Emma se eerste keuse. Elsa Hamersma
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Emma se eerste keuse - Elsa Hamersma страница 3
“Nie so gedink nie.”
Haar glimlag stol. Vir die eerste keer in haar lewe is sy met stomheid geslaan. Sy wou sê dat dit vanselfsprekend is dat sy in voëls belangstel. Wie kan saam met Mark Smith in een huis bly en nie wees nie? Dit is haar pa se beroep en sy lewe. Hy gee klas in ornitologie en bestee al sy krag en tyd om sy formidabele kennis van voëls uit te brei.
Sy maak haar mond oop om te sê dat sy waarskynlik meer van voëls weet as hy, meneer Krities, maar hy spring haar voor.
“Wat gaan jy hier aanvang?” vra hy kortaf. “Die reservaat is nie eintlik ’n plek vir stadsmeisies nie, veral nie as jy aan die besige lewe van Londen gewoond is nie. Of sal jou ouers binnekort ook arriveer?” Sy stem is hoflik, maar koel. Die stemtoon wat mense gewoonlik vir vreemdelinge gebruik.
’n Wolk van melancholie vou onverwags om Emma. Sy het inderhaas besluit om Suid-Afrika toe te kom, na die reservaat toe, in die hoop dat as sy wegkom uit die intense koue, ver van die mense wat haar seergemaak het, sy haar balans sal herwin.
In Engeland het haar gemoed selfs die bittere koue en aanhoudende reën geëwenaar. Sy het gedink dat die warm strale van die son op haar lyf, haar kaal voete op die strand gou weer perspektief oor haar lewe en haar toekoms sou bring.
Maar as al die mense op Pelikaanbaai so koel en krities is soos Lizzie en Simon Sutherland, gaan daar niks van kom nie. Dan kan sy haar die moeite spaar om haar tas uit te pak en net mooitjies omdraai en teruggaan.
“My ouers kom nie dié keer nie,” sê sy sag, “maar jy hoef jou regtig nie oor my te bekommer nie. Ek kan my besig hou.”
’n Vlietende frons trek vir ’n oomblik tussen sy oë saam, maar voordat hy kan antwoord, gaan sy voort. “Daar’s een probleem waarmee jy kan help. Ek moes ’n motor huur om hier te kom. My pa het ’n reëling met meneer Morrison om die motor wat ons op die lughawe huur, terug te neem Kaapstad toe. My pa los ’n motor in die motorhuis vir ons gebruik hier. ’n Ou Land Rover.”
Sy stem, verbeel sy haar, is selfs ’n graad koeler toe hy antwoord. “Dis nie ’n probleem nie. Sover ek weet, is dit nie ’n spesiale vergunning nie. Dis ’n diens wat aan al die swaeltjies gebied word.”
Hy maak baie seker dat sy verstaan sy word nie uitgesonder vir gunsies nie, maar sy gaan hom nie die tevredenheid gee om te wys dat sy dit agtergekom het nie.
“Ons is nie swaeltjies in die ware sin van die woord nie. Die term verwys eintlik na mense wat vir die somer kom en in die winter teruggaan. My ouers kom en gaan wanneer dit hulle pas. Soms drie keer per jaar, en nie net in die somer nie.” Sy probeer haar stem so koel soos syne hou.
“Ek verstaan so. Tim het dit vir my verduidelik, want ek is nuut hier en ken die meeste van die afwesige eienaars nie. Maar jou ouers was nie onlangs hier nie en jý, as ek hom reg verstaan het, was baie lanklaas hier?”
“Vier jaar laas.”
Die manier waarop hy na haar kyk, laat haar voel asof sy bevestig wat hy vermoed het. Dan kyk hy op sy horlosie. “Wil jy hê ek moet sommer nou saam met jou na julle huis toe ry? Dan kan ek met die motortjie terugkom en óf ek óf Tim dit later vanmiddag, of op die laatste môre, terugneem lughawe toe.”
“Dis moontlik die beste plan,” sê sy.
“Ek verstaan jy sal aanvanklik ons sleutel moet gebruik, maar ek sal bly wees as jy so gou moontlik ’n duplikaat kan laat maak. Die reël is dat ons altyd ’n sleutel in die kantoor moet hê ingeval ons in ’n huis moet inkom, om watter rede ook al. En dis natuurlik al manier waarop die huishulpe kan inkom wanneer die eienaars nie hier is nie.” Hulle staan steeds en hy maak die deur vir haar oop sodat sy kan deurstap.
