n warm gevoel in die hart wanneer sy aan alles dink, sê Ina-Mari. Meer as R200 000 is vir arm kindertjies in townships ingesamel.

      Agterop

      Jy ry op die snelweg, en dan, opeens, is daar ’n bakkie voor jou in die middelbaan, met twee of drie manne agterop. Oor een se kop is ’n Rasta-mus getrek. Die ander twee se blou oorpakke is vol verf­­spatsels.

      Dit lyk nie of hulle met mekaar gesels nie. Hulle sit met hul rûe teen die bakkie se kajuit en hulle kyk agtertoe. Hulle gaan by ’n huis of op ’n bouperseel werk, weet jy – heeldag lank gaan hulle verf of messel of kruiwa stoot, en vanmiddag gaan hulle weer in die teenoorgestelde rigting agterop hierdie selfde bakkie op hier­­die selfde snelweg ry, terug township toe.

      Elke dag sien jy mense agterop bakkies ry.

      Soms is daar sommer agt of tien agterop die bakkie, en dis meest­­al mans. Dikwels is daar ’n leer of ’n kruiwa saam met hulle op die bak. Dan moet party staan of op die bak se rand sit, want ín die bak is nie genoeg plek vir almal om te sit nie. Hulle moet aan die bakkie vasklou en oppas hul pette waai nie van hul koppe nie.

      Partykeer sien jy ’n pet op die snelweg lê. Dit lê daar in die lin­ker­­baan op die teer, en die karre ry daaroor. Wanneer die wind waai, sal die pet ’n entjie die lug in fladder, voor ’n volgende kar kom en dit weer plat trap.

      Jy sal na daardie pet kyk en weet dit het van iemand wat agterop ’n bakkie was se kop gewaai.

      Dalk was dit ’n jong man uit die Oos-Kaap wat in die Kaap werk kom

Скачать книгу