Rewolusie van die hart. Adriana Faling
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Rewolusie van die hart - Adriana Faling страница 4
“Tel jou seëninge, Salomé Pretorius,” sê sy weer saggies vir haarself en stap terug om met nuwe ywer te merk.
Laatnag sit sy uiteindelik haar pen neer en gaan maak toe eers weer seker dat al die deure gesluit is, want in hierdie land weet ’n mens nooit nie.
Sy verpes hierdie histeriese oggende wanneer Petrus nie hier is nie. As hy hier is, help hy ten minste om Alexander aan te trek en pap te maak. Sy is moeg en het sleg geslaap, want Alexander het weer by haar kom inkruip in die nanag. Toe moes sy net koes vir elmboë en knieë. Boonop het sy haar wekker twee keer te veel laat snooze vanoggend.
“Kom nou, asseblief, Alexander. Mamma gaan laat wees as jy nie nou gou maak nie. Talitha! Markus! Is julle klaar?”
“Maar ek wil nie die pienk pap hê nie,” kerm Alexander.
“Toe ek jou wakker gemaak het, het ek jou gevra watse pap jy wil hê en toe het jy gevra vir pienk pap.” Sy probeer kalm bly, maar voel hoe haar seer nekspiere stywer trek.
“Maar dis nie lekker nie. Ek wil dit nie hê nie.” In ’n kermstem wat op haar senuwees werk.
“Goed, dan gaan jy die kleuterskool se pap eet vanoggend, want ons moet nou ry. Talitha, Markus, kom!”
“Nee, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.”
“Ek gee nie om nie. Ek het vir jou pap gemaak en as jy dit nie wil eet nie, gaan jy die kleuterskool se pap eet. Borsel nou jou tande en klim in die kar. Talitha, is jou kosblik in?”
“Ja, Mamma.”
“Nee, ek gaan nie, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.”
“Nou eet dan jou pienk pap. Markus, gaan kry jou skoolbaadjie, dis yskoud.”
“Nee,” kom dit van Alexander.
“Dan bly jy honger.”
Hy hou eintlik van die pap, maar is nou net in ’n magstryd met haar gewikkel.
“Ek kry nie my baadjie nie, Ma!” roep Markus vanuit sy kamer.
“Mamma wil ook net altyd hê ek moet honger bly,” huil Alexander tussendeur.
“Maar jy het dit dan gister aangehad,” vat sy vlam teenoor Markus.
“Ek weet, maar ek dink ek het dit by die skool vergeet.”
“Ek wil tierpap hê,” huil Alexander.
“Ons moet ry, Mamma; dit is al tien oor sewe,” sê Talitha.
“Dink jy ek weet dit nie, Talitha?” Sy weet sy moenie begin skree nie, maar sy kry dit nie gekeer nie. “Ek is net een mens en ek moet vir vyf mense dink. Hoekom het jy jou baadjie by die skool gelos, Markus? Weet jy wat kos skoolbaadjies? En hou nou jou smoel, Alexander, voor ek dit toeklap.”
Nou huil Alexander volstoom. Markus sê niks en Talitha het daardie seergemaakte uitdrukking wat sê dit was ’n onregverdige uittrap. Dis eintlik alles my skuld, weet Salomé. Sy moes met die eerste wekker al opgestaan het.
“Loop klim in die kar, die lot van julle. Julle maak my so die hoenders in!” skree sy skuldig. “Markus moet nou maar vries en Alexander honger ly, want ons moet nou ry.”
Alexander skree vir die eerste prys en sit waar hy sit. Daar is nie meer tyd vir tande borsel nie; hy moet nou net so in die motor. Hy kan sy pienk pap by skool gaan eet. Sy gryp haar handsak, die boks gemerkte boeke en die papbakkie met die een arm, Alexander met die ander. Hy skree en skop en probeer haar byt deur haar dik jas, maar sy behou haar greep.
