Meditasies. Joan Hambidge
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Meditasies - Joan Hambidge страница
MEDITASIES
Joan Hambidge
[no image in epub file]
Human & Rousseau
Oor die uitleg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Meditasies mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Vir Johann de Lange
Lyric poets
Usually have – as he knew – cold hearts.
– Czeslaw Milosz
I Meditasies: Stede
1 Tafereel
’n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ’n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ’n voël opgesluit in ’n hok. Sy kraalogies
draai soos ’n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ’n ander bestaan, ’n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip.
’n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. Só vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig,
in hierdie digterlike tuin.
2 Tokio, ’n meditasie
Het stilte ’n struktuur? skryf jy in ’n e-pos
laatnag, by my in ’n ander tydsone reeds lig,
wyl ek stoei met wifi in ’n hotelkamer van die Shiba Park.
My antwoord na jou bly vashaak, kopsku, spartelend
soos ’n vis wat binnekort sy ki gaan verloor.
Net agter die hotel staan ’n begrafnisonderneming,
’n karaoke-bar en ’n park vir sloom wandelinge.
Hierdie e-pos is soos smeulvuur, skryf ek terug.
Daar is nog steeds geen aanlynverbintenis nie.
By die tempel gister my hande gewas, ’n munt gelaat.
Die gode hier, soos ek, swyg in alle teengestelde tale.
In ’n onversende e-pos seng geluidloosheid stilweg.
3 Meditasie, pyn
Sou ek betyds kon wegdraai,
’n pynlike proses eerder vermy?
Sou ek ’n boodskap kon hoor,
was ek nooit geswartlys?
Sou ek kon sien hoe ander en jy
my sou uitlewer, was ek nooit getribunaal?
Sou ek dit alles vooraf kon weet,
was ek nooit geviktimiseer?
Daar was oorgange, bakens van pyn,
wat alles steeds bly bepaal.
Sou ek betyds kon wegdraai,
’n pynlike proses dan vermy?
Vraagtekens van herinneringe
in die voorportaal van ’n hotel:
die tyd in Tokio óngesinchroniseer
met die tydlose ruimte van my psige.
4 Tokio, ’n meditasie
’n Nokia met ’n buik gelaai vol SMS’e,
’n Dell Vostro met leggers vol herinneringe
en foto’s geneem met ’n digitale kamera,
twee e-posbusse wat swel by die dag.
Ek maak my los van hierdie boodskappe,
aanmanings, registrasies. You’ve got mail!
raas die in-boks in die Shiba Park-hotel.
Vroeër immer so ’n kamer gedeel of verlang
na die ander, die immer afwesige of vertrekkende.
Nou is die hotelkamer ’n lafenis, meer as ’n bed
in ’n stad sonder straatnommers, flitsende neon.
Ook die stad van tussenin-wees, ’n bardo dus.
Oosters, onbekend, maar wegwyser na die Weste.
En jy? Jy is reeds in San Francisco lesend aan Borges,
met ’n glas merlot van Francis Coppola, wagtend
op ’n boodskap van my amper in die Pickwick Hotel.
Ek sal jou alles vertel van Tokio en hoe ’n gedig
Borges-agtig my gevange hou totdat jy dit lees.
5 San Francisco, ’n meditasie
Op soek na die hotel
waar ek as jongeling vertoef
(speel ons naald-naald in die hooimied soek?)
stap ek verby vele bakens
soos die Express-bushalte
twee blokke wég van die Pickwick Hotel.
Ek is Joan-en-die-Boontjierank
wat met my sewemyllaarse reis.
O stad, ek soek na die mens
wat