Hard soos kameeldoringhout. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hard soos kameeldoringhout - Sarah du Pisanie страница 7
Haar stem klink benoud toe sy ’n slag kug en dan die bul by die horings pak.
“Meneer Potgieter . . . ek sal nie vir jou moeite wees nie. Ek . . . ek wil net agter jou aantrek. Ek ken nie hierdie wêreld nie. Ek . . . wat jy ook al van my mag dink, ek móét dringend by my pa kom. Ek kan nie . . . ek kan ongelukkig nie byhou teen die pas wat jy handhaaf nie. Kan . . . sal . . .?” Sy sluk swaar en strengel haar vingers inmekaar.
“Sal jy asseblief ’n klein bietjie stadiger trek? Dan . . . dan sal ek kan byhou. Asseblief, meneer Potgieter! Apools is al oud en . . . Ek sal jou betaal, ek het geld.”
Braam voel iets soos skaamte in hom roer. Hy trek nooit teen so ’n moordende pas vir die osse nie. Sy vra mos niks van hom nie. Wat sal dit nou aan hom doen as sy net agter hom aantrek?
Martie is oortuig dat hy gaan weier. Hy is net so ’n soort mens. Hy sal nie van plan verander as hy eers op iets besluit het nie.
Bang loer sy na hom. As hy nóú weier, sal sy moet omdraai – môreoggend nog. Hulle kan nie hierdie pas volhou nie, en dalk verloor hulle later heeltemal die spoor as hy onder hulle uittrek. Sy sien nie daarvoor kans om alleen in hierdie woeste wildernis te wees nie.
Braam se stem klink egter ongeduldig in die skemer.
“As jy so danig baie geld het, hoekom het jy nie vir jou ’n ordentlike wa gekoop nie?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie, druk net by haar verby en verdwyn tussen die bosse.
Peinsend stap Martie terug. Sy weet nie wat om van sy antwoord te dink nie. Sy eet klaar en dan kom skuif Apools en Chrisjan stil langs haar vuur in. Die hele tog van die Kaap af hou hulle saans godsdiens as hulle klaar geëet het. Gisteraand was sy egter te bang om godsdiens te hou. Sy het vir Apools en Chrisjan gevra om liewer te gaan slaap. Vanaand laat hulle hulle egter nie weer keer nie.
Martie gaan haal dus haar Bybeltjie en lees vir hulle ’n stukkie voordat sy ’n gebed doen.
“Ek dink nie ons moet sing ook nie. Ek is bang ons hinder die ander mense.”
Sy sien die teleurstelling op Apools en Chrisjan se gesigte en sy voel gemeen. Dis altyd vir hulle die hoogtepunt van die aandgodsdiens; hulle sing tog te graag.
“Ons sal kyk hoe lyk dinge môreaand. Ek kan nie bekostig dat die mense nou vir ons kwaad word nie.”
Die pas is egter die volgende dag beslis stadiger en dis met ’n dankbare hart dat Martie sommer vroeg die middag haar wa langs Braam s’n intrek.
Dis eers toe sy al begin vuurmaak dat sy opmerk dat net twee van sy waens uitgespan is. Die derde wa se touleier het rustig onder die boom gesit en dié staan nou op en al steunend kom die span osse weer in beweging.
Martie spring verskrik op. Haar wa is reeds uitgespan. Wat gaan dan nou aan? Sy lig haar rok effens op en hardloop vinnig na Braam toe wat sy geweer in sy saalsak druk en die perd se buikgord stywer trek.
“Meneer Potgieter! Ek het gedink ons span uit vir die dag. Moet ek weer inspan?”
Braam se hande verstil en hy draai stadig om. Die maer vroumens met haar twee groot oë laat hom lomp en onbeholpe voel. Wat weet hy tog nou van vroumense af? Hy het nooit daaraan gedink dat die arme siel nie sal weet dat Omaruru net agter daardie plaat bome lê nie.
Hy sien die moegheid op die skraal gesiggie en iets vreemds roer in sy binneste; iets wat hy nie ken nie en wat hom ongeduldig maak.
