Onder die radar. Dana Snyman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Onder die radar - Dana Snyman страница 10
Dadelik kyk ek uit vir die pannekoektafel, en ook nie lank nie, toe sien ek die ry mense by ’n tafel waaragter vier vroue by Cadac-gasstofies staan. By die pannekoektafel op ’n kerkbasaar wag altyd ’n ry mense. Ek val laaste in die ry in.
Die vroue agter die tafel is veteraan-pannekoekbakkers, merk ek gou. ’n Goeie pannekoekbakker herken jy aan haar pan. Jy sal nie sommer een van hulle betrap met een van hierdie gebruik-geen-olie-panne wat op die TV geadverteer word nie. Nee, jy sal haar sien met ’n aluminiumpan met ’n dik boom. Die pan is al swart gebrand, en dikwels is die handvatsel deur ’n stukkie hout vervang.
“Kan ons help?” vra een van die vroue toe ek voor in die ry kom.
Die gaar pannekoeke wag in ’n glasbak oor ’n pot kokende water op ’n stofie. Langs dit op die tafel is ’n deksellose roomysbak vol kaneelsuiker. Die velletjies waspapier waarin die gaar pannekoeke toegedraai word, lê ook daar.
“Drie pannekoeke, ’seblief.” Ek haal ’n noot uit my sak en hou dit na die vrou toe uit.
“Nee, meneer, ons vat net kaartjies, hoor.”
Hoe vinnig vergeet ’n mens nie. Op ’n basaar kan jy mos slegs iets met “kaartjies” koop.
Ek draai om en stap terug in die rigting van die hek waar die kaartjietafel is.
Op pad soontoe stap ek by die kerksaal verby. Ek loer by die deur in. Binne is tafels vol groot koeke en kleinkoekies en ander goed. Op die verhoog is niks nie.
Op ons kerkbasaars was die tombolatafel altyd op die verhoog, met ’n rak daaragter, gepak met tennisballe, waterpistole, fluitjies – alles goed wat jy kon wen afhangende van die nommer wat jy getrek het uit die kartondoos wat met bruinpapier oorgetrek was.
Die speelgoedtafel was ook in die saal, asook die tafel met die naald- en handwerk. Ek gaan nader.
“Kom kyk gerus, kind,” hoor ek tant Berdina sê.
Tant Berdina verkoop ’n volledige reeks gehekelde toilettooisels vir die sindelike plattelandse toilet. Dit sluit in ’n oortreksel vir die sitplek, asook vir die deksel, die waterbak se deksel, en vir die ekstra toiletrol wat op die waterbak staan. Maar agtuur die oggend mag jy nog niks in die saal koop nie. Jy moet wag tot negeuur wanneer Dominee die verrigtinge met Skriflesing en gebed open.
Ek stap na die speelgoedtafel, en daar lê dit: ’n Speelgoedgeweer wat oom Flip Botes uit hout gekerf het. Langs my kom staan oorlede Johnny Virtue. Sy oë is ook op daardie geweer.
Al die seuntjies rondom ons se oë is op daardie geweer terwyl Dominee klaar uit die Bybel lees en sê: “Kom ons buig nou die hoofde in nederige gebed . . .”
Ek probeer my oë toehou, maar hulle gaan vanself oop. Ek begeer daardie houtgeweer met my hele hart, my hele siel en my hele verstand. Dan, terwyl Dominee nog besig is om te bid, skiet Johnny se hand langs my uit tot op die geweer. By die broodtafel staan ook ’n klomp mense wat maak asof hulle na Dominee se gebed luister, met hul hande op van tant Hester se brode.
Ek stap weer by die saal uit.
Oom Jors Ströh is in beheer van die skyfskiet. Oom Jors het in die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika geveg. Hy dra ’n bruin oorpak en stewels wat só blink dat jy jou eie weerkaatsing in die punte kan sien. Hy het ’n muur van hooibale agter die saal gepak. Jy kan vyf skote met ’n windbuks skiet na ’n teiken – ’n klomp swart kringe met ’n kol in die middel wat teen ’n baal gehang het. En jy mag nie dooierus vat met die windbuks nie. Oom Jors het ’n wit lyn met kalk op die grond gegooi. Jy gaan staan daar, met jou voete agter die lyn, en dan roep oom Spikkels: “Gereed? Laai!” Dan druk jy een van die windbuks se koeëltjies in die loop en lê aan, terwyl jy die ander koeëltjies op jou tong in jou mond hou.
