Oos na die son. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Oos na die son - Ena Murray страница 7
“Ons sal maar vannag hier voor anker lê en môre aan land gaan. Hier is nie ’n hawe nie en die kus is baie gevaarlik,” laat professor Islinger hoor.
Pauli merk op, haar oë soekend: “Ek sien geen mens nie. Daar is geen teken van lewe nie.”
“Aan hierdie kant van die eiland bly daar glo nie mense nie,” vertel professor Islinger. “Almal bly saam op ’n klein dorpie, Hangaroa, aan die ander kant.” Hy glimlag. “Ek het spesifiek gevra dat ons aan hierdie kant van die eiland anker gooi, want volgens wat ek gelees en gehoor het, is die bewoners van Paaseiland, hoewel baie goeie mense, ook uitmuntende diewe!”
“Ja, asook geniale swendelaars!” voeg Louw glimlaggend by. “Hulle het die lewe van elke ekspedisielid wat nog ooit hier gekom het, vergal deur heeldag beeldjies en goed aan te dra. Hulle sweer dan hoog en laag dit kom uit ’n familiegrot van só en só oud, en dan wil hulle belaglike pryse daarvoor hê. Al die tyd is dit goed wat hulle sommer flussies self gemaak het. Party van die beeldjies, veral die houtsneewerk, is so kunstig dat net ’n kenner die verskil sal agterkom.” Hy kyk na sy vrou. “Pas dus op, Pauli, dat jy jou nie ’n kat in die sak koop as jy ’n aandenkinkie van Paaseiland huis toe wil neem nie.”
Pauli antwoord nie, maar twyfel sterk of Paaseiland vir haar van soveel belang sal word dat sy ’n aandenking huis toe sal wil neem. Vir haar is hierdie eerskomende paar maande ’n straf, die prys wat sy moet betaal om van haar man geskei te kom. Sy sal maar te dankbaar bly wees wanneer die dag aanbreek waarop hulle weer anker lig om weg te vaar …
Almal gaan daardie aand vroeg slaap. Van die volgende dag af sal die luilekker lewe aan boord van De Afrikaansche Galei verby wees. Môreoggend vroeg moet begin word met die aflaai van al die toerusting en proviand op ’n onvriendelike kus, want soos Thor Heyerdahl het professor Islinger besluit dat dit beter sal wees om liewer nie te naby Hangaroa kamp op te slaan nie. Dan moet hulle die kamp waar hulle die volgende maand of drie sal bly, in orde kry en dan eers sal hulle met mening kan wegspring met die navorsing waarvoor hulle halfpad om die aardbol gereis het. Die boot se ligte word die een na die ander gedoof terwyl Paaseiland ’n enkele swart spikkel in ’n onmeetbare see word.
Hulle slaap egter nie dadelik nie. Buiten die bemanning van die boot, is daar minstens vier mense wat nog ’n hele ruk wakker lê.
Professor Islinger se gedagtes bly ’n rukkie besig met sy verwagtinge van hierdie ekspedisie. Dan keer dit na die ander drie lede van sy span, en ’n ligte frons verskyn tussen sy ruie wenkbroue. Teen hierdie tyd kon hy al agterkom dat alles nie honderd persent pluis is met sy jong kollega se huwelik nie. Hoewel hulle om die ander se onthalwe hul bes gedoen het om gedurende die seereis beleef en vriendelik teenoor mekaar op te tree, was dit vir ’n fyn waarnemer soos die Amerikaanse professor duidelik dat die vriendelikheid gedwonge was en dat daar spanning tussen dié twee heers.
Dan ook, hoewel niemand ooit daarna verwys het nie, was dit baie opmerklik dat man en vrou nie ’n kajuit deel nie. Louw Hattingh se rede, naamlik dat hy saans tot laat besig bly en Pauli dan sal hinder, is stilswyend aanvaar en toe geïgnoreer.
Die professor se frons verdiep. Spanning in so ’n klein geselskappie wat maande lank op ’n klein, haas totaal afgesonderde eilandjie saamgehok is, kan tot allerlei probleme lei. Daarom dat hy altyd so versigtig is oor wie hy in sy geselskap opneem. Selfs die kleinste en onbenulligste dingetjies kan onuithoudbaar irriterend word, humeure laat opvlam en gevoelens wek wat normaalweg skaars die aandag sou getrek het. Want nie net is daar spanning tussen Louw Hattingh en sy mooi jong vrou nie. Daar is ook beslis spanning tussen die twee vroue. Die rede hiervoor is ook nie ’n geheim vir die leier van die ekspedisie nie.
