Sarah du Pisanie Omnibus 9. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie страница 25

Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

gebeur. Moet sy hom wegstamp en hom vertel wat sy van hom dink, of moet sy doodgewoon aangaan en presies vasstel wat sy plan en strategie is?

      Ja, ja! Dit is wat sy moet doen! Sy weet immers nou dat daar Beskermingstroepe op Otjimbingwe is. Sy sal haar kans afwag en by hulle probeer uitkom. Sy weet ook nou dat sy nie verder ’n woord moet glo wat Dewald sê nie. Wat sy ook nog weet, is dat hy nie een van hierdie lief­kosings bedoel nie.

      Sy sluit haar oë en stuur ’n vinnige dankgebedjie op dat sy gaan luister het waaroor hulle praat. Nou is sy ten minste voorbereid op wat gaan kom. Een ding word egter vir haar duidelik uit die warboel van uiteenlopende emosies wat so in haar saamkolk: sy sal moet saamspeel. Hy sal heeltemal gerus moet wees as sy ’n kans wil hê om weg te kom.

      Sidderend trek sy haar asem in, slaan haar arms styf om sy lyf en druk haar kop teen sy bors vas.

      “Liefie!”

      “Hm?”

      “Dinge het pragtig uitgewerk.”

      “Hoekom sê jy so?”

      “Kom klim op die perd, dan vertel ek jou terwyl ons ry.” Hy help haar op die perd en trek haar styf teen hom vas.

      Sy wag dat die perd in beweging moet kom, maar Dewald draai eers haar gesig met sy hand na hom toe en soen haar liggies op die mond.

      “Hulle wil hê ek moet nou verder saam met jou in die wa trek. Ons gaan ons nou weer by jou beeste aansluit. Ek is so dankbaar dat hulle nie besluit het om een van die ander saam met jou te laat ry nie.”

      “Hoekom?” Katrien wurg die woordjie uit.

      “Hulle sal jou leed aandoen, Katrientjie.” Hy druk haar styf teen hom vas en soek van agter af haar mond op deur al met haar wang langs soentjies te steel.

      Katrien maak haar oë toe om die seer en die verlange, die hartseer en die verskriklike geskoktheid te probeer verwerk. So maklik kon sy in hierdie strik getrap het, so ver-skriklik maklik! Haar ontroue hart sou dit nog opgeslurp het en dorstig gedrink het by die fontein van liefde wat die eerste keer in haar lewe ontspring het.

      Sy lippe is warm en hartstogtelik en Katrien moet haar inspan om nie haar kop weg te ruk en wild aan die huil te gaan nie. Met ’n ligte beweging druk sy hom weg. “Vertel eers vir my wat nou alles gaan gebeur.”

      “O, my liefding, ek wou jou so graag van die begin af in my vertroue geneem het, maar hierdie gedeelte van die plan en die pad was te gevaarlik. Ek kon dit nie waag nie. Die kleinste dingetjie kan die hele plan nou laat verongeluk.”

      Katrien leun agtertoe totdat sy styf teen sy bors sit, sodat sy elke woord kan hoor wat hy sê.

      “Nou kan ek egter vir jou sê dat ek jou sal help om jou beeste terug te kry.”

      “Wat sê jy?” Katrien hou haar vreeslik verbaas, maar haar hart is kliphard gestaal teen die tranetrekker wat nou gaan kom.

      “Jy sien, my liefie, ek is nie regtig deel van hierdie bende nie. My pa boer hier. Ons is vroeër vanaand oor ons plaas. Ek het hier grootgeword. Die afgelope tien jaar was ek egter nog nie weer hier nie. Ek was ’n groot deel van my hoërskoolloopbaan weg, en daarna nog sewe jaar. My ouers het net so af en toe vir my kom kuier.”

      “O.” Katrien onderdruk die woede en die lus om om te draai en hom ’n taai klap te gee. Hoe kan hy hier sit en so blatant vir haar lieg?

      “Op ’n dag is my pa se beeste gesteel: die eerste keer twintig, daarna veertig en verlede jaar so ’n groot trop soos joune.”

