Lang pad na liefde. Amelia Strydom
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Lang pad na liefde - Amelia Strydom страница 9
“Môre,” sê sy, haar stem dapperder as wat sy voel. “Jy’s vroeg op.”
“Laat wakker. Ek het nooit gaan slaap nie.”
“Dit maak twee van ons.”
Hy bring ’n kartonhouer met vier wegneembekertjies te voorskyn van agter sy rug.
“Seker dis genoeg koffie om jou ’n buzz te gee?”
“Dit is joune. Ek het klaar gedrink.” Hy hou die houer na haar uit. “Ek het nie geweet waarvan jy hou nie. Vanilla latté, hazelnut latté, gewone cappuccino of mocha. Pick your poison.”
Sy weifel ’n oomblik.
“Vat, toe. Dis ’n olyftakkie.”
’n Van der Linde met ’n vredeoffer? Interessant. “Watter een is vanilla?”
Hy soek die regte bekertjie uit en vat die houer terug.
“Jy wil dit dalk in die mikrogolf sit, ek het ver daarmee gery.”
“Ek het nie ’n mikrogolf nie. Die strale gee kanker,” sê sy met ’n ophaal van haar skouers.
“Dan moet jy maar koue koffie drink.” Hy knik in die rigting van haar tuinstoeltjies. “Kan ons gesels? Sommer hier buite, dis ’n lekker oggend.” Hy draai sy kop skeef. “Ek sal nie hard praat nie, ek belowe.”
“Môre, Anouk!” roep tannie Hendrien, wat al terugkom van die see met haar visstok en blou koelboks. “Lekker geslaap?”
Anouk waai terug sonder om oogkontak te maak. “Kan ons eerder langs die strand gaan stap?”
Rossouw kyk na sy skoene, wat waarskynlik meer kos as wat sy in maande verdien. “Ek’s nie juis aangetrek daarvoor nie.”
“Ag, trek die dêm goed uit.” ’n Vlaag irritasie trek deur haar. “Live a little.”
Hy kyk ’n paar sekondes stip na haar. Dis onmoontlik om seker te wees wat in sy kykers – of sy kop – aangaan agter daai gitswart lense.
“Wil jy gou die ander koffies gaan uitdeel? Soos ek jou ken, is jy pêlle met almal.”
“Gaan jy nie nog een drink nie?”
Hy laat sak sy lang lyf op ’n tuinstoel en trek sy skoenveters los. “Ek drink nie koue koffie nie.”
Sy wag nie vir Mollie om die deur oop te maak nie, klop net en sit die koffie op die draadtafeltjie neer. Later sal sy verduidelik. Sy drafstap terug na haar woonwa. Albei Rossouw se skoene is uit, sy kouse pyn-in-die-gat netjies opgerol. Eina-eina stap hy oor die klippies om alles in sy sportmotor te bêre.
“As jou voetsole marshmallows is, hoef ons nie te gaan nie.”
“Kom.”
Sy skop haar plakkies halfpad onder die karavaan in, en hulle stap met die voetpad af strand toe.
“Waar’s sy?” vra hy.
“By ’n maatjie gaan speel. Ek gaan haar laatmiddag haal.”
Emosie flits oor sy gesig. Verligting? Teleurstelling? Sy weet nie.
Anouk gooi haar leë bekertjie in ’n groen drom en loop voor hom uit tot in die skuim, waar die branders aan haar tone lek.
“Sjoe, maar die water is koud,” kla hy toe hy langs haar inval. “My tande pyn eintlik.”
“Wimp.”
Hy lag saggies en haar maag rol op die ander sy.
“Ek het dit verloor gisteraand,” sê hy. “Ek’s jammer.”
“Dis ék wat om verskoning moet vra. Ek weet nie wat ek destyds gedink het nie.”
“Kyk, ek sal nie vir jou lieg nie, ek wens ons kon die horlosie terugdraai. Maar jou redes is nie onmoontlik om te verstaan nie.”
“Dankie,” sê sy sag.
“Wat het jy vir haar gesê? Dink sy dis ek wat nie deel van haar lewe wou wees nie?”
“Natuurlik nie. Ek het haar die waarheid vertel: dat jy nie van haar geweet het nie.”
Die oggendluggie is koel en sy vryf oor haar boarms. Rossouw glip sy baadjie af en hang dit oor haar skouers.
Sy glimlag vir hom, dankbaar dat die atmosfeer vanoggend ligter is. “Altyd die gentleman.”
“Jy gee my te veel krediet.” Hy haal sy sonbril af en haak dit oor sy hempsak. “’n Gentleman sou nie gelieg het om sy pa van sy nek af te kry nie.”
“Water onder die brug,” sê sy.
“’n Gentleman sou sekerder gemaak het van kontrasepsie ook. Wat kan ek sê? Ek was jonk en oorhaastig en wanneer ek by jou was –”
Sy wil haar ore toedruk, wil nie dink aan hoe dit tussen hulle was nie. “It takes two to tango,” onderbreek sy hom. “Sorry, nog een van daai clichés wat jy so haat.”
“Hei –”
“Daar’s iets wat jy mooi moet verstaan voor jy jou verder verwyt. Ek was nog nie een oomblik spyt oor Skyla nie.” Sy skop na ’n stuk seebamboes. “In elk geval nie vandat sy gebore is nie.”
“Love at first sight, soos mense sê?”
“Vir my was dit.”
Hy rus sy hand tussen haar blaaie. Lig, vlugtig, sodat sy wonder of sy haar verbeel het. “Vertel my van haar. Ek het soveel gemis, ek wil als weet.”
Sy byt die binnekant van haar wang. “Jy hét baie misgeloop. Ek het my gisteraand vir die eerste keer behoorlik in jou skoene geplaas.” Sy draai na hom. Hiervoor moet hy haar in die oë kyk. “Jy’s reg, jammer is nie genoeg nie. Al wat ek nou kan doen, is om te belowe jy kan voortaan so betrokke wees soos jy wil.” Solank jy haar nie van my wegvat nie.
“Dankie, ek gaan nie nee sê nie.” Hy vee oor sy glad geskeerde ken en die begeerte om sy gebeitelde onderkaak na te trek, om haar voorvinger in die duikie in sy ken te doop is amper onweerstaanbaar.
“Ek moes jou nie met die hof gedreig het nie,” sê hy. “Dis nog iets wat ek nie bedoel het nie. Ek kan sien jy’s ’n goeie ma.”
Sy kruis haar arms voor haar, vou dubbel, en blaas die asem uit wat sy onbewustelik ingehou het. “Sjoe, ek het my vrek gestres.”
“Sorry.” Hy lig ’n hand op, en haar polsslag verdubbel. Gaan hy aan haar raak? Wil sy hê hy moet? Voor sy kan besluit, druk hy albei hande in sy broeksakke. “Vertel my nou van haar, toe.”
“Waar sal ek begin? Ek kan haar nie opsom nie, dis soos om ’n reënboog in ’n botteltjie te probeer vang. Sy’s ’n geskenk wat