Danda op Oudeur. Chris Barnard
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Danda op Oudeur - Chris Barnard страница 6
“Hét jy daardie ander ou doodgemaak?”
Vetvoet knik. Maar hy kyk nie vir Danda nie, hy kyk anderpad. En Danda weet skielik Sarel jok al weer.
“Jy glo my nie?”
“Nee,” sê Danda. “Jy sal nie ’n mier doodmaak nie. En jy weet dit. En ék weet dit.”
“Jy ken my nog nie. As ’n ou met my sukkel soos Hans Hoed met my gesukkel het, dan gee ek hom wat hy soek.”
“Jy’t oor my gejok. Hans Hoed het my g’n met ’n mes –”
“Los dit vir my,” sê Vetvoet. “Ek weet wat ek doen.” Hy loer deur toe, luister ’n oomblik. Iewers in die agtergrond hoor hulle Kalkoen en Luis praat. “Jy ken die grot hier anderkant Puntjie – jy weet, die een onderkant die rooikransbos.”
“Ek was al daar.” Danda knik.
“Ek kry jou môremiddag daar.”
“Hoe laat?”
Maar daar is skielik voetstappe en Vetvoet swaai om en gaan staan voor die venster. Die deur gaan oop en Kalkoen en Luis verskyn.
“Het jy en jou jong vriend nou klaar gekuier?” vra Kalkoen vir Sarel. “Ek dink Tiens het snuf in die neus. Hy was netnou in die kantien.”
“Ons het nog nie eers begín kuier nie,” sê Vetvoet.
“Jy’t gesê jy wil hom net vyf minute sien sodat jy hom kan sê jy’s veilig. Jou vyf minute is al hoeka verby al.”
“Kom,” sê Luis vir Danda. “Jou kraai het omtrent al die papelellekoors hier buitekant.”
Danda staan op, maar Kalkoen lig sy gebreklike hand. “Onthou nou net,” sê hy. “Jy sê vir niemand jy was hier nie. Nie eens vir jou pa nie. En van Sarel Vetvoet weet jy net mooi niks nie, gehoor? Niks!”
Danda knik.
“My diep vriend,” sê Vetvoet, “dit was goed om jou weer te sien!” Hy glimlag en vryf ’n slag oor die groot vratte op sy neus – maar dis net sodat Kalkoen nie moet sien hy knipoog vir Danda nie. “Bly jy maar uit hierdie ding uit – ek sal wel vir myself sorg.” Hy klap Danda op die skouer en Danda knik en beweeg deur toe, waar Luis al op hom staan en wag.
“Onthou!” roep Kalkoen Viljoen agterna. “Nie ’n woord nie of ek trek jou basvelle vir jou af. En jy bly hier weg tot ek jou sê jy kan weer kom.”
“Goed,” sê Danda.
Die deur gaan agter hulle toe en die volgende oomblik kom Kiki met swiepende vlerke op hulle af. Hy pik ’n slag na Luis, kom sit op Danda se skouer en skop ’n lawaai op, kompleet asof hy sy baas berispe.
Luis beduie met sy arms. “Maak stil daardie ding – netnou hoor die diender ons!”
Hulle loop koes-koes oor die binneplaas en Luis stoot die hoë heining se sinkdeur oop. Danda loop deur en begin die trap boontoe klim sonder om te groet. Eers toe hy bo in die straat is, gaan hy weer staan. Hy kyk links en regs.
En aan die bopunt van die straat staan die bedelaar nog steeds windskeef tussen sy krukke.
Die res van Danda se middag is omgekrap. Hoe meer hy probeer uitpluis aan die dinge wat hy gesien en gehoor het, hoe minder verstaan hy daarvan. Is dit moontlik dat Sarel Vetvoet iemand kan doodgemaak het? Soos hý Sarel ken, is dit heeltemal buite die kwessie. Vetvoet praat wel groot, ja; hy vertel met smaak die afgryslikste stories, maar toe hy en Danda een middag in die vygieduine langs die riviermond op ’n halfdooie hasie in ’n strik afkom, kon einste Sarel dit nie oor sy hart kry om die diertjie van kant te maak nie. Danda moes dit self doen.
’n Méns doodmaak? Nie Vetvoet nie.
En dié Hans Hoed. Wie is hy? Een van Pontak-hulle se vriende, seker – maar wat was Vetvoet se verbintenis met hom?
Dan is daar nóg iets wat Danda nie kan begryp nie. Sy pa vertel hom nooit van alles wat in die dokke gebeur nie, maar as daar darem iemand vermoor word, bly ’n mens nie so stil daaroor nie.
Dié aand praat Danda nie met sy pa oor die saak nie. Of hy dit sou regkry sonder om onnodige hase op te jaag, is maar een probleem. Want kans om te probeer, kom daar nie. Hulle het pas klaar geëet, toe word daar aan die deur geklop. Danda gaan maak oop. Dis tant Sara, ’n vriendin van sy pa wat langsaan woon. En Danda weet al – as Sara kom, dan gesels sy en sy pa altyd op die stoepie of onder in die werf, of hulle gaan stap in die dorp. En as jy die hele middag alleen was, is dit nie lekker om nog saans ook sonder geselskap te sit nie.
Buitendien hou Danda nie baie van Sara nie. Sy is altyd kortaf met hom en sy diere, en sy maak altyd haar lippe te rooi. Sy pa koop vir haar sjokolade en borsspelde en sulke goed, en Danda het nog nie één keer gehoor dat sy dankie sê nie. As hý by sy pa iets kry, sê hy altyd oor en oor dankie, want hy weet alles kos geld en geld is skaars en sy pa werk hard vir die bietjie wat hulle het.
Sara se lippe is weer rooi en sy en sy pa gesels ’n rukkie op die agterstoep en gaan later saam teen die trap af. Danda is al in die bed en byna aan die slaap voordat hy weer die agterdeur hoor oopgaan. Hy lê en luister hoe sy pa water in die bad indra, maar hy kan nie wakker bly nie. En die volgende oggend toe hy wakker word, is sy pa al klaar weg werk toe.
Op pad skool toe moet hy voor die polisiestasie verby en soos gewoonlik dié tyd van die oggend staan konstabel Tiens in die deur en koffie drink. Danda hou hom skraal en wil koes-koes verbystap, maar die konstabel het valkoë.
“Jy daar, Daneel,” roep hy. “Kom staan bietjie nader.”
“Ek is laat,” sê Danda.
“Laat se voet. Dis nou eers twintig voor!”
Danda steek die straat oor en gaan staan in die hekkie, boeksak oor die skouer.
“Bietjie koffie?” vra Tiens.
“Nee dankie, Oom.”
Die konstabel het ’n pikswart hangsnor en sy tande is gevlek van baie pyprook.
“Jy’t gedag ek sien jou nie gistermiddag nie, nè?”
“Waar, Oom?”
“Jy weet goed waar. Wat soek jy daar by die kantien?”
“My kraai, Oom.”
“Dis ’n gevaarlike plek daardie vir ’n bog soos jy. Toe jou kraai gekry?”
“Ja, Oom.”
Tiens glimlag, kom nader gestap. Hy sit sy koffiekoppie op die hekpaal neer, klap vir Danda op die skouer en vou sy hande oor sy groot maag. “Jy en daardie Vetvoet-vent is mos sulke groot maats.”
Hier kom moeilikheid, dink Danda.
“Wanneer het jy hom laas gesien?”
“Ek sien hom nie meer so baie nie,”