Ridders van die grondpad. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ridders van die grondpad - Deon Meyer страница 5
As jy met avontuurtoer-motorfietsmense praat, ken hulle deur die bank die Oubergpas, Seweweekspoort, die Swartberg- en Prins Alfred-pas, maar sê jy “Rooiberg”, dan kry almal so ’n veraf uitdrukking in die oë soos iemand wat die padpredikant gesien het, maar nie na die preek geluister het nie.
Seker geen wonder nie, want dit is anderkant Van Wyksdorp – nog ’n plek wat ’n bepaalde wasigheid veroorsaak wanneer jy daaroor praat. Wat ’n skande is, want ondanks ’n sekere Kaapse winkelsentrum se aanspraak, is Van Wyksdorp eintlik die middelpunt van die heelal. Of dan minstens die nieamptelike hoofstad van die Klein-Karoo uit ’n motorfiets-oogpunt.
Dit lê suid van Ladismith en ’n mens kry die afdraai net so ’n raps oor die 10 km buite dié dorp op die Barrydale-pad: die R327. Die roete wat ons egter aanbeveel, is vanaf Barrydale. Draai 16,5 km buite dié dorp op die Ladismith-pad regs. Dan is dit ná 51,5 km weer regs op die R323 en ná 54,2 km links op die grondpad. Ry tot by Van Wyksdorp, waar jy ná 94 km regs draai Rooibergpas en uiteindelik Calitzdorp toe.
Soos op alle roetes in dié geweste lê ’n deel van die bekoring in die plaasname, wat elkeen ’n storie vertel of ’n woordskildery in jou gedagtes hang. Jy ry oor en verby Klein Begin, Boerbonefontein, Opsoek en Olyvenrivier voordat jy op Van Wyksdorp uitkom. Die Kaap se eie Berg Ararat is die grootste karbonkel aan jou linkerkant.
Nagenoeg 31 km nadat jy die grondpad gevat het, is dit tyd vir die eerste afdraai – na links. Jy kan dit maklik misry, want die aanwysings is maar yl. Kyk uit vir die groot bord wat Assegaaybosch bemark – net anderkant dit begin die Rooiberg-roete in alle erns.
Die grondpad slinger en kronkel aanvanklik deur ’n kort, naamlose pas en draai net anderkant Dwars-in-die-weg noord. Een van die probleme om die Rooiberg van Van Wyksdorp se kant af aan te durf, is dat die mooiste uitsigte agter jou lê. Hou dus gereeld stil en kyk terug, want die rûens rol aan tot by die Langeberg se horison.
Net 20 km anderkant Assegaaybosch tref jy die pas wat jou oor die dye van die Rooiberg neem. Die hoogste piek is links in die verte en staan 1 490 m hoog. Ry eerder stadig, want hier is volop wild. Met ons laaste tog het drie klipspringers ’n paar honderd meter ver vrolik saamgetrippel.
Kyk ook hoe die plantegroei verander. Aan die seekant is dit nog proteawêreld, maar oorkant die kruin word dit karoobos.
En dan: Die mooiste uitsig van die hele dag is wanneer jy aan die Calitzdorp-kant afdaal. Dit is nie net die breë groen baan van die Gamkariviervallei wat jou asem gaan laat wegslaan nie, maar ook die uitsig op die berge daaragter – die Klein-Swartberge ver links, waar jy die Seweweekspoort se skeure op ’n helder dag kan sien. En die Groot-Swartberge daar doer agter Calitzdorp. Selfs Oudtshoorn is sigbaar in die dynserigheid.
Onder in die pas ry jy oor Rietvlei se werf en dan raak die pad plat en mak totdat jy links hou by Rose Villa vir die laaste paar kilo’s Calitzdorp toe. Hier is gewoonlik letterlik duisende volstruise in die een vetmaakkamp ná die ander. Hulle hardloop soos klokslag saam met die motorfietse, asof daar die een of ander obskure familieband is.
Die laaste verrassing wat dié roete oplewer, is Calitzdorp se wingerde. Mense wat gewoonlik die R62-teerpad ry, is kwalik bewus van die uitgestrekte, besproeide druiwe wat in oorvloed langs die Gamka gekweek word. Ons was laas met oestyd daar en kon ’n tros of wat van ’n swaargelaaide trekker-en-sleepwa bedel. Dit is suiwer, eetbare sonskyn.
2
Barrydale
146 km
4 uur
Groenfontein
Dit klink na die soort bestemming waaroor die Campbells sal swymel:
Gedaan en moeg
Vir die stad se pyn?
Vat jou bokkie
Vir ’n sokkie
op Groenfontein
Of dalk sal dit selfs meer pret wees om jou bokkie op jou avontuurtoer-fiets te laai en een van die Klein-Karoo se mooiste grondpaaie te gaan verken – dié tussen Calitzdorp en die R328 by die Swartbergpas oor Groenfontein en Kruisrivier.
Die afdraai na links is plotseling in die middel van Calitzdorp se R62-hoofstraat, so ’n blok of twee anderkant die pragtige klipkerk. Nog voordat jy behoorlik uit die dorp is, hou die teer op en begin die plesier.
Die lekker van hierdie roete is veelvuldig. Eerstens is die padoppervlak gewoonlik uitstekend, wat beteken jy kan ’n passasier saamneem en selfs beginners kan dit lag-lag baasraak. Tweedens gaan jy sukkel om ’n reguit stuk van langer as ’n paar honderd meter te kry. Jy’s nog skaars uit die dorp, of die kronkels begin en dit hou nie op voordat jy weer die teer by Matjiesrivier tref nie.
Derdens is daar die argitektuur. Jy ry telkens dig verby en dikwels sommer óór plaaswerwe met van die mooiste Karoo-boustyle wat jy in die Wes-Kaap sal sien. Buitegeboue waarvan die verwaarloosde mure pragtige teksture vorm, opstalle wat onlangs histories getrou opgeknap is – dis alles daar. Die plaasname vertel ook gesamentlik en afsonderlik stories van baie water, voorspoed en dalk ’n gatslag of twee: Groenkloof, Welgevonden, Witfontein, Vinknesrivier, Voorbedacht en, les bes, Gatplaas.
Dan is daar die landskap.
Eers kry jy aan jou linkerkant die Calitzdorp-dam, wat sekere tye van die jaar amper gitswart van die bergwater is. Dan begin jy die koppe sonder naam aan jou regterkant sien, terwyl die pad plek-plek byna tussen hemelhoë riet en palmiet wegraak.
Soms wink die Swartberge daar ver voor en jy kan maar weet: Reg noord van jou, oorkant Boesmansnek, lê Gamkaskloof, minder as 15 km ver soos die kraai vlieg. Ry tog ook stadig genoeg om die aalwyn-prag te kan waardeer. Toe ons in Junie daar was, het die rooi massas ons asem laat wegslaan.
By Kruisrivier, sowat 28 km anderkant Calitzdorp, maak die vallei die eerste keer oop, maar moenie die versneller te veel draai nie, want hier moet jy links draai, Matjiesrivier toe. Die pad swaai en draai nou minder, maar dit is op en af oor die een rug ná die ander, elkeen bring ’n nuwe lus vir die oog. Selfs al is die laaste stuk pad geteer voordat jy by die R328 se T-aansluiting kom, bly die omgewing ’n skouspel.
Die ideale ding om te doen, is om die roete heen en weer te ry – hoofsaaklik omdat die landskap uit die verskillende hoeke so dramaties anders is. Een rigting stal net die helfte van die skouspel uit.
Die