Die snip van Sesdorings. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die snip van Sesdorings - Ettie Bierman страница 6
“Die enjin sit aan die ander kant!” spot hy toe hy uit sy motor klim. “Hoe sukkel jy dan aan die verkeerde kant om die motor weer aan die gang te kry?”
Hennie kry self lag oor die spektakel wat die man moes begroet het toe hy om die draai gekom het. Dis nie baie vleiend of baie vroulik om sitvlak-in-die-lug in ’n paar helder motorligte betrap te word nie. Sy wil ’n grap daaroor maak, maar toe sy sien dat die vreemdeling ’n jong man is – en nog lank, donker en aantreklik boonop – is sy skielik verleë en verwens die dekselse reënjas wat bly afgly en keer dat sy die chaotiese kattebak betyds toegedruk kan kry.
“Ek het die dreuning van jou motor gehoor en selfs in my sitkamer kon ek hoor die enjin is op die punt om tien bearings te slaan,” sê Carl geamuseerd. “Dit het toe ’n minuut later gebeur en dit was nie nodig om jou ligte te flikker of toeter te blaas nie. Ek was reeds op pad om te help.”
Hennie bondel die moedswillige reënjas agter die noodwiel in en knip die kattebak toe.
“Baie dankie,” sê sy verleë. “Ek het ’n Barmhartige Samaritaan baie nodig.”
Carl verstyf en die simpatieke glimlag op sy gesig verdwyn. Dis ’n dekselse vroumens hierdie en dit moes hy verwag het. Net ’n vroumens sal so onnosel wees om haar stukkende motor in die middel van die pad te los sodat hy nou-nou amper daarin vasgery het. En net ’n vroumens sal so dom wees om ’n motor sonder olie te ry. Dis haar verdiende loon dat die Volkswagen met haar gaan staan het.
Hennie voel ongemaklik toe die man nie antwoord nie en ook nie meer te begerig lyk om haar te help nie. Het sy iets verkeerd gesê? Moes sy hom nie ’n Barmhartige Samaritaan genoem het nie? Maar hy het tog gesê hy het gekom om haar te help, so wat was verkeerd daarmee?
Carl sou verkies het om om te draai, in sy motor te klim en weg te ry, maar hy weet hy kan die meisiekind nie hier alleen in die veld laat nie. Hoflikheid dwing hom om haar seker maar te help en so gou moontlik van haar ontslae te raak.
“Ek sal na die enjin kyk,” sê hy kortaf.
“Dis … e … Dis daardie kant,” stamel Hennie verleë.
Die man verwerdig hom nie om te antwoord nie en hy beskou haar opmerking blykbaar ook nie as ’n grap nie. Hy stryk sonder ’n woord na die masjien aan en pluk die kap oop.
Reeds van ver af kon Carl die hitte voel wat deur die masjien uitgestraal word en toe hy die kap oplig, kry hy die skerp reuk van kokende olie. Hierdie masjien was op die punt om aan die brand te slaan. Die meisiemens is gelukkig dat die motor betyds gaan staan het en nie in die ry begin brand het nie. Sy lyk die tipies onbeholpe soort wat nie sal weet om sand op te gooi of so vinnig moontlik pad te gee as dit lyk of die brandstoftenk kan ontplof nie.
Carl het gehoop hy kan aanraai dat sy die masjien kans gee om af te koel, maar nou sien hy dis hopeloos. Hierdie masjien is behoorlik gekook en dit sal ’n besoek aan ’n motorhawe kos voor die motor weer een enkele tree verder sal kan ry.
“Waarheen was jy op pad, Juffrou?” verneem hy kortaf.
“Sesdorings toe.”
“Om wat daar te gaan maak?”
Hennie vererg haar vir die vraag en die ongeskikte stemtoon. Die man dink blykbaar hy is onweerstaanbaar aantreklik, die gode se geskenk aan dames. Hy voel seker gesteurd omdat sy nie dadelik op haar knieë geval en sy voete gesoen het omdat hy hom verwerdig het om haar te hulp te kom nie. Wat het dit met hom te doen wat sy op Sesdorings wil gaan maak? Vra sy hom uit oor sý besigheid? Steek sy ’n ongevraagde neus in sý privaatsake?
“Om te gaan bad, te slaap en die biblioteek te behartig,” sê Hennie koel.
