Eiland van drome. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach страница 7

Eiland van drome - Malene Breytenbach

Скачать книгу

ander weg is, kyk Irene haar woonstel goed deur. Verlustig haar in alles. Iemand klop aan die deur en toe sy oopmaak, staan ’n man met ’n trollie bagasie daar. Hy laai hare af en dra dit vir haar op na haar slaapkamer.

      Sy pak uit en bêre alles in die nuwe kaste. Hier, glo sy, gaan sy lekker bly.

      • • •

      Irene loop by die voorportaal van die hoofgebou in. Nancy Dewar is reeds daar. Sy staan en gesels met Maritsa Papas. Nicholas Barton is diep in gesprek met die ontvangspersoneel. Net daarna kom Suzette saam met die twee sielkundiges in.

      Nicholas kom na hulle aangestap. “Goed, mense. Ons toer deur die kliniek kan begin. Ná die tyd kan julle die res van die dag ontspan. Vanaand eet julle om seweuur saam in julle eie eetkamer. Maar daar is ook ’n kafeteria met vier-en-twintig uur diens. Ons personeel werk in skofte. Môre kan julle bietjie van die vlugvoosheid herstel. Julle sal darem nie van die begin af ooreis word nie. Ons eerste pasiënte kom eers oor drie dae hier aan en dan kan ons in alle erns begin werk.”

      Hy loop voor en Irene probeer naby hom bly sodat sy niks mis wat hy vertel nie. Hy is langer as hulle almal en sy kop steek bo die groep uit.

      “Die hele idee met hierdie afgesonderde kliniek is om die maksimum rustigheid, privaatheid en uitstekende sorg in ’n mooi omgewing te bied,” vertel hy. “Hier het ons private wooneenhede met en suite-badkamers, persoonlike sluitkaste, die nuutste platskermtelevisies en foongeriewe. Die alleenstaande eenhede is die duurste.”

      Hy neem hulle na een van die wooneenhede, wat so ruim en pragtig ingerig is soos ’n suite in ’n baie duur hotel. Dit is natuurlik vir pasiënte wat net aan die beste gewoond is, dink Irene.

      Hy wys hulle die rokers en nierokers se sitkamers, die goed toegeruste biblioteek en leeskamer, die speletjieskamer en ’n gimnasium wat, glo Irene, moeilik oortref sal word. Sy sal soms hierheen kom, hoewel sy gewoonlik eerder gaan draf.

      “Die pasiënte mag die gim tydens stil tye gebruik,” sê Nicholas Barton. “Vroegoggend of in die aande is die beste. Ons het nie buitepasiënte nie. Mense bespreek om hierheen te kom en bly dan so lank as wat nodig blyk te wees. Ons sal dit verwelkom as julle artikels oor julle werk en bevindings publiseer. Dit sal terselfdertyd as advertensie vir ons kliniek en dienste dien.” Hy kyk na Irene. “Jy het ’n goeie publikasie­rekord, dokter Basson.”

      Irene knik. “Ja, dankie. Ek dink altyd ’n mens behoort enig­iets nuuts bekend te maak. Tot voordeel van ander navorsers.”

      Hy wys hulle die groot eetsaal en twee kleiner eetsale, waarvan een slegs vir personeel is, die kombuis waar personeel in wit werskaf, die groot stoepe met tafels, gemak- en lêstoele. Daar is ’n helderblou, Olimpiese grootte swembad.

      “Ons het ’n swembad vir dié wat nie in die see wil swem nie,” sê Nicholas. “Maar daar is natuurlik ’n lekker strand ook hier naby.”

      Irene loop langs hom. Sy probeer om nie te wonder hoe hy in ’n baaibroek sal lyk nie.

      Dit help nie sy probeer dit ontken nie. Die wete dat hy hopelik meestal hier sal wees, dat sy hom gedurig te sien gaan kry, is nie onaangenaam nie.

