Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray страница 28
Toe Sandra die kamer binnestap met die koffie, druk sy die deur weer agter haar toe.
“Kyk, as Nina Andrews iets te doen het met al hierdie geheimsinnighede, is sy die duiwel self.”
Gustaf kyk haar vinnig, fronsend aan.
“Hoekom?”
“Omdat daardie vrou soos ’n engel van onskuld is, of dit eg is of nie. Maar as dit nie eg is nie, dan hoort sy in Hollywood, nie in Zimbabwe nie.”
Sy herhaal hul gesprek in die kombuis en sluit af: “Nou wonder ek of dokter Johnson se navrae onvolledig was, en of Nina vir my gelieg het. Maar sy het uitdruklik gesê sy het ’n dokter en dié is in Masvingo. Al aanneemlike verklaring waaraan ek kan dink, is dat sy hom dan onder ’n skuilnaam besoek.”
“Hoekom sal sy so iets doen?” wil Gustaf weet, en sy antwoord terwyl sy haar koffie heftig roer.
“Nee, moenie vir my vra nie. Ek weet nie. Ek verstaan geen kop of stert meer nie. Ek dink maar net so.”
“In daardie geval moet ons ’n foto van haar in die hande kry. Sal jy een kan neem sonder dat dit opsigtelik is?”
Sandra knik en drink haar koffie vinnig.
“Ja, en sommer nou, op die daad. Sy is in die tuin om blomme vir die sitkamer te pluk. Ek doen dit sommer nou dadelik, dan is dit afgehandel.”
’n Paar minute later protesteer Nina toe Sandra haar kamera lig.
“Ek weet nie hoekom jy nie net die gebou afneem nie. Jy wil tog net ’n foto van die vakansieplaas hê, nie van my nie.”
“A nee a! Ek wil van my gawe gasvrou ook ’n foto hê. En jy lyk dan nou so pragtig met die bos blomme in jou arms . . . Ag, toe, mevrou, laat ek jou nou saam met die gebou afneem, asseblief!”
Nina glimlag maar toegewend en ’n rukkie later oorhandig Sandra die film aan Gustaf.
“Ek hoop dit sal duidelik genoeg wees. Ek kon nie van te naby neem nie, want ek het voorgegee ek wil eintlik die gebou afneem om vir my vriende tuis te gaan wys hoe die vakansieplaas lyk.”
“Dit sal reg wees, dankie, Sandra. Ons laat maak net ’n vergroting van die gesig. Ek sal dit vanaand vir Johnson gee. Hy moet dit onmiddellik laat ontwikkel en dit moet aan elke dokter in Masvingo getoon word.”
Sandra frons.
“Jy weet, Gustaf, ek voel half gemeen. Die vrou is so gaaf en soms lyk sy so pateties, soos vanoggend in die kombuis, en . . . Ag, ek kry haar soms so vreeslik jammer.”
“Ek weet. Maar ek kry Powell ook jammer.”
Sy knik en sug.
“Ja. Dis waar. Wel, wat doen ons die res van die dag?”
“Doktor Basson wag op ons. Hy moet ons wys waar die vlermuise boer.”
Sy gril en trek ’n suur gesig.
“Moenie van daardie aaklige goed praat nie. Ek wil hulle nooit weer sien nie.”
“Dan gaan jy nie saam nie?”
“Natuurlik gaan ek saam!”
Hy lag, slaan sy arm om haar en druk haar ’n oomblik teen hom vas. “Jy sal ’n ideale speurdersvrou uitmaak, weet jy?”
“Nee, ek weet nie. Dink jy werklik so?” Sy kyk gemaak onskuldig in sy oë op. “Dan sal ek nou moet begin uitkyk vir ’n loslopende speurder. Ken jy een?”
“Ja. Onthou dat ek jou tog aan hom voorstel. Verstokte oujongkêrel en vol draadwerk, en hy sal beslis die baas in die huis wees.”
“Wel, dit kon erger gewees het. Nog iets?”
“Ja. Hy haat slordigheid. Jy sal moeilikheid kry as jy by hom met ’n stukkende domkrag rondry.”
Dan laat hy haar vinnig gaan en sê op formele toon: “Kom, juffrou. Daar is nie tyd vir ginnegaap nie. Ons gesels later oor hierdie interessante onderwerp.” Laggend stap hulle die wagtende doktor Basson tegemoet.
Nadat Basson hulle geneem het na die plek waar die kranse loodreg afpyl en die skeure uitgewys het waarin die vlermuise bedags skuil, wil Gustaf weet: “Is dit maar ons gewone vlermuise, doktor?”
“Ja, sover ek weet. Dis maar die gewone soort.”
“Dit is nie dié soort wat mense en diere aanval nie, nè?”
“Nee, beslis nie. Die enigste gevaar wat hierdie soort vir die mensdom inhou, is dat hulle die draer van hondsdolheid kan wees. Daardie ander soort waarvan jy praat, die vampiere, tref ’n mens net in Suid-Amerika aan. Dis hulle wat die bloed van hul slagoffers uitsuig. Maar dan sterf so ’n persoon of dier nie juis aan bloedverlies nie, want hulle suig jou nie dolleeg nie, maar meestal aan hondsdolheid, weens die kiem wat die vlermuis oordra.”
“Wat dus gisternag in die toring gebeur het, is heeltemal buite die aard van die gewone vlermuis, volgens jou mening.”
“Ja, beslis. Ek is natuurlik nie ’n kenner op daardie gebied nie, maar sover my wete strek, vlug die gewone vlermuis vir die mens. Hy sal nie eerste na jou toe kom of jou sommer uit die bloute aanval nie. Dis nie sy aard nie.”
“Het jy al ooit van ’n mak vlermuis gehoor?”
Die argeoloog glimlag vir Sandra se vraag en skud sy kop.
“Nee. Nie dat dit onmoontlik is nie. Blykbaar is alles onder die son deesdae moontlik. Maar ék het nog nooit gehoor dat ’n mens ’n vlermuis kan mak maak nie – en beslis nie ’n paar honderd nie!”
Gustaf lag toe hy die ongeloof in die argeoloog se oë sien.
“Nee, daar was darem seker nie ’n paar honderd nie, maar dit het vir my so gevoel. Maar sekerlik so vyftig tot tagtig.”
“Ja, minder was dit nie. Dit was soos ’n wolk . . . ’n swart, dreigende doodswolk,” laat Sandra hoor en sidder openlik. “En Nina Andrews het hulle beheer. Daarvan is ek seker, oortuig. Nina het volle beheer oor daardie afskuwelike goed gehad. Hulle het op elke bevel van haar gereageer. Ek het dit met my eie oë gesien!” eindig sy driftig teenoor die argeoloog wat haar net stil staan en aankyk.
“In watter taal het sy gepraat?” wil hy skepties weet.
Gustaf skud sy kop.
“Ons kon nie uitmaak nie. Dit was vreemde geluide soos . . . soos wat sy geuiter het toe sy in die koma was, onthou jy, Sandra?”
Sandra knik net.
“Nou hoe dit ook al sy, julle moet my nou verskoon. Ek sal moet begin,” laat hoor doktor Basson. Toe die twee jong mense wegloop, kyk hy hulle lank agterna, sy oë peinsend. Dan grim hy effens. Kaptein Lenard, jy gaan nog lank in die donker rondtas, maar as, ás jy ooit eendag by die verklaring kom, gaan daar ’n groot skok op jou wag . . . hóé groot sal jy in jou wildste drome nie kan droom nie. Ek hoop ek is die dag by wanneer dit gebeur. Ek sal graag jou gesig