Terug na die Ou Testament. Adrio König

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Terug na die Ou Testament - Adrio König страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Terug na die Ou Testament - Adrio König

Скачать книгу

te kortwiek.

      Watter een van hierdie twee betekenisse is die waarskynlikste? Sit daar nie ’n vreemde beeld van Jesus agter die eerste een nie? Sou Jesus regtig gemeen het sy volgelinge moet op die Sabbat rus al is hulle lewe in gevaar? Is dít die Jesus van die Evangelies, die Jesus wat sy dissipels verdedig as hulle op die Sabbat koringare pluk oor hulle honger is, en siekes op die Sabbat genees? Is Hy nie die Een wat gesê het die mens is nie vir die Sabbat gemaak nie, maar die Sabbat vir die mens (Mark 2:27)?

      Dis dus sinvoller om die tweede rede te aanvaar: Dat die Sabbat dieselfde probleme as die winter sou oplewer. Dit sou omstandighede meebring wat hulle vlug sou bemoeilik. Dit beteken dat ons nie uit hierdie woorde van Jesus kan aflei dat Hy bedoel het dat sy volgelinge na sy opwekking nog die Sabbat moes hou nie.

      Jesaja 66:22-23 sal in hoofstuk 3 behandel word.

      Maar intussen is dit in elk geval duidelik dat Jesus self die Sabbat gehou het net soos Hy getrou was aan die ander aspekte van die Ou-Testamentiese kultus: die besnydenis, die tempel, die feeste, die priesterdiens en die offers.

      2.3.4 HET DIE VROEË CHRISTENE DIE SABBAT GEHOU?

      Ná die uitstorting van die Gees het die dissipels en die Joodse Christene nog lank ’n besondere verbondenheid aan die Ou-Testamentiese vorm van godsdiens gehad. Ons lees spesifiek van hulle tempelbesoek, die feeste en die besnydenis (Hand 3:1 ev; 20:16; 21:20-26). Trouens, die vroeë Christene was eintlik nog Jode wat net, anders as hulle mede-Jode, geglo het die Messias het gekom, gekruisig en opgewek is, en hulle wou net hulle mede-Jode daarvan oortuig.

      Dis eers gaandeweg dat daar ’n afstand tussen hierdie twee groepe begin kom het. En skynbaar was die Sabbat deel van hierdie afstand.

      So op die oog af lyk dit asof Paulus die Sabbat nog streng gehou het. Immers volgens Handelinge is hy keer op keer op die Sabbat in ’n sinagoge (Hand 13:14,42; 17:2; 18:4). Maar wat doen Hy daar? Is dit ’n byeenkoms van Christene? Of ontmoet hy Jode om hulle te probeer oortuig dat Jesus die Messias is? “Hou hulle kerk,” of redeneer hy met hulle? (Hand 17:2, en al die ander gevalle.) Paulus gaan op die Sabbat na die sinagoge omdat dit die enigste dag is waarop Hy die Jode daar bymekaar sal kry om die evangelie van Jesus aan hulle te bring en hulle met argumente te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3). Uit Handelinge 13:42-44 is dit duidelik dat hy dit net op Sabbatdae kon doen. Dit was egter nie byeenkomste van Christene nie.

      Ná die opwekking van Jesus word daar nooit verwys na ’n byeenkoms van Christene op ’n Sabbat nie. Trouens, behalwe vir die een negatiewe verwysing na die Sabbat (Kol 2:16), kom die woord “Sabbat” nooit in die Briewe of in Openbaring voor nie.

      Hierdie een negatiewe verwysing in die Briewe lui: Moenie “dat iemand vir julle voorskrywe ... dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie. Dis alles maar net ’n skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus” (Kol 2:16-20). Paulus noem die Sabbat saam met die feeste ’n “skaduwee van wat sou kom”. Dis ook hoe Hebreërs oor die wet van Moses praat (waarvan die Sabbat ’n deel is). Die wet was “slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom,” die “weldade” wat deur Jesus gekom het (Heb 10:1-4). En Paulus vervolg dan in Kolossense dat Christene dood is vir hierdie wettiese godsdienstige reëls (Kol 2:20). Ons kan mos nie terugdraai na die skaduwee as die Een wie se skaduwee dit is, Self gekom het nie.

      Dis dus verstaanbaar waarom die Sabbat skynbaar eenvoudig verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene. Trouens indien die Christene uit die heidene wel nog die Sabbat moes hou, sou dit ’n geweldige probleem geword het, baie erger as die besnydenis. Baie van hulle was slawe wat vir heidense eienaars gewerk het. Hierdie eienaars sou hulle nooit toegelaat het om een dag in die week nie te werk nie. In die meeste gevalle sou hulle lewe op die spel gewees het. Dit sou beteken het dat die apostels in die Briewe baie aandag hieraan sou moes gee. Hulle sou die Christenslawe moes raad gee hoe om hierdie probleem te hanteer. Maar ons kry nie eens ’n spoor daarvan in die Briewe nie.