Professor Islinger het opgemerk dat doktor Zelia Meyer haar bes doen om Pauli altyd uit die geselskap te sluit. Wanneer Pauli teenwoordig is, stuur sy gesprekke doelbewus na onderwerpe waaroor sy nie kan saamgesels nie. Dan ook het hy opgemerk dat Zelia Meyer soms byna besitlik tenoor die jong professor optree; soms ’n houding inneem wat aan intimiteit grens – iets wat nie in ’n verhouding tussen twee wetenskaplikes tuis hoort nie, al is hulle nie van dieselfde geslag nie en al het hulle vorige ekspedisies saam deurgemaak. Daar is geen teken in Louw se gedrag dat hy bewus is daarvan dat daar meer as kollegiale vriendskap van die kant van Zelia Meyer is nie. Tewens, dis baie duidelik dat hy haar geselskap geniet, maar hul gesprekke is altyd op wetenskaplike vlak. Of is dit miskien die rede hoekom hy sy mooi, jong vrou hierdie keer saamgesleep het? Dan was dit ’n fout, besluit professor Islinger voordat hy omdraai om te slaap.
Ook Pauli lê nog ’n lang ruk wakker, en haar gedagtes sirkel min of meer in dieselfde baan as dié van professor Islinger. Die vae vermoedens wat sy voor die vertrek reeds gevoel het in verband met Zelia Meyer, het gedurende die seereis voldonge feite vir haar geword. Zelia Meyer is nie net ’n briljante wetenskaplike nie, maar ook ’n vrou … ’n vrou met aspirasies, daarvan is Pauli nou baie seker.
Hoewel sy te trots is om die ander vrou te laat agterkom dat sy wéét dat dié haar bes doen om die wig nog dieper tussen haar en haar man in te dryf, hou sy hulle fyn dop – en sy sien alles raak, selfs meer nog as die leier van die ekspedisie. Nie dat dit haar juis ontstel nie. Eintlik amuseer dit haar ’n bietjie om die geleerde dame se pogings te aanskou! Dis ’n verspilling van goeie energie, maar dit weet Zelia nie.
Louw het haar blykbaar nie vertel dat hy en sy vrou gaan skei sodra hulle terug is van hierdie ekspedisie nie. Daaroor is Pauli nogal bly. Sy weet dat dit net sy trots is wat hom daarvan weerhou om dit wêreldkundig te maak dat sy huwelik op die rotse is. Louw Hattingh is nie ’n man vir mislukkings nie, en dit moet swaar wees vir hom om te weet dat hy in dié opsig gefaal het. Hoewel dit haar nie juis skeel of hierdie mense weet dat haar en Louw se huwelik gedoem is nie, is daar tog iets in haar wat dié inligting van Zelia weerhou wil hê. Hoekom kan sy nie sê nie, behalwe miskien dat sy dan ’n nog groter gek sal voel. Louw se redes hoekom hy haar hierheen saamgesleep het, is nog steeds vir haar duister en sy optrede belaglik, en as Zelia die waarheid moes weet en haar openlik uitlag, sou sy haar nie kwalik kon neem nie.
Pauli sug en draai op haar ander sy. Wel, laat Zelia maar voortgaan met haar pogings om Louw Hattingh van sy vrou te probeer steel. Sy weet nie hoe belaglik sý is nie, dink Pauli met wrang humor. ’n Mens kan mos nie iets probeer steel wat daar oop en bloot lê net vir vat nie!
In die kajuit langsaan lê Louw Hattingh die een sigaret na die ander en rook. Soos sy hoof, dink ook hy vannag aan allerlei onwetenskaplike kwessies. Dat sy gedagtes nie aangenaam is nie, is duidelik te sien aan die diep frons op sy voorkop en die harde lig in sy oë.
Miskien sou Pauli nie so maklik alles van haar kon afskuif en rustig aan die slaap raak as sy die gedetermineerde trek om haar man se lippe kon sien nie. Wat Pauli nie weet nie – sy ken haar man nog nie so goed nie – is dat Louw Hattingh, afgesien daarvan dat hy ’n wetenskaplike van formaat is en ’n man wat nie hou van mislukkings nie, ook ’n hardkoppige streek in hom het waarvan sy nog maar net ’n glimp gesien het toe hy sy ultimatum aan haar gestel het.
En verder af in die smal gangetjie lê ook Zelia Meyer in haar kajuit voor haar en uitstaar. Professor Islinger se kommer sou verdiep het as hy die uitdrukking in haar oë kon sien. Hy sou dan geweet het dat sy voorgevoel nie verkeerd was nie. Inteendeel, selfs Louw Hattingh sou kwalik sy kollega op hierdie oomblik herken het. Net Pauli sou miskien nie so verbaas gewees het nie. Sy sou besef het dat haar vroulike intuïsie reg was, dat daar meer agter doktor Meyer se koel, wetenskaplike houding sit as wat met die oog sigbaar is.
Want soos Zelia Meyer nou daar lê, het sy die wetenskaplike saam met die swartraambril en besadigde klere eenkant neergesit. Sy is volkome vrou met ’n berekenende lig in haar oë. Die stywe bolla van die dag is losgemaak