Rabbedoe en rissiepit. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rabbedoe en rissiepit - Ettie Bierman страница 5

Rabbedoe en rissiepit - Ettie Bierman

Скачать книгу

te wys sy is net so prakties en bekwaam soos hulle? Sy kan ’n beter werktuigkundige as enigeen van hulle wees? Dit lyk nie so nie. Nie as sy die eerste keer dat sy een van hulle ontmoet, in drome versink en soos ’n bakvissie bloos nie.

      “Ee … Ekskuus?” stamel sy verleë.

      Hy staan met ’n skottel stomende water en watte voor haar.

      “Ek vra of jy jou kop kan oplig, Juffrou. Of is jou nek seer?”

      “Nee. Nee, dis nie seer nie.” Nell sit penorent asof sy ’n besemstok ingesluk het en vee die hare van haar voorkop weg sodat hulle nie oor die wond hang nie. Sy hou haar oë vasgenael op sy vyfde hempsknoop wat vlak voor haar gesig sit en sit roerloos, al brand die warm water en ontsmettingsmiddel in die sny. Toe hy weg draai om die buis salf op die tafel by te kom, druk sy heup per ongeluk teen haar arm. Deur sy broek kan sy die hitte van sy lyf voel deurslaan.

      Sy probeer desperaat aan iets dink om die ongemaklike stilte te verbreek, maar haar brein voel afgestomp.

      “D … Dankie,” hakkel sy. Ook dit klink verspot.

      Dewald plaas gaasverband op die wond, en ’n pleister bo-oor. Al het dit baie gebloei, is die sny nie diep nie. Hy glo nie steke sal nodig wees nie. Die skouer lyk ook nie te erg nie. Waarskynlik net ’n verrekte spier wat binne ’n dag of twee sal reg wees.

      “Wat kom jy op Kuilvlei doen?” wil hy weet.

      “Werk.”

      “Wérk?”

      Nell waag ’n vlugtige blik na sy gesig. Sy wenkbroue is saamgetrek asof hy haar nie glo nie. Bruin, sien sy, sy oë is donkerbruin met groen vlekkies om die iris.

      “Ek is my oupa se nuwe motorwerktuigkundige.” Hoekom klink sy so op die verdediging? So asof sy vooraf verskoning maak. “Die man wat hy voorheen gehad het, het hom in die steek gelaat,” gaan sy voort. “Hy het sommer een nag sy goed gevat en verdwyn, sonder ’n verduideliking.”

      “Piet Booysen, ja.” Dewald kyk haar ondersoekend op en af. “Is jy Nellie?”

      “Nell,” korrigeer sy. “Net oupa Tewis noem my nog Nellie, soos toe ek klein was.”

      Sy is nie nou juis groot nie, dink Dewald. Of meer volwasse nie. Motorwerktuigkundige? Dié enetjie? Dan was selfs ou skelm Piet ’n beter belegging. Oupa Tewis raak op sy oudag seniel. Hy moet sy kop laat lees of aftree. Hy kan jare al nie meer die werk behartig nie. Dewald glo nie hierdie klein snip sal hoegenaamd ’n bydrae kan lewer om Strydom Motors weer ’n winsgewende onderneming te maak nie. Oupa Tewis moet op pensioen gaan, daardie bosveldplasie koop. Daar sal hy minder probleme hê as by die motorhawe, veral as sy kleindogter teruggaan van waar sy kom.

      “Ken jy my oupa?” vra Nell.

      “Op Kuilvlei ken almal mekaar. Ek sal jou inneem dorp toe. Hy verwag jou seker?”

      “Ja. Van vroegmiddag al.”

      “Dan sal hy bekommerd wees. Terwyl ek vir jou droë klere soek, kan jy hom bel en gerusstel.”

      “Asseblief.”

      “Die telefoon is in die studeerkamer. Af in die gang, derde deur regs.”

      Nell staan op. Eers toe sy by die kombuisdeur is, merk Dewald op dat sy mank loop. “Wat het van jou skoen geword?” vra hy. “En wat gaan met jou been aan?”