Toe klap hy met opset die papbakkie uit haar hand en die volgende oomblik – asof in vertraagde beweging – is daar pap oor die boeke, haar jas, selfs haar hare. Die papbakkie rol oor die grond. Alexander is meteens doodstil en kyk uitdagend na haar. Twee ander pare oë staar geskok.
Here, help my of ek gaan hierdie kind nou doodslaan, bid sy in haar hart terwyl sy alles op die grond neersit en ’n oomblik net so bly sit.
“Kom ek help Mamma,” sê Talitha versigtig, kry ’n lap en begin die boeke afvee.
Salomé staan stadig op en sê niks, trek haar vuil jas uit en gee die motorsleutel vir Markus. “Sluit solank die kar oop, Markus, en help vir Alexander in,” sê sy gevaarlik kalm. Sy stap badkamer toe om die pap van haar hare te gaan afvee. Pienk pap. Sy bekyk die prentjie in die spieël, begin eers lag en toe moeg huil. “Ag, Petrus. Ek het jou nodig by die huis,” sê sy vir haar spieëlbeeld.
My genade is vir jou genoeg, kom die bekende woorde in haar gees op.
“Dit voel nie so nie, Here,” antwoord sy hardop terug en begin verwoed skoonmaak.
Talitha kom stil in met die stapel boeke.
Salomé vee haar trane af en probeer om nie die bietjie grimering wat daar was heeltemal af te vee nie. “Dankie, my liewe kind.” Sy druk haar ’n oomblik vas. “Ek is jammer ek het geskree,” sê sy in haar dogtertjie se hare.
“Toemaar, Mamma. Is Mamma okay?”
“Hang af of ek nog pienk pap in my hare het?” vra sy gelate. “Kyk gou agter, asseblief.”
“Ja, wag, buk af, Mamma, dat ek dit kan uithaal.”
“Dankie, poppie.” Sy kyk ’n laaste keer na haar haarstyl wat nou lyk asof ’n koei haar gelek het. “Ag tog. Kom. Ons is nou baie laat.” Sy gryp ’n ander baadjie uit die kas en hulle hardloop gangaf.
Alexander is stil in die motor. Weer een-nul in sy guns, dink Salomé wrang. Hy is al tien-nul voor.
“My baadjie was in die kar, Mamma,” verbreek Markus die stilte.
“Wel, jy kan jou seëninge tel, want as dit weg was, was dit weg. Ek koop nie weer een nie.”
“Ja, Ma.” Onderdanig opstandig.
Stilte. “Kom, ons moet nog bid vir die dag.” Dis dalk hoekom alles so skeefgeloop het. “Ons bid sommer terwyl ons ry. Liewe Vader, baie dankie vir ’n nuwe dag. Dankie vir kos en klere en ’n warm bed; dis alles genade uit u hand. Ons bid vir die mense wat koud kry en honger is. Help ons om vir hulle ook te kan gee. Ons bid veral vir die mense van die kerke in die geslote lande; versterk en bemoedig hulle, Here. Wees asseblief met Pappa daar ver. Beskerm hom en gee hom die geleentheid om u liefde vir die wêreld te wys en die evangelie met iemand te deel. Beskerm ons asseblief elkeen vandag by ons verskillende skole en bring ons weer vanmiddag veilig bymekaar. Dit bid ons is Jesus se Naam.”
“Amen,” koor almal saam toe hulle by Alexander se skooltjie stop.
Salomé gaan sit altyd in die musiekklas wanneer sy ’n af periode het. Sy het weer boeke om te merk, maar vanoggend se drama met Alexander krap steeds aan haar. Sy staar by die venster uit met die stapel boeke oop voor haar. Wat doen sy verkeerd? Waarom is dit altyd ’n kop-aan-kop-botsing met die kind? Sy het tog ’n goeie verhouding met die ander twee en kan wraggies nie onthou dat hulle so moeilik was nie.