Maryna se liefdeslied. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Maryna se liefdeslied - Schalkie van Wyk страница 8
“Goed, Mamma,” antwoord Maryna ongewoon gedwee en loop die vertrek uit.
Sy is ineens so hartseer dat sy kan huil, want …want sy wil nie in Durban of op Jeffreysbaai gaan vakansie hou nie, dink Maryna terwyl sy in die gang af stap. Sy wil op Neckershoogte by Christiaan wees. Of net alleen wees en aan hom dink. Sy wens sy kan haar ma of Leonie vertel van die wonderlike Christiaan de Necker wat haar al die pad Bultfontein toe op sy motorfiets gevolg het. Hy is ’n unieke, bedagsame man wat ter wille van haar veiligheid sy tyd en sy brandstof gemors het. Toe sy by die Redelinghuyse se erf indraai, het hy verbygery, gewuif …en uit haar lewe verdwyn. En nou wil sy huil. Moontlik is sy besig om griep of iets te kry, want net ’n ylende meisie sal oor ’n onbekende man huil. Christiaan behoort aan ’n droomwêreld wat nooit weer deel van haar lewe sal wees nie, maan sy haarself streng, maar wens vuriglik dis ’n leuen.
Sandra kyk besorg na Maryna wat oorkant haar aan ’n tafeltjie in ’n restaurant sit en troosteloos voor haar uitstaar, haar mes en vurk roerloos in haar hande. “Is jy oormoeg, kindjie? Hoekom eet jy nie? Die visgereg is werklik smaaklik. Of sal ek iets anders vir jou bestel?” vra sy bekommerd.
Sy kan nie eens aan Christiaan dink sonder dat haar ma snuf in die neus kry nie, dink Maryna wrang, en antwoord kamma ongeërg: “Ja, Mamma, dit was ’n lang dag. Ek hoop nie Mamma verwag ek moet vanaand al op oupa Leander spioeneer nie.”
“Ek dink jy het ’n virus of ’n kiem onder lede,” sê Leonie in haar professionele stemtoon. “Jy was op pad van Johannesburg af al onnatuurlik stil en jou gelaatskleur laat veel te wense oor. As jy my toelaat om jou pols te …”
“Raak net aan my, Leonie, en ek trap jou tone met my hak plat,” dreig Maryna bloeddorstig, oneindig verlig dat sy met Leonie kan rusie maak en tydelik van Christiaan kan vergeet.
“Dis haar koors wat so praat,” lig Leonie vir Sandra in. “Maryna is altyd aggressief wanneer sy koors het, want sy haat dit om siek te wees. Dalk moet ek hier bly en haar versorg, tannie Sandra.”
“Baie dankie vir jou groothartige aanbod, Leonie,” sê Sandra taktvol, “maar Maryna kry gloede van ergernis, daarom hoef jy jou nie langer oor haar gelaatskleur te kwel nie. Dit was vir ons almal ’n lang dag. Sodra ons koffie gedrink het, sal ek ’n taxi kry om ons lughawe toe te neem, terwyl Maryna na haar hotel ry.”
“Miskien moet ons Maryna in ons taxi volg, net om seker te maak sy kom veilig by haar hotel uit.” Leonie glimlag opgewonde. “Dan kan ons ook soos spioene voel, tannie Sandra.”
“Mamma, ek gaan ry voordat ek my beste vriendin met my vurk aanrand,” sê Maryna en klad haar lippe met haar servet. “Ek is net gespanne omdat ek bang is oupa Leander kom skielik by die restaurant ingestap. Ons is nie eens twee blokke van sy hotel af nie. Leonie, hou op dokter-dokter speel voordat jy my ma tot raserny dryf. En kuier asseblief by my ma totdat ek terugkom.” Maryna staan op en soengroet Sandra en Leonie.
“Moenie met vreemde mans praat nie, Maryna,” waarsku Sandra, byt op haar onderlip en glimlag verskonend. “Ek kan nie ophou kloek nie, al weet ek jy is lankal groot. Ek hoop jy kan binnekort terugkom huis toe, my kindlief. Ek en Pappa sal jou mis.”
“Onthou ons gaan nie trou voor ons vyf-en-twintig is nie,” fluister Leonie. “Dis te sê, as ek ’n man kan kry wat van plankdun rooikoppe hou. Sien jou, Maryna.”
Vreemd, sy het haar hotelsuite van hoek tot kant bekyk, haar klere sorgvuldig uitgepak, en nou is sy skielik helder wakker en flou van die honger, besef Maryna. In die breë ingang van die dofverligte hotelrestaurant bly sy staan, gedeeltelik verskuil agter ’n waaierpalm. Haar oë soek oor die talle tafeltjies en steek vas by ’n bejaarde paartjie. Dit kan net haar bloedeie oupa Leander wees, want hy lyk soos haar pa, behalwe dat sy hare spierwit is; en haar pa sal natuurlik nooit ’n ander vrou se hand vat en dit in die openbaar soen nie.
“Stuitige ou man,” sis sy deur haar tande.
“Presies wat ek dink,” beaam ’n fluisterstem regs van haar. “Hoekom klap sy hom nie? Kan sy nie sien die ou man is seniel nie?”
“Jy vra nog, boetie. Die ou vrou is nie minder seniel nie. Kyk sy bloos kompleet soos ’n bakvissie,” fluister ’n heserige gansstemmetjie wat Maryna aan Leonie herinner.
“Hoekom skinder …?” begin Maryna onthuts, kyk op en skrik haar asem weg toe sy in Christiaan se verbysterde gesig vaskyk.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.