      “Ek weet nie waar is dié skoen nie,” skerm Nell. Dié het in die modder agtergebly toe hy haar sonder ontsag daar uitgesleep het, sy was te bang om verder sy tyd te mors deur na die skoen te soek.

      “En wat is dit met jou knie?”

      “’n Skraap of iets. Niks ernstig nie.”

      “Laat ek sien …”

      “Of net ’n kneusing … Ek sal regkom, dankie.”

      Dewald mompel ’n woord wat Nell nie ken nie. Regkom, ja, soos die afgelope paar uur, en vir almal ’n erger las word … Hy pluk Nell aan die arm terug en stoot haar weer in die rigting van die riempiestoel.

      Nell het nie ’n keuse nie. Die boer, wat ook al sy naam is, mag ryk en aantreklik wees, maar hy openbaar nie juis goeie maniere nie, dink sy.

      Dewald kom sit op sy hurke voor haar en fluit saggies tussen sy tande deur. “Dit lyk sleg … jou knie is erger as ’n bulsak geswel en die bloed syfer deur jou broekspyp. Het iemand al vir jou gesê koppigheid is besonder irriterend, Nellie? Dit veroorsaak dat die persoon vir almal ’n las word. Jou oupa sal nie verband en medisynes hê nie en Kuilvlei het nie ’n apteek nie, wat nog te sê ’n noodapteek wat dié tyd van die aand oop sal wees. Hy sou ’n dokter moes bel om uit te kom. Jy is mos nie stom nie. Kon jy nie jou mond oopmaak en sê die knie is erger as die sny aan jou kop nie?”

      Nell wil skielik huil. Haar hoofpyn is erger, haar knie voel of dit aan die brand is en sy verlang na haar ma en pa.

      “Asseblief, ek wil eers my oupa bel …” vra sy.

      “Ja, bel. Ek soek intussen klere wat jou sal pas.”

      Dis ’n plaaslyn en die telefoon het ’n slinger. Nell weet nie hoe om die “kontrêpsie” te hanteer nie. Toe sy die gehoorbuis optel, gebeur niks nie en wanneer sy die slinger draai, klink dit of sy op ’n satelliet in die buiteruim is.

      “Kom jy reg?” verneem Dewald toe hy ’n keer in die gang verbystap.

      “Ja, nou-nou …”

      ’n Kwartier later kom hy weer verby. “Ek moes geraai het jy is ’n bedorwe stadsjapie wat aan knoppiesdruk en alles wat outomaties is, gewoond is. Los die spreekbuis op die mik en draai die slinger. Nee, nie so nie. Draai hom! Soos mens room karring.”

      Toe Nell steeds nie resultate kry nie, neem hy oor. Sy aksies verrig wondere. Binne drie tellings antwoord die sentrale.

      “Oupa Tewis, asseblief, Laetitia,” versoek Dewald en oorhandig die gehoorbuis aan Nell.

      “202, Strydom hier van Strydom Motors,” sê ’n krakerige oumanstemmetjie in haar oor. Sedert halfelf vanoggend is dit die eerste vriendelike stem wat sy hoor.

      “Oupa? Hallo? Kan Oupa my hoor?”

      “Natuurlik kan ek jou hoor, kind. Ek is oud, maar g’n doof nie. Ek kyk al van douvoor uit en al wat kom, is jy. Die vuur is al uitgebrand en die tjoppe houtskool. Wáár is jy?”

      “Ek weet nie. Êrens op ’n plaas, maar waar dit is en wie die man is wat my gehelp het, weet ek nie.”

      “Watse man? Vir wat moes hy jou help?”

      “Ek het verdwaal en ’n ongeluk gemaak.”

      “Ja, mens verdwaal maklik per ongeluk as jy nie die pad ken nie.”

      “’n Ongeluk,” herhaal Nell. Oupa Tewis sukkel al jare met sy gehoor, maar weier om dit te erken of ’n gehoorapparaat te dra. “Niks ernstig nie. My motor is bietjie verniel, maar ek is ongedeerd.”

      “Omgeweerd?

Скачать книгу