Hard soos kameeldoringhout. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hard soos kameeldoringhout - Sarah du Pisanie страница 8
Sy krap ’n paar kole onder die pot in. Sy sal maar gaan inkruip. Hulle staan soggens so vroeg op.
Die drywers se stemme raak later stil en Martie loer skrikkerig na die skrefie maanlig wat by die opening van die watent inloer. Dis nogal grillerig om so alleen in die veld te wees. Skielik vlieg sy verskrik regop. Natuurlik! Hy is mos vanaand weer op ’n dorp! Hy is seker weer besig om kanne en kanne bier in sy groot liggaam in te gooi!
Sy druk verskrik haar hand teen haar bors. Wat doen sy as hy hier aankom en hy is dalk nie homself nie? Sy sal geen verweer hê nie – hy sal haar gemaklik met een hand kan vashou.
Verwilderd spring sy uit die bed. Sy moes vir Apools gevra het om hier naby die wa te kom slaap! Dit het egter nooit by haar opgekom dat so iets kan gebeur nie.
Sy buk en haal die geweer onder die kampbedjie uit. Sonder om die kers aan te steek, laai sy die geweer en sit dit regop teen die bedjie se voetenent neer.
Versigtig gaan loer sy agter by die tent se opening uit. Alles is egter stil en vreedsaam by die ander wa.
Die hitte gaan ondraaglik wees, maar sy maak die tentseil dig toe en knoop die toutjies stewig vas aan die binnekant. Nou sal sy hom darem hoor as hy by haar probeer kom.
Sy slaap baie lig. Dis egter eers hier teen twee-uur dat sy hom hoor terugkom.
Sy perd proes hier naby haar wa en elke sintuig is onmiddellik helder wakker en waaksaam.
Sy hoor hom gedemp vloek toe hy oor iets struikel en dan hoor sy hoe hy die saal op die grond laat neerval. Sy wag gespanne. Hy behoort tog te weet dat die kos in die pot sal wees. Maar sy wa kraak en dan raak dit stil en Martie weet dat hy nie vannag van plan is om van die kos te eet wat sy so sorgvuldig voorberei het nie.
Anders as wat Martie verwag het, is die son al op toe hulle eers begin inspan.
Dankbaar vir die ekstra rus, vra sy ook nie vrae nie. Braam is in elk geval nêrens te sien toe sy uit die wa kom nie. Daar brand egter ’n vuurtjie naby sy wa.
Gelate trek Martie haar skouers op. Hy is beslis nie van plan om ’n vuur met haar te deel nie. Sy gaan hom ook nie eens nooi nie.
Sy het so gehoop dat hulle darem by Omaruru sal indraai sodat sy kan sien hoe die dorpie lyk en net gou ’n paar benodigdhede by die winkel kan kry. Die ander wa wag egter vir hulle buitekant die dorp en sy sien net van ver af ’n paar wit huisies wat knus en gesellig onder groot, groen bome staan.
Die laat nag het Braam ook nie juis goed gedoen nie. Hy is vanoggend weer stug en vol draadwerk. Hy praat nog steeds nie ’n woord met haar nie, vloek en raas net oudergewoonte.
Martie sug beswaard. Die pad kan soveel korter wees as hy tog net met haar wil gesels. Daar is so baie dinge van hierdie mooi land wat sy graag wil weet.
Dis sommer vroegoggend al hittig warm. Martie vee die sweet, wat in dun straaltjies teen haar nek afloop, met haar sakdoek af. Sy sal versmoor in hierdie rokke van haar. Vandat hulle Suidwesbodem betree het, het sy en Ilze so min onderrokke moontlik aangetrek en ook sonder kouse begin loop. Sy is egter skrikkerig vir die vreemde man en dus is sy baie betaamlik aangetrek.
Teen elfuur kan sy die hitte nie meer verduur nie en sy rol haar rok se moue hoog op. Sy klouter agter in die wa en trek haar kouse uit. Dan krap sy totdat sy die ruwe sandale kry wat Apools vir haar gemaak het.