“Nee, ons span uit. Ek vat net hierdie goed Omaruru toe.”
Hy sien die onbegrip in die twee groen oë en verduidelik lomp verder.
“Omaruru lê net agter daardie kol bome. Ek kom netnou weer met my perd terug.”
Sy lek senuweeagtig oor haar lippe en staar hom nog steeds onbegrypend aan.
“Die ou handelaar laai solank vanaand die wa af en dan kry ek dit môre weer daar. Sodoende hou hy my nie op nie.”
“O!” Martie glimlag verlig. “Ek . . . ek sal solank vir ons kos maak . . . as . . . as jy wil?”
“Ek kom gewoonlik laat terug.”
“Ek sal jou kos bêre. Meneer Potgieter, ek wil nog dankie sê vir . . . vir vandag. Ek . . . ons kon toe goed byhou.”
Braam frons net en sit sy voet in die stiebeuel. Martie se bruin hare is vaal van die stof en ’n dun lagie stof lê oor haar gesig. Die twee groen oë wat afwagtend na hom opkyk, is egter helder en blink.
Hy kap sy hakke in die perd se sye en Martie gee vinnig pad. Haar hart voel lig en opgewek. As hierdie woeste man haar net saam met hom sal laat trek, sal sy soveel veiliger voel.
Sy gaan staan skielik en skud haar kop. Veiliger? Dis ’n snaakse gedagte wat nou by haar opgekom het!
Braam kyk nie om nie. Die twee groen oë spook by hom. Die vroumensie met haar twee uil-oë moet nou net nie staan en dink dis om haar ontwil dat hy vandag stadiger getrek het nie. Hy wou maar net gister ’n groot stuk pad agter die rug kry. Vandag se skof was toe nie so lank nie. Dis al!
Hulle kampeer vanaand in ’n rivierbedding. Nadat die osse klaar gesuip het, het Apools ’n rukkie gewag totdat die water nie meer so troebel was nie en toe die watervaatjies weer vol gemaak.
“Hier is baie water, juffrou Martie. Kan ek vir juffrou die badjie ook vol maak?”
“Asseblief, Apools. Ek dink ons moet sommer die groot pot op die vuur skuif, dan kan ek ’n bietjie warm water maak.”
Dankbaar help Martie vir Apools om die badjie los te maak. Aangesien Braam nie vanaand hier gaan wees nie, kan sy ’n slag ordentlik bad. Die ruimte in die wa is egter so beknop dat ’n mens dit nie juis ’n bad kan noem nie. Dis eintlik maar net ’n ordentlike was.
Sy borsel haar hare totdat al die stof uit is en dit weer sag en blink in die lamplig glinster.
Intussen kook die potjie met die lekker vet skaapblad stadig op die vuur. Sy het nog aartappels en uie en ook droëbone wat sy nou-nou daar wil ingooi. Sy wil vir die man ’n ordentlike bord kos kook. Hy moet darem weet sy is dankbaar dat hy vandag so vriendelik was om haar ’n kans te gee om by te hou.
Vleis is ’n probleem in hierdie hitte. Haar voorraad vleis staan nou einde se kant toe. Sy doen alles wat sy kan om dit te bewaar, maar dit help nie veel nie. Daar is nog net ’n gesoute ribbetjie oor en dan sal sy moet uitkyk vir ’n vleisie.
Hans het altyd vir hulle ’n bokkie gaan skiet. Hulle was toe meer mense en kon dit dus opgeëet kry voordat dit sleg was.
Vanaand laat Apools hom nie weer afsit toe dit tyd word vir aandgodsdiens nie. Nadat hulle klaar geëet het, skuif hy en Chrisjan nader.
“Vanaand kan ons mos maar sing, nè, juffrou?”
“Ja, goed, Apools, ons kan maar sing.”
Eensaam en verlate, maar ook met ’n noot van hoop en verwagting, klink die drie stemme in die aandstilte op. Die bekende ou psalm klink vir Martie vanaand so vol hoop dat sy met oorgawe kan sing: “Net soos ’n herder uittrek met sy skape . . .”
Lank