Meditasies. Joan Hambidge
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Meditasies - Joan Hambidge страница 3
Less is more, meen onse Mies,
in ’n stad van oorvloed, oordaad
en die Tweede Stad is een van oorwinning
na verwoestende aanslae en vuur:
Godin Ceres vervang deur ’n feniks.
11 Keerweer
Op die hoek van Dunbarton
en Wisconsin, Washington
verloor ek ’n gedig oor Chicago.
Daardie gedig, dit weet ek,
sal my agtervolg soos ’n slegte gewete
of ’n droom van iemand, iewers op ’n hoë gebou
wat val en woordeloos roep om hulp.
Dit sal terugkeer (soos Eliot waarsku)
in ’n ander vorm, langs ’n ander roete,
kopsku die opwagting maak: “Hier’s ek.”
Dalk het daardie vers
beland op ’n ander busroete
of dalk gaan asiel soek by die ambassade?
Of vermoeid en rooi-oog
’n naam op die waglys geplaas:
Ek was in Chicago,
’n bootvaart meegemaak,
bewonderend gestaar na Mies van der Rohe
se tuimelende geboue,
die koue waters voel rinkel
soos ys in ’n glas, verby die Chicago Tribune,
die speakeasies,
van die boot afgeklim,
na links gestaar na ’n standbeeld
van Marilyn Monroe in haar bekende pose,
my glas gelig op Chicago:
“my kind of town”.
12 Digkuns, ’n meditasie
Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry
en sy worsteling met die groot stiltes.
Hoe verwoord ’n mens dit, die grootste Abstraksie?
Vir bykans twintig jaar, word vertel, geen woord
op papier na die dood van sy mentor, Mallarmé.
Stilte en dood sou my mentor waarsku,
is die vyand van hierdie gedig; dus, wis uit.
Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry
se worsteling met sy sonderlinge stilstuipe.
Die groot beoefenaar van die Simbolisme
se kondisie word ’n skelm, sikkeneurige stillewe.
Stilaan begin die vers uit stilte stoel,
’n stolrots ontspruit immer uit ’n stimulans.
In Louis Eksteen se Afrikaanse Sinoniem-
woordeboek (met antonieme) sketter ’n motto:
“All that lives must die
passing through nature to eternity.”
Pampoengeel boek van J.L. van Schaik,
helaas nou onbekombaar, gepubliseer in 1981.
Voor daardie groot Stilte my doodsmoor,
gee ek my oor aan konkrete beelde
– vermy abkrete en luister na konstraksies –
hier laatnag in Chicago, beslis my soort stad,
in fyn afwering én balans met die groot Abstraksie.
13 Washington D.C., ’n meditasie
’n Sondagoggend in hierdie stad
leer my alles van hóé om eensaamheid
te verstaan: alleen op ’n dubbeldekker-bus,
solo in ’n koffiewinkel, enkel in ’n restaurant
in Georgetown. Klanklose televisie,
’n soutpot sonder maat, ’n Spaanse kelner
sukkelend met ’n bestelling en ’n hotelkamer
sonder ’n concierge of nagbestuurder.
Maar dis eers om vyf vm., post hierdie Sondag
toe ek die stad van gedenktekens verlaat,
die stad der allergeregtighede, dat ek onthou,
hoe verlange na jou presies hierdie storie herhaal:
ek op vertrek na ’n vreemde bestemming,
op ’n sabbatsreis in sonderlinge stilte –
jy wat peper gooi oor ons verbintenis
en ek wat my oorgee aan die vreemde bedryf
van pyn vertaal in dít wat jy nooit sal begryp.
14 New York, ’n meditasie
Tydens ’n slapelose nag in die stad-wat-nooit-slaap
flikker ’n advertensiebord ’n beeld van ’n stappende mannetjie.
Vannag onthou ek die vele mense met roet oor hul gesigte
op die Brooklyn-brug, weg van die gemaal én twee geboue.
Eers die werklike gebeurtenis, dan die vele voorstellings.
Uit verskillende hoeke afgeneem, weergegee en vermenigvuldig.
’n Vuur bly brand ter herdenking; foto’s teen mure,
blomme, kruise, onderhoude met naasbestaandes, hou
die herinnering lewend: pyn is ’n slaapwandelaar
waarvoor daar geen kuur bestaan, toe of nou.
’n Polisiepet, een paar skoene en ’n speelding
uitgestal