      Selfs ook nie in Handelinge 15 nie. Dáár gaan dit oor die vraag of die heidene wat tot bekering kom, nog die wet moet hou (15:5). Dan is die konkrete voorbeeld uit die wet die besnydenis (Hand 15:1). En die Sabbat kom nie eens ter sprake nie terwyl dit ’n veel dringender probleem sou gewees het. Dit beteken skynbaar dat selfs die Joodse Christene nie van die heiden-Christene verwag het om die Sabbat te hou nie.

      Dit lyk dus of die Sabbat uit die lewe van die heiden-Christene verdwyn het, al kan ’n mens aanneem dat baie van die Joodse Christene aanvanklik nog daarmee voortgegaan het, net soos met die besnydenis (Hand 21:20-21). Maar dit was natuurlik in Jerusalem waar dit maklik was omdat die Jode daarmee voorgegaan het. Maar ons weet ook uit die geskiedenis dat sekere gemeentes nog vir ’n paar eeue lank sowel die Sabbat as die Sondag onderhou het. Die feit dat hulle albei, Sabbat én Sondag, onderhou het, kan beteken dat hulle deeglik daarvan bewus was dat dit twee verskillende dae was, en nie dieselfde soort dag nie (2.7).

      2.4 KOLOSSENSE 2:16

      Tog is daar Christene wat oortuig is dat Kolossense 2:16 ’n ander betekenis het. Hulle meen dit gaan daarin nie om die gewone weeklikse Sabbat nie. Daar word onder andere twee argumente aangebied.

      •Hulle meen die Griekse woord wat hier vir “Sabbat” gebruik word, is in die meervoud. Dit sou eintlik met “Sabbatte” vertaal moes word.

      •En hierdie “Sabbatte” (feesdae) sou dan nie die gewone weeklikse Sabbat wees nie. Daar sou ook ander feesdae gewees het wat “Sabbat” genoem was.

      Kom ons kyk eers na die Griekse woord wat vir “Sabbat” gebruik word. Die Griekse woord het die vorm van ’n meervoud. Maar dit is presies dieselfde woord wat in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) gebruik word vir die weeklikse Sabbat (Eks 20:8). Dit is dus nie werklik ’n meervoud nie, dit lyk net na ’n meervoud. Dit is in werklikheid die Hebreeuse woord wat net in Griekse letters geskryf is, soos ook ander Hebreeuse woorde soos “amen” en “halleluja”. Omdat dit in die Ou Testament die woord vir die weeklikse Sabbat is, gaan dit dus inderdaad om die gewone weeklikse Sabbat wat net ’n skaduwee was van Christus. Daarom hoef die gemeente nie met die Sabbat voort te gaan nie. Die Een wat die skadu vooruitgegooi het, het Self gekom.

      Maar daar is nog die bewering dat “Sabbat” hier nie verwys na die weeklikse Sabbat nie, maar na ander feesdae wat ook só genoem is.

      Dit is inderdaad moontlik dat daar enkele gevalle is waar ’n ander feesdag as die gewone Sabbat ook “Sabbat” genoem word (Lev 16:31; 23:9,15,32). Dit gaan hier onder andere oor die groot versoendag. Maar dit kan nie wees wat Paulus hier onder “Sabbat” bedoel nie. Hy noem dan klaar hierdie feeste onder “die jaarlikse feeste” (“die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbat” – Kol 2:16).

      Wat egter veel belangriker is, is die feit dat hy hier die staande uitdrukking gebruik wat oor en oor in die Ou Testament vir Israel se totale feeskompleks gebruik word: “Die jaarlikse feeste, die nuwemaansfees, en die Sabbat”. Waar hierdie uitdrukking in die Ou Testament gebruik word, beteken “Sabbat” altyd die weeklikse Sabbatdag. Dit kan dus nie hier skielik na ’n ander feesdag verwys nie. Kyk gerus na hierdie uitdrukking in die Ou Testament (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10. Kyk ook na 2 Kon 4:23; Jes 1:13; Eseg 46:1,3; Amos 8:5; Jes 66:23; Klaagl 2:6). Dit is ook duidelik dat “Sabbat” in hierdie uitdrukking die weeklikse Sabbat bedoel (Jes 66:23; Eseg 45:17; Neh 10:33).

      ’n Mens kom dus nie maklik weg van die oortuiging dat die Sabbat nie net skynbaar verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene nie, maar selfs dat Paulus die gelowiges heeltemal vry wou maak daarvan.

      Hierdie

Скачать книгу