“Ek sal so maak.”
“Het jy die sleutel al by Lizzie gekry?”
“Nee. Dit was nie hier nie.” Sy wys na die jong meisie wat voor die rekenaar sit. “Sy het gesê die huishulp het dit kom haal en nog nie teruggebring nie. Die huis sal oop wees.”
Hy frons. “Lizzie, het jy al na die Smiths se huis toe gebel om te hoor of Lettie nie al op pad terug kantoor toe is nie? Want as sy is, sal sy mos die huis toegesluit het,” sê hy op Afrikaans.
“Nee, ek het nie. Sy kan mos maar gaan kyk. Anders kan sy hier sit en wag totdat die sleutel kom,” brom Lizzie wat duidelik dink Emma verstaan nie Afrikaans nie. Sy kry dit wonderbaarlik reg om tegelykertyd vir Emma te frons en vir Simon te glimlag.
Dit is die strooi wat die kameel se rug breek. “Ek wíl nie hier sit en wag nie,” sê Emma afgemete op Afrikaans. “Dis al meer as agttien uur sedert ek van die huis af weg is. Omdat my vlug vertraag is, moes ek rondsit op die lughawe en daarna het ek die res van die nag op ’n vliegtuigsitplek ingedruk gesit soos ’n toebroodjievulsel tussen twee van die grootste mense in die heelal. Nou’s ek moeg, dankie. En jy, Lizzie, behoort aan jou ingesteldheid te werk, want ek dink jy is besonder onvriendelik en onbehulpsaam.”
Lizzie se gesig vlam bloedrooi en Emma is te laat spyt dat sy toegelaat het dat haar geïrriteerdheid so oorkook. In die swanger stilte wat volg, kyk sy vinnig na Simon. Sy gesig is geslote, maar sy sien dat sy wenkbroue omhoog geskiet het.
“Ek is jammer dat jy so verontrief is, juffrou Smith,” antwoord hy in sy koel stem, dié keer op Afrikaans. “Ek sal dadelik bel en jou sleutel opspoor.” Hy draai na Lizzie. “En intussen kan jy vir juffrou Smith ’n lekker koppie tee maak. Asseblief, Lizzie?”
Emma kan nie help om te sien hoedat sy gesig versag terwyl hy met Lizzie praat nie en dat sy dadelik omdraai om te maak soos hy sê.
Toe sy uit die vertrek is, kyk hy na Emma. “Ek vra verskoning vir Lizzie se gedrag. Sy neem tydelik waar in die plek van haar suster, Malie, en sy haat elke oomblik daarvan. Sy het die nodige rekenaarvaardighede, maar weet nie hoe om met mense te werk nie. Malie sal binne ’n paar dae terug wees. Ons het haar vir gevorderde rekenaaropleiding gestuur en sy sal dit, soos ek haar ken, sommer gou kafdraf.”
Emma kyk na sy aantreklike gesig en wonder of hy weet dat Lizzie halsoorkop verlief is op hom. “Ek’s ook jammer,” antwoord sy sag. “Ek is nie gewoonlik so kwaai nie, maar op die oomblik voel ek soos ’n . . . soos ’n . . . nat, pap roomyshorinkie waarop almal trap.”
Sy wenkbroue skiet weer omhoog asof hy wonder hoe dié prentjie sal lyk, maar hy sê niks. Hy trek ’n stoel uit. “Kom sit solank hier totdat ek die sleutel het.” Sy oë is warmer as tevore en in plaas daarvan dat dit Emma beter laat voel, word haar keel dik van trane.
Haar emosies is aan flarde. Afhangende van wat hierdie vreemde mense sê, raak sy kwaad, hartseer of bly. Dis pateties. Sý is pateties, net soos Victoria gesê het. Sy klad haar oë voordat die trane wys en sluit haar gedagtegang net daar af. Dis nie waaraan sy nou gaan dink nie, nog minder gaan sy wonder of dit ’n onbesonne, impulsiewe besluit was om vingeralleen Afrika toe te kom.
En van teruggaan is daar nou nie sprake nie. Sy sal eenvoudig die beste van ’n slegte saak moet maak.
Sy luister hoe Simon oor die telefoon praat. Op Afrikaans het hy ’n effense streeksuitspraak, mooi en sag op die oor.
Lizzie is gou terug met ’n netjies gedekte skinkbord. “Dis rooibos,” sê sy toe sy dit voor Emma neersit.
“Dankie. Ek hou daarvan.”