Agterop oom Jors se groen Datsun-bakkie staan ’n skaap vasgemaak. Die een wat die dag die meeste punte met vyf skote aangeteken het, wen die skaap.
Ek koop R30 se kaartjies en dan trek die poedingtafel my oog. Ek kan net sowel nou al my poeding koop.
Dis amper asof ’n basaar ontwerp is om jou die hele dag aan die eet te hou. Jy sal byvoorbeeld afskop met ’n pannekoek en dan sien jy die jaffles en dink: Miskien moet ek enetjie vat om die soet smaak van die pannekoek uit die mond te kry. Dan ruik jy oom Niek Louw se sosaties, wat jou daarna reguit poedingtafel toe dryf.
En daar staan Ma agter die poedingtafel, met haar blou-en-wit ACVV-voorskoot aan. Ek gaan nader. “My liewe kind,” sê Ma toe sy my sien. “Jy lyk heeltemal verlore.”
Ek tel een van die bakkies van die tafel af op. Basaarpoeding: ’n skeppie koue dadelpoeding, ’n skeppie jellie, ’n skeppie Moirs-kitspoeding, ’n skeppie skuimpoeding, ’n perskerepie – en heerlike vla.
Ek betaal vir die bakkie poeding. Soetgoed vir troos. Met die bakkie in my hand begin ek terugstap na my motor, verby die pannekoek-ry, tussen die vreemde mense deur, verby die springkasteel vol jillende kinders, verby die kerk waarvan die toring soos ’n beskuldigende vinger die lug in wys.
1 Korinthiërs 13 (2)
Al praat ek al die tale van mense en engele, maar ek het nie ’n selfoon nie, het ek ’n stuk klinkende metaal en ’n luidende simbaal geword.
En al sou ek ’n selfoon hê en genoeg lugtyd, en al die kennis hoe om met die selfoon te bel en SMS’e te stuur en te Mxit en te twiet, is dit nie genoeg nie. Die selfoon moet ’n iPhone of ’n BlackBerry wees.
Met ’n iPhone of ’n BlackBerry kan ek e-posse ontvang en na musiek luister. Met ’n iPhone kan ek ’n 8-megapixel-foto neem. Met ’n iPhone kan ek pal op die internet en Facebook wees, want as ek nie op Facebook is nie, baat die lewe my niks nie.
Facebook is geduldig. Facebook is vriendelik.
Facebook is afgunstig en grootpraterig en verwaand.
Op Facebook kan ek onwelvoeglik handel en my eie belang soek en liggeraak wees.
Met Facebook, en ’n iPhone, kan ek boek hou van die kwaad en my verbly in die onreg.
Ek glo alles wat op ’n iPhone of ’n BlackBerry se skerm kom. En ek vertrou dit. En ek verdra dit. ’n iPhone en ’n BlackBerry vergaan nooit nie: Die iPhone 3GS verander bloot in die iPhone 4S, die BlackBerry Curve 9360 word die BlackBerry Torch 9810.
’n iPhone en ’n BlackBerry dek alles en ontbloot alles.
’n iPhone en ’n BlackBerry is die weg na die waarheid, maar dis nie ál weg na die waarheid nie. Met ’n iPad kan ek ook op Facebook en Twitter kom. Met ’n iPad word die internet se profesieë ook vir my waar.
Ek kan na ’n fliek op ’n iPad kyk. Ek kan ’n boek op ’n iPad lees en speletjies op ’n iPad speel.
Toe ek ’n kind was, het ek prentjies met vetkryt in ’n inkleurboek ingekleur en met albasters in die sand gespeel. Ek het gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind en geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind. Nou speel ek Sarge HD of Akasuki of Golf Real op ’n iPad. Ek skiet denkbeeldige vyande met ’n lasergeweer dood. Party se koppe kap ek met ’n swaard af. Ek vernietig geboue en kastele. Ek val stede in en