Sodra sy ’n kans kry, gaan sy vir haar koeler rokkies maak. Sy sal soek vir ’n stukkie ligte materiaal en dan maak sy rokkies met kortmoue en laer halsies. In hierdie land kan ’n mens onmoontlik soveel klere dra.
Sy bind later ’n tou om haar heupe en trek haar rok daarmee op sodat dit nie so in die stof sleep nie. Ligvoets spring sy van die wa af en gaan loop voor saam met Chrisjan by die osse.
“Dis darem warm, nè, Chrisjan?”
“Ja, juffrou Martie.”
Braam sit massief op sy perd en sy sien hoe hy terugry om te kyk of alles nog in die haak is by die agterste wa.
“Waar is Apools dan, Chrisjan?”
Sy wys na die perd wat aan die wa vasgemaak is en lui saam met die osse in pas bly.
“Hy was netnou nog hier, juffrou Martie. Hy verdwyn mos maar so kort-kort die veld in. Hy ken die meeste van die plante en hy kry altyd allerhande lekker goed om te eet. Juffrou Martie weet tog hoe is Oupa. Hy kan hom mos verkyk aan alles wat vreemd is in die veld.”
Sommer vir die lekker daarvan en om haar litte ’n bietjie te rek, hardloop Martie al met die waspore langs ’n entjie voor die wa uit.
Braam sien haar aangehardloop kom en hou sy perd fronsend in. Hy ruk egter die perd vererg om toe sy uitgelate onder ’n boom neersak.
“Simpel vroumens!” mompel hy vererg. Hy het ’n oomblik gedink daar skort iets. Kan ’n mens dan lus wees om in hierdie hitte rond te hardloop!
Die prentjie steek egter in sy gedagtes vas. Sy lyk so anders; so jonk en vol lewenslus. Haar rok sit bokant haar enkels wat spierwit onder die soom uitloer. Haar arms, wat by die opgerolde moue uitsteek, is amper ’n heuningkleur en ’n mens kan sien dat sy al meermale haar rok se moue so opgerol het.
Sy dra nie graag ’n kappie nie. Sodra sy in ’n koeltekolletjie kom, skuif sy die kappie van haar kop af. Haar vel is dus nie so wit soos wat dit behoort te wees nie. Gistermiddag, toe sy naby hom gestaan het, het hy gesien dat daar ’n paar sproetjies oor haar neusbrug is.
Toe Chrisjan met die wa by haar kom, vat sy die tou by hom.
“Gaan kyk jy liewer waar Apools is, Chrisjan. Hierdie wêreld is so ruig en vol gevare. Ek is bekommerd. Hy moenie so wegdwaal nie.”
“Ja, juffrou Martie, maar hy stap altyd net so op in die rigting wat ons gaan en dan kom hy weer by die wa uit as ons daar verbykom.”
“Hy is darem al lank weg. Vat die perd en ry tog maar ’n entjie vooruit.”
“Goed, juffrou Martie.”
’n Uur later kyk Martie al onrustig rond. Waar sou Chrisjan en Apools dan nou wees? Sy hoop tog nie Apools het iets oorgekom nie. Sy is glad nie gerus oor hom nie. Hy lyk vir haar deesdae so moeg. Sy is skielik rasend onrustig.
Dis egter net Apools wat haar ’n rukkie later onder ’n bos sit en inwag.
“Apools, waar was jy? Ek was al so onrustig!”
Hy lag sy ou tandelose laggie.
“Wat kan ek tog oorkom, juffrou Martie? Ek is in die veld gebore. Hoekom loop juffrou Martie dan saam met die osse? Waar is Chrisjan?”
“Ek het hom met die perd gestuur om jou te gaan soek.”
Martie sien hoe Apools frons en dan vind die onrus in haar binneste weerklank in sy donker ogies.
“Wag, ek beter hom gaan soek. Chrisjan sal maklik verdwaal. Hy ken nie die veld soos ek nie.”
“Apools, nee! Wag!” Martie byt angstig op haar lip. “Ja . . . ja, goed. Maar jy soek nie langer as ’n halfuur na hom nie. As jy hom