      “Ons personeel wat skoonmaak, wasgoed doen en die kombuis en terrein beman, woon ’n halfkilometer suid hiervandaan,” sê Nicholas. “Die geneeskundige span is nader, vir noodgevalle. Julle moet byderhand en eintlik altyd op roep wees. Oormôre hou ons personeelvergadering. Ons personeel bestaan uit psigiaters, kliniese sielkundiges, arbeidsterapeute, psigiatriese verpleegsters en dieetkundiges. Ons volg sowel gevestigde as meer eksperimentele metodes en ek wil hê ons moet so ’n goeie, geïntegreerde span wees soos by die South­easter Clinic in Kaapstad. Al die personeellede is noulettend gekeur en het die beste moontlike kwalifikasies. Julle is dus uitgesoekte, hoogs professionele mense en ons het volle vertroue in jul vermoëns.”

      Hy loop in ’n gang af en wys aan elkeen sy of haar goed toegeruste spreekkamer.

      “Aansoeke en verwysings word direk aan my of die superintendent, dokter Spiridon Kamanlis, gerig. Ons ken dan die pasiënte toe aan wie hulle ook al moet behandel. Dokter Kamanlis sal môre hier wees. Hy moes eers sake by ons kantoor in Corfu afhandel.”

      Nadat hulle deur die hele sentrale fasiliteit gestap het, is hulle weer terug in die voorportaal by ontvangs.

      “Ons verwelkomingsete is eers môreaand, wanneer die personeel voltallig is,” sê Nicholas Barton. “Julle mag enige tyd enigiets by die kombuispersoneel bestel, binne perke, natuurlik. Dis tog nie ’n koshuis nie.”

      “Nee, dis iets tussen ’n koshuis en ’n vakansieoord,” grap Suzette.

      Hy lag. “Wel, dit kom seker so voor. Ek hoop julle sal die omgewing inspirerend vind. Nou kan julle ontspan. Ek gaan na my huis aan die ander kant van die eiland. Indien julle my dringend soek, vra die ontvangspersoneel om my te skakel. Ek verwag egter dat dit slegs in uiterste noodgevalle sal gebeur. Dankie, dames en here, geniet julle verblyf op Manos. Ek vertrou dat ons lekker sal saamwerk.”

      Irene verbeel haar sy blik talm op haar.

      Sy besef sy frons. Vinnig glimlag sy. “Baie dankie, ek is seker ons sal goed saamwerk,” sê sy.

      Toe hy terugglimlag, voel sy skoon week.

       5

      Daar is ’n klop aan Irene se deur. Toe sy oopmaak, staan Roelof Schutte daar.

      “Ek het by ontvangs gereël dat ons een van hulle poelvoertuie kan gebruik om die eiland te verken,” glimlag hy.

      “O, dit klink lekker. Kan Suzette saamkom? Ek het belowe dat ek en sy dit saam sal doen.”

      “Nou goed. Sal ons sommer nou gaan?”

      “Ja, voordat die son ondergaan.”

      Hy het in ’n bussie gekom en sy klim langs hom in. Hulle gaan tel Suzette op wat ’n entjie van die dokters af by die ander verpleegsters woon.

      “My plek is nie heeltemal so snazzy soos joune nie, dokter,” sê sy vir Irene. “Maar ek kan nie kla nie. Dis veel beter as waaraan ek gewoond is.”

      Irene draai om en kyk kastig streng na haar. “Kyk, ek dink regtig jy moet my liewer Irene noem. Ons ken mekaar mos darem al ’n geruime tyd.”

      Suzette grinnik. “Oukei, maar in die kliniek sal ek professioneel wees.”

      Roelof ry op ’n pad wat om die eiland gaan, tussen bosse deur en verby ’n strandjie waar die see kalm en helderblou teen die wit sand klots.

      “Hoe idillies,” sê Irene. Dit sal lekker wees om hier te kom swem, dink sy.

      “Ons moet sommer binnekort kom swem,” sê Roelof, asof hy haar gedagtes lees. “Dis jammer ons het nie nou tyd nie. Netnou is dit donker en ek wil darem die hele eiland sien. Ek wil veral sien waar ons grootbaas woon. Dalk bly hy in ’n paleis, soos dié op Corfu. Dalk is dit nog vol mooi meisies wat sit en wag dat hy huis toe kom.”

      Suzette lag. “Soos mens in die flieks sien. Almal lê om die swembad in einaklein bikini’s en deurtrekkers, of bostukloos, en bruin van kop tot tone.”

      “Ek glo nie dis hoe hy lewe nie,” mymer Irene.

Скачать книгу