Leeus met letsels (skooluitgawe). Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Leeus met letsels (skooluitgawe) - Fanie Viljoen страница 3
“Ek is orraait. En Ma?”
“Ek mis jou. Hoe was die vlug?”
Hy vertel haar van die vlug, die mense wat hy ontmoet het, en hy jok ook en sê dat sy pa baie gaaf is …
5
Ná sy ma se oproep besluit Buyi om sy tasse uit te pak. Die klere sit hy weg in die kas, die paar boeke wat hy saamgebring het stapel hy op die lessenaar langs sy iPod, ’n pak CD’s en DVD’s. Teen die kaal baksteenmuur sit hy ’n plakkaat op van Amir Khan, die bekende bokser.
Hy kyk na die venster hier langs hom. Moet hy dit vir ’n rukkie oopmaak? Maar sê nou net iets spring skielik deur – een van die bobbejane waarvan Lwazi gepraat het?
Hy skuif die gordyn weg en sit sy hand op die vensterknip.
Klik!
Stadig maak hy die venster oop. Die klanke van die nag vloei die kamer binne. Skielik wir ’n gogga by die venster in. Buyi skrik en val agteroor op die bed. Die swartvlerktor vlieg op na die lig. Buyi kan nie anders as om te lag nie. Hy het hom byna doodgeskrik vir die gediertetjie wat nou heeltemal onskuldig lyk.
Hy gaan sit weer by die venster en luister na die naggeluide. Hy probeer die vreemde reuke in die lug uitmaak … rook … droë gras … stof?
Skielik verstyf hy. Iets krap buite in die bosse. Buyi hoor gras ritsel, ’n gekrap, toe droë blare en takkies wat kraak. Dit klink nogal naby. Genoeg bravade vir een aand. Buyi pluk die venster vinnig toe en maak dubbeld seker die knip is deeglik op.
Sy pa is steeds nie terug nie.
Uiteindelik raak Buyi aan die slaap, sommerso in die klere wat hy heeldag aangehad het. Die klap van ’n deur maak hom later wakker. Haastige voetstappe. Hy lê versteen. Iemand beweeg in die chalet rond.
“Dêmmit!” Dis ’n man se stem. Sy pa?
Buyi hoor hom in ’n kas krap. Die klank van metaal. ’n Klikgeluid. ’n Skadu val oor die deurkosyn. “Buyisiwe?” Dis sy pa. “Maak seker al die vensters en deure is deeglik toe.” Sy stem is gespanne. Hy het ’n geweer en ammunisie in sy hand. “Daar was ’n ongeluk. Die nagsafari waarop Lwazi was, het op ’n leeu afgekom.”
Buyi voel skielik lam. Maar toe hy die voordeur hoor toeklap, spring hy op en gaan maak seker al wat ’n deur is, is gesluit. Elke venster op knip.
Vir ure daarna lê hy na die donker plafon en staar en probeer luister na die musiek op sy iPod. Een oorproppie in sy oor, die ander een uit, vir ingeval …
Laat die aand kom sy pa eers terug, sy klere oortrek met bloed.
“Wat het gebeur?” Buyi se stem is hees van vrees.
Sy pa sug, skud sy kop moeg en gaan na sy kamer toe om die geweer weg te sluit in die kluis. “Ek gaan stort,” sê hy toe hy weer uit die kamer kom. “Hoekom is jy nie in die bed nie?”
“Ek kon nie … Jy is vol bloed. Is jy oukei?” vra Buyi.
“Ja, gaan na jou kamer toe!”
Buyi wil skree van frustrasie. Wie se bloed is dit? Het hy die leeu doodgemaak? Of het die leeu … Nee, hy wil nie eens daaraan dink nie.
6
Iewers in die loop van die nag begin dit reën. Maar teen die tyd dat sy pa opstaan, het dit weer opgeklaar. Vyfuur, sien hy op sy selfoon se horlosie. Wat doen hy so vroeg op? wonder Buyi deur die slaap. Hy bly in die bed lê en luister hoe sy pa deur die huis beweeg. Themba loop sonder om ’n woord te sê.
Buyi raak weer aan die slaap, en toe hy uiteindelik wakker word, staan hy op en stap kombuis toe. Ontbyt is net ’n appel en ’n glas melk. Toe hy later aantrek, hoor hy André se opgewonde stem buite die chalet.
“Het jy gehoor?” vra André toe hy by die chalet instorm. “Simoshile se pa is laas nag deur ’n leeu aangeval! Lwazi, jy weet?”
Dit vat ’n rukkie voor Buyi verstaan. “Is Lwazi Simoshile se pa?” vra hy uiteindelik, maar toe tref dit hom: dis nie wat André so opgewonde maak nie. “Deur ’n leeu aangeval?”
“Ja, hoe cool is dit!” André se helderblou oë blink.
“Dis glad nie cool nie … Is hy oukei?”
“Hy’s orraait. Hulle het hom hospitaal toe gevat. Hy sal later vandag terug wees. Hy’s nie ’n ou vir hospitale nie.”
“Wat presies het gebeur?” vra Buyi. “Ek weet Lwazi en jou pa het ’n klomp toeriste op ’n nagsafari gevat. En dat hulle op ’n leeu afgekom het. Themba het gaan help.”
“Hulle Land Rover het in modder vasgeval,” vertel André grootoog. “Toe sien hulle die losloper-leeumannetjie in die bos dwaal. Hy het hom met die soeklig vasgepen. Die mense het foto’s geneem, en dis tóé dat dit gebeur …”
“Wat?”
“Ek weet niks verder nie. Ek het gehoor hoe my pa dit vir my ma vertel toe hy terugkom. Maar hy het die slaapkamer se deur toegemaak net toe die storie interessant begin word.”
“Die bloed op Themba se klere … Dit was Lwazi s’n?”
“Jip … So wat doen ons vandag?” vra André.
“Ek bly nét hier,” sê Buyi. “Ek gaan nie uit as daar ’n mensvreter-leeu buite ronddwaal nie.”
André grinnik. “Die wildreservaat is so groot, ou, wat is die kans dat ons op die leeu gaan afkom? In elk geval, leeus is saans op hulle gevaarlikste. Deur die dag lê hulle rond in die skadu’s van die bosse.”
“Ek weet darem nie …” sê Buyi wantrouig.
Maar uiteindelik oortuig André hom tog. Hulle gaan maak eers ’n draai by Mama Unathi se kombuis. Sy kan nie glo dat Buyi net ’n appel vir ontbyt geëet het nie. “Dis nie genoeg nie! Ek sal met daardie man praat. Hy moet weet hy het nou ’n verantwoordelikheid.”
Mama Unathi lyk sommer lekker omgekrap. “Ungakhathazeki. Toemaar.” Sy wys die seuns moet haar volg. “Ek het heerlike, stomende warm pap op die stoof.”
Vir die eerste keer eet Buyi stomende “pap” met suiker, romerige botter en melk. Terwyl hulle smul, verduidelik André vir Buyi dat die wildreservaat opgedeel is in drie kampe: Izolo, Namhlanje en Kusasa. Gister, Vandag en Môre. Die Groot Vyf loop in twee van hulle: Izolo en Namhlanje.
“Dis die grootste Afrikadiere, reg?” Buyi probeer klink of hy darem ook iets weet.
“Nie eintlik nie,” sê André. “Die Groot Vyf is ’n ou jagterm vir die gevaarlikste diere wat ’n mens kan jag: leeus, luiperds, olifante, buffels en swartrenosters.”
“En julle het hulle almal hier?”
“Jip!”
“Die diere in die ander