Carl Meiring se kop ruk op asof die warm masjien hom gebrand het.
“Ekskuus?” vra hy, maar selfs in sy eie ore klink sy stem onnatuurlik hol, asof dit van ver af deur ’n tonnel kom.
“Om van môre af my nuwe eiendom te bestuur,” herhaal Hennie. Die man het blykbaar net aan die verrinneweerde Volkswagen geoordeel en seker besluit sy is ’n armblanke wat met ’n stukkende motor sit en op sy nek gaan lê, afhanklik van sy goedheid om haar weer mobiel te kry. Sy stoot haar skouers agteroor en haar stem is uitdagend. “Ek is die nuwe eienaar van die plaas Sesdorings.”
Carl Meiring vee sy hande stadig aan sy sakdoek af. Hy knip die masjienkap toe en gee ’n versigtige tree agteruit. Dan draai hy sy kop om na die meisie te kyk. Maar dis werktuiglik en hy doen alles baie stadig. Dit voel nie asof dit werklikheid is nie. Hy voel afgestomp, asof hy droom. Soos daardie Vrydagmiddag in standerd vyf toe hy van die skool af gekom en tant Nellie by die huis gewag het om vir hom te sê dat sy ma hom en Donnie en sy pa net so gelos het om met ’n ander man weg te loop.
“Het … jý Sesdorings van ou oom Drik geërf?”
“Korrek. Ek was my oupa se enigste erfgenaam.”
“Maar – Hendrikus …” Carl kan nog steeds nie hierdie onwelkome toedrag van sake inneem nie.
“Nog steeds ek. My oupa het gevrees daar sal nie nog ’n kleinkind wees om die familiename voort te dra nie.” Hennie weet nie hoekom sy haar privaatsake aan die vreemdeling uitlê nie, maar hy lyk so half vreemd – asof hy ’n spook gesien het – en sy voel verplig om verder te verduidelik. “Toe ek gebore is, was oupa Drik teleurgesteld omdat dit ’n dogter was. Al wat hom kon troos, was dat sy kleindogter Hendrikus Bernardus Jakobus Vermaak sou heet. Toe my boetie twee jaar later gebore is, was my ma en pa ongelukkig nie jammerhartig genoeg om my doopname te laat verander nie en ek sit nog my hele lewe lank opgesaal met daardie Hendrikus.” Hennie glimlag effens, dog daar is geen reaksie van die vreemdeling nie. Sy is nie eers seker of hy na die lang relaas geluister het nie.
“Ek het aanvaar dis … dis ’n manspersoon. Jou pa of jou broer of ’n oom of iets.”
“Daar was nie ooms nie. My pa was ’n enigste kind.” Hennie kyk nuuskierig na die aantreklike vreemdeling. Wat maak dit aan hom saak wie Sesdorings geërf het? Hy is blykbaar ’n boer van hierdie omgewing, maar wat maak dit aan hom saak of Sesdoringsbiblioteek deur ’n ou man of ’n jong meisie bestuur word?
Carl het tyd gehad om hom effens reg te ruk en hierdie ontstellende nuus in te neem. Daardie ellendige Wynand Bothma kon hom darem gewaarsku het. Net verlede Saterdag nog het hulle saam gholf gespeel, maar Wynand het geen enkele woord gerep dat dit ’n meisiekind sal wees met wie hy in die toekoms opgeskeep sal moet sit nie. Seker bang vir sy hewige reaksie …
“Ek het ’n aanbod gemaak om Sesdorings te koop,” sê Carl kortaf. “Het jou prokureur dit aan jou voorgelê?”
’n Skok trek deur Hennie se liggaam. Sy kyk weer na die breë skouers en na die donker, krullerige hare en die vorm van die gesig. Dit lyk vir haar glad nie bekend nie – nie soos sy die aaklige klein seuntjie van elf jaar gelede onthou het nie. Carl en Donnie Meiring het dan ligte hare en blou oë gehad en hulle was albei skraal seuntjies. Hierdie donker ou met die breë voorspelerskouers kan tog nie Carl wees nie, kan dit?
“Het meneer Piet Dykstra dit aan jou voorgelê?” herhaal Carl ergerlik toe sy nie dadelik antwoord nie.
“Ek het nie meneer Dykstra gesien nie. Ek het met Wynand Bothma gepraat,” sê Hennie werktuiglik. Sy stoot weer haar