Ctrl Z my lewe. Cheréne Pienaar
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ctrl Z my lewe - Cheréne Pienaar страница 3
“Jy is so jonk. Jy moet die lewe geniét.”
Daarmee het sy seker bedoel: Kry tog in vadersnaam net ’n lewe! Plein Jane word aangemoedig om interessant en pret te wees. Boring Lucky sonder enige luck.
“Kom, Els!” Sy gryp haar tas en draf voordeur toe.
Nadat sy vir Elsa by haar yuppieskool afgelaai het, mik die Volla na Heuwelsig waar Hoërskool Langeberg is. Die lug is wolkloos. Soos Lucky met Dan Pienaar-rylaan langs ry, flits haar oë oor die huise met die groot grasperke sonder om dit werklik raak te sien. Gideon sê dis ou huise wat so lyk.
In Nettletonstraat sit meneer Griessel se vrou hurkend en peuter aan ’n sproeierkop. Onder haar breërandhoed verander haar gesig in ’n wye glimlag toe sy die ligblou Volla gewaar. Sy laat sak die sproeier en waai wild met haar regterhand.
Dis ’n klein ritueel tussen hulle, maar vanoggend bly Lucky voor haar kyk met beide hande op die stuurwiel. Sy trap die petrolpedaal ’n bietjie dieper in sodat die breërandhoed vinnig kleiner word in die truspieëltjie. Sy is moeg vir almal se simpatieke kyke en die praatjies agter haar rug.
“My ma het nie meer ’n drankprobleem nie! En hierdie gewaaiery is sommer simpel!” wil sy in die vrou se rigting skree.
Hulle is almal so blerrie eenders, man, probeer sy haarself oortuig terwyl skuldgevoel in haar opstoot. “On-ge-skík,” sou Elsa nou sê.
Môre sal sy ordentlik waai, neem Lucky haar voor.
Sy parkeer naby die skool se ingang en klap Lama se deur agter haar toe. Hanke wag vir haar buite Batman se klas. Donderdae begin met ’n dubbelperiode Wiskunde en Lucky weet vandag s’n gaan ’n lange wees.
’n Paar meter van Hanke af kyk sy skielik geskok na haar vriendin. Hoekom merk sy nou eers op hoe maer Hanke geword het? Haar heupbeen steek soos ’n sambreel se punt uit waar sy teen die muur leun, haar skouerblaaie om die vensterbank gehaak. Haar arms hang dood langs haar sye. Oë toe teen die skerp oggendson.
Lucky gaan staan langs haar, sit haar tas neer en leun ook teen die vensterbank.
Hulle staan altyd saam eenkant. Dis ook hoe hulle ontmoet het. Hanke het in die hoek van die klas gesit en spinnerakke trek met haar Pritt. Haar andersheid het Lucky aangetrek soos daai drade tussen haar vingers. Van toe af is dit hulle twee teen die poppies. Toe kom Gideon om dinge net mooi uit te balanseer. Eintlik was hy nog altyd daar. Hy is cool, Hanke is die hipster, en Lucky probeer steeds uitpluis wie sý is.
“Yes, freak.”
“Môre, môre.” Lucky buig oor haar sak om haar Ken en Verstaan Wiskunde Graad 11 en 12 op te diep.
Hanke maak haar oë oop en loer na die boek in Lucky se hande.
“Die hele wêreld het Kindles en ons moor steeds bome asof dit uit die mode gaan,” sê sy. “Sal ’n paar jaar neem voor dit Bloem hit.”
Lucky glimlag skeef. “Jy vrot na rook, Hanke. Batman gaan dit verloor.”
“Who cares? Ek het ’n maand in hierdie godverlate plek oor. Wat gaan hulle sê? Nee wat, suster, my punte is te goed. Ek kan heroïen in my potloodsakkie aanhou as ek wil.”
Lucky rol haar oë. “Ag, asseblief.”
“En jy val deur jou hol.”
Moet Hanke altyd so kras wees?
