'n Man vir môre. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Man vir môre - Ettie Bierman страница 7

'n Man vir môre - Ettie Bierman

Скачать книгу

wen. Ek het hom nie weggestoot nie. Nie dadelik soos in onmiddellik nie.”

      “Hoe bedoel jy? Ek dag die twee woorde is dieselfde.”

      “Nee, daar’s ’n verskil. ‘Onmiddellik’ is korter. Of . . . gouer. ‘Dadelik’ is miskien so . . . e . . . twee tellings langer.”

      Vera geniet dit. As Cielie begin hakkel, is daar ’n slang in die gras. Of, meer pertinent: ’n man in die prentjie. Dus was sy reg . . .

      “Het jy vir die ou geval?” wil sy nuuskierig weet.

      “Natuurlik nie! Moenie simpel wees nie.”

      “Hoekom anders het jy hom dan so vurig vasgegryp?”

      Cecilia raak vies. “Ek het nie! En dit was ook g’n vurig nie.” Sy klim uit die bad en draai die handdoek styf om haar, asof sy koud kry. “Dit was bloot platonies. Ek sê mos: Ek was deurmekaar en het gedink hy is my broer.”

      “Hoe omhels mens ’n sexy ou platonies? Vertel dit vir die voëls daar buite. Jou broer?” Vera lag. “Jy hét nie eens ’n broer nie, Ciel! Heng, is jy só naïef? Jy was dan so te sê getroud. Steve kan wees wat hy wil, maar hy het beslis nie ysblokkies in sy are nie. Inteendeel. Almal weet daai ou is kookwater . . .

       Jy weet mos van dié soort dinge: wanneer dit byvoorbeeld jou boetie is, en wanneer dit ’n volbloed-vleispaleis is met allerhande bybedoelings.”

      “Vera!” keer Cecilia verleë. “Ek het kloustrofobie gehad, en dan dink mens nie nugter nie. Hopelik het hy niks agtergekom nie. Maar eintlik maak dit nie saak nie. Ek glo hy het klaar my naam vergeet en iemand anders aangestel. Waarskynlik daardie swartkopmodel wat in die wagkamer gesit het.”

      “Wie sê? Ek weet jou selfvertroue is op ’n laagtepunt, maar moenie jouself onderskat nie. Jy lyk self soos ’n model, jy het goeie kwalifikasies en praat vier tale. In my boek die ideale skakelbeampte.”

      “Ná die onderhoud het hy my stug gegroet en gesê ek moenie moeite doen om te bel nie.”

      “Is dit wat hy gesê het?”

      “Nie hy nie, sy lyftaal.”

      Vera rol haar oë, tel die twee leë glase op en mik deur toe. “Hy het ’n top-jop. Wat het jy verwag? Dat hy jou weer moes omhels – ten aanskoue van sy sekretaresse, personeelbeampte en adjunk? Kom by, vriendin . . . Nie alle mans is so indiskreet soos jou eksverloofde nie.”

      Eksverloofde . . . In haar gedagtes het Cecilia Steve allerhande name genoem: Leuenaar. Tweegesig. Valsaard. Maar nog nooit eksverloofde nie. Komend van iemand anders sny die woord haar hart in stukke; elke stuk vol skerp lemme wat die res van haar binneste opkerf.

      Sy draf sitkamer toe, sleep haar tas onder die bank uit en grawe ’n ou sweetpak uit om aan te trek. Dit dien tans as haar pajamas, sodat sy darem respektabel is as iemand aan die voordeur klop of een van Vera se kêrels onverwags opdaag. Die frilletjies en kantjies, die sy-en-satynnagklere wat sy in Parys vir hulle wittebrood gekoop het, lê in ’n laai êrens in Steve se huis, saam met die res van haar goed wat sy halsoorkop agtergelaat het. Dalk het sy nuwe meisie dit intussen ontdek. Dalk al aangepas en benut, wetend uit ervaring watter soort ding sy rewolusies opjaag.

      Cecilia pluk die sweetpaktop se rits met geweld tot bo teen haar ken op. “Wil jy pasta hê?” skree sy in die gang af.

      “Hoekom?” kom Vera se stem terug, vanuit haar kamer.

