Matriks. Joan Hambidge
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Matriks - Joan Hambidge страница 3
teen die muur ’n foto van ’n swart man uit Bona.
Smiddae wanneer sy klaar gewerk het vir byna niks,
kyk ek verwonderd toe hoe sy haar hare uitklos:
vir vanaand se jive in die lokasie naby Silverton.
Sy was haarself met Lifebuoy uit ’n klein skotteltjie
en gebruik skeursels koerantpapier by haar oop toilet.
Oor die klein radio’tjie hoor ek die penniefluit óprank
en saans wanneer Ma-hulle uitgaan, haar groot-groot lag.
Op daardie keer toe Ma-hulle weg was om huis te soek
en ek en AnderSus sien hoe ’n kind in ’n ongeluk sterf,
hou Sara, ons Mama, my die hele nag teen haar bors
(“thula, bhabha, thula thula bhabha,
thula bhabha, thula thula bhabha”)
in my eerste kennismaking met die dood se reuk én klank.
II Naskynsels en naklanke
I pass to the other side of the page.
Pablo Neruda
Ballade van die grysland
Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
Totius (Trekkerswee)
I
Uit tonnels van die nag tuur ek
oor die landskap van ysterspore,
die vele bundels wat ná u vertrek
hul opwagting maak, die nuwe Edms. OnBpk.
met vele digters en diskoerse,
in die Afrikaanse taal se vele bottelnekke.
Deesdae kap ons slote op die internet,
Facebook en ’n kollektiewe Versindaba;
die digkuns ’n blote visum by verstek.
Hier is dikwels ’n gezoem om ’n heuningkoek
oor wié mag parlando of katalekteer;
soms word stilte opgeskort; ander kere opgedoek.
Daar is draaisae en gille van polemiek
− sonder om die bundel te lees −
ook herbesoeke met ’n enkele kliek.
Daar word steeds valse syfers neergekrap,
oneerlike resensies uitgekletter,
selfs ’n eggenoot oor ’n bedgenoot.
II
Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
moes ek dikwels vlug oor ’n gedig
van ’n herkenbare minnares, ’n liefdesbom.
Maar die vrees as u, die rekenmeester,
nou moes lees of skerp takseer?
Hoeveel van ons sou by u, o leermeester
’n heilige bees, ’n strak negester
of ’n joernaal van Jorik kon prakseer?
“Wees veral versigtig met eendagsterre!”
Die nag breek grou: ‘op tafelblad’
links in my smalle kamer
‘staan leë bottels in hul nat’.
Ek sukkel steeds om hierdie gedig
in balans met u en Totius te bring.
O my vrees vir kritiek wat verniel . . .
III
Die laptop is wit-gevlak en koel
soos die dubbelskots deur my vloei . . .
tot ek die vrees weer lyflik voel.
O as u, die rekenmeester, kom,
wat sal u maak van hierdie pastiche?
Ek erken my reëls uit u bron
in die onthouboek, digterlike dinamika:
die ware digter, so leer u ons,
weet geen snars van metafisika.
“En metafiksie?” wou ek vra.
Die tralies wat hierdie vers omsluit
− huldeblyk gewis en waar, ja −
laat my krukkig gryp na ’n psigoanalis,
Lacan en Žižek, daardie ou spoegbek,
óm en óm … die dun spil van die siel.
Gebed om die gebeentes
O digterlike vaders wat woon in bloemlesings,
gepasticheer, geparodieer, gepersiflage u naam,
laat ons u nogmaals lees in ander vorme
soos in die oorspronklike, nes in die afskynsels;
gee ons vandag ons inspirasie,
vergeef ons die blatante plundering
en misdoen in die skoene van die grotes.
Laat kom ons nie in versoeking,
met ’n sekel of simbaal
of papegaai-eggo’s,
want u bly die grootste én die sterkste
al is kuns so boos,
u het ’n Eiendoms Onbeperk,
u is gesteenbok en gepoolsee,
u is die suiwerste wiskunde,
’n volledige, finale allotroop.
Vir ewig en ewig, amen,