“Jý’s een om te praat. Jy lyk verskriklik maer.”
“Fok. Nie nog jy ook nie.”
Voor Lucky kan antwoord, hoor hulle die gegiggel onder die suurlemoenboom ’n entjie weg van hulle. ’n Groepie meisies met blink oë en stywe bollas vertel hard vir almal om te hoor van hul planne vir die vakansie én die toekoms.
“Ek gaan chemiese ingenieurswese op Stellenbosch swot.”
Minette Pieterse. Dan pak sy daai ry wit tande en die dimpels in die wange uit.
Lucky wil skree, maar dan onthou sy: Vandag is anders. Uiteindelik het sy ’n antwoord gereed as daai swaar vraag-septer haar kant toe swaai: Wat doen jy volgende jaar?
Om met ’n rugsak Barcelona toe te vlieg, voel soos ’n stap in die regte rigting. En dit klink bitter cool. Hoe is die ouens in Europa?
Die klok onderbreek haar gedagtes en hulle stap klas toe.
“Wat gaan aan?” vra Hanke. “Jy’s hier, maar ook nie hier nie.”
“Dude, ek het groot nuus. Ek gaan Barcelona toe, na my pa toe.”
Hanke se oë rek. “Dís pretty awesome! Ek hoor daar is sick graffiti. En hey, nou kan jy uitvind hoekom hy jou vir veertien jaar basically ’n ignore gekap het.”
Hulle gaan sit agter in die klas. Lucky is nuuskierig om Hanke se jongste sketse te sien, al maak haar vriendin se kunswerke haar meestal bang. Hanke het ’n donker siel, that’s for sure, maar talent, dié het sy beslis.
Hanke haal haar A3-sketsboek uit en blaai ’n paar blaaie aan. Sy draai die boek om vir Lucky te wys. ’n Reusehaas met slagtande waarvan speeksel drup, staan agter tralies. Sy arms hang slap langs sy sye. Sy oë is pikswart, sonder enige wit, en sy lang ore is vuil en verwaarloos.
Lucky se hart mis ’n slag. “Wonderlik,” sê sy met ’n strak gesig en kyk dankbaar op na wat ook al die klas skielik tjoepstil maak.
Batman staan in die deur asof op aandag met ’n knipbord onder sy arm.
“Ek vertrou julle is klaar met Vraag 3?” Sonder om vir ’n antwoord te wag, gaan hy voort: “Jul matriekafskeidfoto’s is gereed en kan afgehaal word in die voorportaal. Míts julle Vraag 3 afgehandel het.”
“Die enigste ding meer lame as ’n matriekafskeid is ’n matriekafskeidfoto,” mompel Hanke hier langs Lucky.
Minette en haar groepie kyk opgewonde vir mekaar. “Yessss!” klink dit uit verskeie kele.
“Shoot me now.” Hanke kyk nie eens op nie, hou net aan skets aan iets wat lyk soos ’n zombie met ’n swart aktetas in sy linkerhand.
Lucky loer onderlangs na haar vriendin. Hanke is altyd cooler as die status quo, veral wat betref ’n eeu-oue instelling soos die matriekdans. Lucky het vir Gideon gevra om saam met haar te gaan. Sy was moerig toe hy met dieselfde kleur das as haar rok by die huis opgedaag het. Hanke gaan dink dis super lame! En die res gaan dink ons is ’n couple! het sy mismoedig gedink.
Hanke het natuurlik swart gedra. Die ou aan haar sy het sy net as ’n grootwordpel voorgestel.
Uiteindelik kyk Hanke van haar sketsboek op. “Dis alles so ’n waste,” sug sy terwyl sy na die opgewonde meisies voor hulle kyk.
Dalk was dit, dink Lucky. Dit sou daai aand baie lekkerder gewees het om series saam met haar ma te kyk. Die AA-coach sê dis goed dat hulle dinge saam doen wat almal geniet. Elsa sou soos gewoonlik die nuwe “Hairdo