      “Wat is jou regte naam dan?”

      “My naam is Dewald, maar ek het ’n ander van. Ek sal later vir jou sê wat dit is.”

      “Wat het toe met jou pa se beeste gebeur?”

      “Ek het besluit om my pa te kom help. Die veediewe is slim en uitgeslape en laat nooit ’n spoor agter nie. Meestal lyk dit soos ’n wolhaarstorie van die werkers. Dit is altyd so verwarrend en elke strooptog is anders beplan.”

      “Ja, ek wou die stories ook nie glo nie.”

      “Dinge raak nou ’n bietjie warm vir hulle hier en hulle het besluit om hierdie rooftog heeltemal anders as die voriges te beplan. Dit sou ook voorlopig hul laaste rooftog in Suidwes wees. Hulle wou nou Transvaal toe verkas het en ’n jaar of twee daar gaan roof het om die stof kans te gee om hier te gaan lê.”

      “Die polisie op Otjiwarongo het vir my ’n brief gegee. Hulle het gesê ek moet dit toon wanneer ek by die Beskermingstroepe verbygaan.” Katrien hou hom fyn dop om sy reaksie te peil.

      “Ja, dit is deel van die maatreëls wat al getref is, maar die rowers het nie veel probleme daarmee nie. Hulle neem net die briewe af en maak asof hulle die eienaars is. Maar nou gaan die polisie verder: hulle stuur ’n beskrywing van die regte eienaar deur en dit moet dan ooreenstem met die persoon by die beeste. Dit is presies waar jy as vrou nou die probleem skep. Hulle het jou vroeg tussen die beeste uitgehaal en wou hê dat jou mense die trop moet aanjaag tot daar waar hulle dit wil hê.”

      “Ja, ek het gewonder hoekom ek juis alleen weggevat word,” sê Katrien peinsend.

      “Die groot rede is dat hulle wou hê die storie moes klink asof jy jou mense in die steek gelaat het om agter ’n man aan te ry. Dit sou die blaam op jou laat neerkom het.”

      “Hoe pas jy nou in die prentjie?” Katrien moet konsentreer om die regte vrae te vra sodat hy nie sal agterkom sy het afgeluister nie.

      “Wel, ek het niemand laat weet dat ek huis toe kom nie. My ouers dink ek is nog in Kaapstad; ek sou eers einde Maart huis toe gekom het.”

      Katrien vra nie uit nie en luister net met ’n halwe oor na sy storie. “Ek het ’n vriend in die Beskermingstroepe en ons korrespondeer nog al die jare. Ons het toe saam hierdie plan bedink. Ek sal die veediewe probeer opspoor en laat verstaan dat ek graag vir hulle wil werk.”

      “O, dit is ’n briljante idee. Maar hoekom kon hulle toe nie maar net die veediewe vang toe julle weet wie hulle is nie?”

      “Hulle het geen bewyse teen hulle nie. Hulle sal hulle op heter daad met die beeste moet betrap.”

      “Het jy hulle toe maklik opgespoor?” Katrien kan nie help om sarkasties te klink nie.

      “Ek het amper ’n maand lank elke aand in kroeë rondgelê en stories versprei dat ek in finansiële moeilikheid is. Op ’n aand het Klaus daar ingekom. Ek moet sê, ek sou hom ook nie verdink het van sulke laakbare dinge nie. Hy lyk regtig nie soos ’n oneerlike mens nie. Ek het gemaak asof ek dronk word en weer ’n klomp onsinnige praatjies kwytgeraak van hoe dik ek vir die polisie is en hoe ek vir hulle vlug, omdat hulle my in die tronk wil sit vir skuld.”

      “Het dit hom oortuig?”

      “Blykbaar, want die volgende aand was hy weer daar en het hy gevra of ek belangstel in ’n werk.”

      Dewald druk haar weer styf teen hom vas en Katrien moet sukkel om die trane te keer.

      “Wel, dit is soos dit begin het. Ek het ’n maand lank so saam met hulle in die veld rondgedwaal en saam met hulle in kroeë rondgelê voordat hulle tevrede was.

Скачать книгу