      “Omdat ek besig moet bly, anders sal ek daardie gewetenlose flerrie se oë gaan uitkrap en ’n mes tussen my eksverloofde se ribbes indruk. Omdat dit my beurt is om aandete te maak, en omdat pasta al is wat ek kán maak.”

      Vera loer om haar deurkosyn. “Ek is bly jy’s op die oorlogspad. Dis goed vir jou moraal. Om hom te wil vermoor, is beter as om vir hom verskonings te soek. Pasta sal lekker smaak. Kan ek help?”

      “Nee dankie. Ek het alleentyd nodig.”

      Vera ken haar te goed, en Cecilia is bang sy sien hoe onoortuigend die oorlogvoering is. Soos om met ’n propgeweer te skiet. As Vera net een trooswoord sou sê, sal sy begin huil en nie weer kan ophou nie. En ontroue Steve en sy handperdjie is dit nie werd nie – nie ’n enkele traan of ’n minuut se wakkerlê nie.

      Genadiglik stry Vera nie. Vyf jaar vriendskap is ’n lang tyd. Hulle was saam op kursus, het saam vlerkies gekry, saam hul groentjievlug gedoen. Vera weet wanneer om te boelie, wanneer om wyn aan te dra en wanneer om haar alleen te los.

      Sy braai spek en uie saam met ’n hand vol sampioene, ’n knypie origanum en ’n skeutjie knoffel. “Na gedagtenis,” sê ouma Klara altyd.

      Terwyl Cecilia wag dat die spaghetti kook, blaai sy deur die koerant wat sy op Middelburg gekoop het. Haar vinger soek deur die Betrekkings Vakant-kolomme. Operateur vir padwerke-masjinerie (applikante moet ’n swaarvoertuigrybewys hê). Skofbaas by ’n myn (skietsertifikaat ’n vereiste). Kosverwerkingstoerustingverkoopspersoon – alles een woord (maar slegs manlike applikante). Die laaste een kan sy skaars spel, en dit wat verder in hakies staan, diskwalifiseer haar. Die alternatiewe is: kelnerin by ’n Bunny-klub, of naweekgesellin vir reisende sakemanne (vergoeding onderhandelbaar).

      Sy sidder. En boonop is die spaghetti besig om te brand . . .

      4

      As Cecilia gedink het gister was soos Vrydag die dertiende, kom sy agter Saterdag die veertiende is erger. Sy lê op die sitkamerbank, hare deurmekaar, sonder grimering en nog met die uitgerekte ou sweetpak aan, toe daar ’n klop aan die voordeur is.

      “Wiessit?” fluister Vera. “Assit Robert is, sê ek’s uit saam met Charl.”

      Cecilia druk haar oog teen die loergaatjie. Wens dan sy het nie.

      “Cilla?” roep Steve aan die ander kant. “Ek kan sien jy’s daar. Maak oop, ek wil met jou praat, asseblief.”

      Sy blokkeer die gaatjie met haar vinger en druk haar mond teen die deur. “Loop praat met Nadine Groenewalt! Sy sal dit meer geniet as ek.”

      “Ek wil nie met Nadine praat nie, ek wil met jóú praat.”

      Agter Cecilia skud Vera haar kop. “Nee. Moenie weer sag word nie . . .”

      “Nee!” eggo Cecilia. “Ek wil nie weer jou leuens en ver­skonings hoor nie. Ek en jy is klaar. Oor en verby, vir altyd.”

      “Ek kan nie hier buite staan en ons privaat besigheid aan die mure en die bure uitbasuin nie,” pleit hy.

      “Juis. Dis hoekom ek sê jy moet loop. Loop trou met Nadine. Ek is mos nie goed genoeg vir jou nie. Jy wou haar mos hê . . . Gaan vat haar!”

      “Ek wou haar nie hê nie.”

      “Waarvoor het jy dan saam met haar in die bed geklim?”

      “Ek het nie. Cilla, ek het jou twintig keer gesê: Dis nie soos dit gelyk het –”

      “Ek wil dit nie één en twintig keer hoor nie!” praat Cecilia hom dood.

      “Laat ek asseblief klaar praat!” Steve was verbasend geduldig, maar sy kan hoor hy begin kwaad word. “Gee my ’n kans, en hou op

Скачать книгу