Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ter wille van Talita - Helena Christina Hugo страница 13
Die meisie verskyn asof sy gereed gestaan het. Sy sluit die hek met haar eerste probeerslag oop.
“Dankie, my kind. Groet vir Dominee.”
“Middag, Dominee.”
Johan verwonder hom aan haar. Sy is engelagtig mooi, maar so inkennig sy tree dadelik agteruit. Dit maak hom ook ongemaklik. Hy is tog nie van plan om haar seer te maak nie, of is hy dalk so afstootlik vir haar? Hy hou die sak met rys na Edwina toe uit.
“Die rys vir die sopkombuis. Emma stuur dit.”
Sy gee dit vir Talita aan. “Vat dit kombuis toe. Mamma praat gou met Dominee.”
Johan sien Danika om die hoekie loer. Hy glimlag vir haar en sy glimlag terug. Edwina beduie na die sitkamer. “Het Dominee tyd?”
“Ek kan gerus ’n bietjie gesels.”
Die sitkamer is smaakloos gemeubileer. Daar staan ’n kiaathoutstel wat Theuns by die Bezuidenhouts oorgeneem het. Die kussings is dieselfde groen as die gordyne. Die koffietafel het ’n gehekelde lappie oor, ’n groen glasbak presies in die middel, ’n geraamde “Onse Vader” met biddende hande in koper. Die afdruk teen die oorkantste muur trek Johan se aandag. Dis van ’n rooi sonsondergang met swart palmbome in die voorgrond en is seker veronderstel om te verfraai, maar dit versterk die neerdrukkendheid van die vertrek.
“Dis nuut,” sê hy en wys na die afdruk.
“Theuns het dit gekoop. Hy hou daarvan.”
“En jy? Wat dink jy daarvan?” Johan kyk indringend na Edwina.
“Dominee kan sit.”
“Jy hou nie van die afdruk nie.”
“Theuns hou daarvan.”
Danika huppel skielik deur die vertrek en gaan staan voor Edwina. Sy het ’n vaalblou rokkie aan. Haar hare is duidelik spesiaal gekam en gevleg, in die Franse styl, sien Johan wat dit van Rentia se dogtertjiedae onthou. “Mamma, Talita vra of sy moet koffie maak.”
Edwina trek Danika se rokkie reg. “Groet jy nie vir Dominee nie?”
Danika kom staan voor hom en steek haar hand uit.
Nes haar pa, dink Johan. Sy lyk ook meer na hom, waar Talita haar ma uitgeknip is.
“Goeiemiddag, Dominee.”
Haar handdruk knyp nogal.
“Dag, Danika. Hoe gaan dit vandag?”
“Goed. My pa is nie hier nie, nou kan ons koekies bak.”
“Danika!” wil Edwina keer.
“Dis nie ek nie, Mamma het gesê …”
“Sal Dominee koffie drink?”
“Dankie, dit sal lekker wees.”
Johan kan nie onthou of hy al hier was as Theuns nie by is nie. Vandag neem hy sy kans waar om Edwina uit te vra. Al draai Theuns in sy spore om en daag skielik op, hy het rede.
“Gaan sê vir Talita,” por Edwina.
Die kind is traag om te loop.
“Dit lyk soos Hawaii,” sê Johan en wys na die prent.
Danika knik oordrewe. “Hulle het ’n vuurspuwende berg en dis so warm soos die hel. Dis hoekom die meisies daar kaal dans. Hulle kry warm.”
Edwina bloos, maar Johan lag. “Wie sê so, jou pa?”
“My ma, en ons mag nie vir hom sê nie, anders sal hy weer ons gatvelle aftrek.”
“Danika, jou mond gaan met seep uitgewas word!”
Edwina klink dreigend, maar haar oë lag.
“Mamma sal tog nie.”
En weg is Danika.
Edwina druk haar handpalm teen haar voorkop. “Die kind steek my in die skande.” Sy kyk op. “Sy sal dit nie waag met haar pa nie.”
“Sy’s ’n klein grapjas. Sy wil mense laat lag.” Johan onthou hoe sy Sondagoggend vir Theuns probeer oortuig het dat sy net haar toontjies oor die drumpel van die konsistoriedeur het.
“Sy’s moedswillig. Sy toets ’n mens. Theuns kan dit nie verdra nie.”
“En dan kry sy pak?”
Edwina kyk op en kyk dan na die lelike rooi afdruk teen die muur. Daar is swart kringe onder haar oë en haar wange is ingeval. Sy lyk siek en maer, verpluk soos ’n verdwaalde hoendertjie. Hoe oud is sy? Hy kan nie raai nie. Iewers in haar veertigs? Hy sal op die kerk se lidmaatskapslyste moet gaan kyk. Johan sit effens vorentoe en praat sag met haar.
“Ek is hier om te luister, nie om te oordeel nie.”
“Dominee, hy …”
Haar moed begeef haar, haar mond bewe.
“Edwina, wat is dit?”
“Dominee, hy kom uit ’n streng huis, sy pa … sy pa was wreed. Dis Theuns wat van gatvelle praat. Dit kom van sy pa af.”
Sy haal diep asem en byt haar onderlip vas. Johan wag.
“Hy slaan hulle, vir haar die meeste. Sy het Sondag behoorlik deurgeloop en ek … Ek praat nou uit die huis uit, maar ek kan nie meer nie.” Dit lyk asof sy tot tien tel voordat sy voortgaan. “Theuns raak rasend as hulle hom nie respekteer nie. Hy vergeet dat kinders na-apers is. Hy eien hom woorde en dinge toe wat hy ons nie gun nie. Danika is sy kind. Sy leer by hom – en dan wil hy haar afransel. Talita het haar Sondag weer uit sy greep losgeskeur en toe storm hy op my af.”
“Slaan hy jou? Lig hy sy hand vir jou ook?”
Edwina kyk hom reguit aan toe sy haar langmoubloes se boonste twee knope losknoop en oor haar skouers laat afsak. Die bloedkolle en ou kneusplekke om haar halslyn spreek boekdele.
Vader, wat gaan hier aan? Hoe is dit moontlik?
“Edwina … Hoe lank is dit al aan die gang?”
Sy trek haar bloes reg, maak dit weer netjies vas. “Deesdae kry ek die gevoel dat hy my wil dood hê.”
“Gister? Is dit dié dat jy nie by die Bybelstudie was nie?”
“Hy’t my in die kamer toegesluit. Die kos het op die stoof verbrand. Hy’t dit met potte en al op die komposhoop gegooi. Toe bak hy vir hom eiers. Ons het nie geëet nie. Later, teen sesuur se kant, het hy vir my oopgesluit, omdat hy ’n skoon hemp in die klerekas moes kry … vir die kerk. Die Here het hom deur die Bybelstudie wat julle gedoen het, van skuld en sonde oortuig. Hy’t toe weer by my kom huil, op sy knieë gesmeek