Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua страница 26
Net soos Rina, besluit ook Conzalo om hom vanaand in haar dierbare nabyheid te koester. Na die dansparty sal hy hierdie knelpunt, waarvan sy hele lewensgeluk afhang, opnuut in oënskou neem. Hierdie beeldskone meisie wat so sag en warm in sy arms voel, gaan nog sy bruid word. Hy het haar lief van daardie oomblik af dat hy haar soos ’n weerlose ou meisietjie in sy baadjie toegevou het, daar waar sy op die rivier se wal in al haar vroulike skoonheid voor hom gestaan het.
Die musiek loop meteens ten einde, maar Conzalo neem nie sy arm weg wat hy nog steeds om Rina hou nie.
“Ek bespreek jou weer vir die volgende dans, pequena,” sê hy en glimlag af na haar bekoorlike gesig. “Vanaand gaan jy my vergoed vir al die kere dat ek jou moes ronddra en in die bed sit. Ek eis drie danse uit elke vier.”
“Wel, ek moet sê jou fooie vir dienste gelewer, is glad nie hoog nie, Conzalo. Dit kon veel erger gewees het,” skerts sy lighartig; daardie dierbare ondeundheid wat die edelman al so goed ken.
“Dan is dit afgespreek,” sê hy en lei haar na hul tafel. Loreta en Alvaro is voor hulle by die tafel. Na ’n rukkie bedien die kelner hulle met hul drankies.
“Ek bespreek jou vir die volgende dans, Rina,” hoor sy Alvaro sê.
Sy kyk hom verskonend aan en glimlag ondeund. “Jammer,” sê sy, “maar ek moet glo vanaand my skuld aan jou neef vereffen. Ek kan dus slegs elke vierde dans met jou dans, my vriend.”
“Van watter skuld praat jy nou?” wil Alvaro geamuseer weet. “Ek het nie geweet jy staan kniediep by Conzalo in die skuld nie!”
“Ek ook nie,” glimlag sy liefies. “Maar dan het ek en jy natuurlik vergeet dat hy my na sy motor gedra het die dag toe ek my uit die hospitaal ontslaan het. Van sy motor af het hy my weer, sonder om te mor, na my hotelkamer gedra. Nou ja, jy weet self die dag by die doeanekantoor het hy dieselfde diens herhaal en . . . wel . . . hy het my ook ’n paar keer in die bed gestop toe ek sonder jul toestemming opgestaan het. Nou moet ek glo opdok vir al die sonde en ergernis wat ek hom besorg het. Maar ek gaan nie daaroor huil nie. Ek glo nogal daaraan dat elke mens sy skuld wettig moet vereffen. Nee, ek is heeltemal gewillig om vanaand my skuld aan Conzalo te betaal.”
Vrolik geselsend geniet hulle die drankies. Daarna dans hulle weer.
Soos afgespreek, dans Rina slegs elke vierde dans met Alvaro. Hierteen maak hy geen beswaar nie. Hy is nie blind nie; hý het lankal agtergekom dat sy adellike neef hopeloos verlief is op die bekoorlike Rina. En as Conzalo haar vir homself begeer, kan al die jong mans in Lissabon maar van haar vergeet. Conzalo is nie ’n man wat ’n saak maklik gewonne gee nie. En as dit nog boonop ’n saak van die hart is, sal hy tot die bitter einde veg om Rina se hand. Nee, Conzalo sal haar vir niks op aarde prysgee nie. Hy bejammer die man wat dit waag om Conzalo in sy liefde te dwarsboom. ’n Portugese man sal dit in elk geval nie waag nie, nie as hy Conzalo ken nie.
Dis al na twaalf toe die marquês orent kom en aankondig dat dit tyd is vir hulle om te vertrek.
“Ek sal Rina by die hotel besorg,” sê hy aan Alvaro, “terwyl jy Loreta na die castelo neem.”
Hulle kom almal orent. Alvaro kyk Rina vraend aan en sê bedaard: “Ek hoop jy onthou dat jy my moeder belowe het om môre by ons te kuier.”
“Ek het nie vergeet nie, Alvaro,” stel sy hom dadelik gerus. “Julle kan my môreoggend omstreeks tienuur verwag.”
Alvaro voeg sy neef iets op Portugees toe wat Rina nie verstaan nie. Sy sien hoe Conzalo sy kop instemmend knik. Hy antwoord Alvaro ook op Portugees onderwyl hy haar stola opneem en dit sorgvuldig oor haar skouers drapeer. Daar is ’n merkbare besitlikheid in sy houding toe hy Rina se arm neem en haar uit die saal lei na waar sy motor buite staan.
Die ander twee vergesel hulle tot by Conzalo se motor, waar hy Rina weer ewe besorg in die voertuig help.
Etlike minute lank ry hulle in stilte voort, toe hou Conzalo voor ’n restaurant stil. Hy kyk Rina met ’n glimlaggie aan. “Die aand is nog jonk, pequena. Ons gaan nou eers ’n ligte maaltyd nuttig,” antwoord hy op haar vraende blik.
“Noem jy halfeen jonk?” kom dit sag van haar.
“Vir jong mense is die aand beslis nog jonk,” glimlag hy. “Slegs getroude mense gaan vroeg slaap, menina, en ek en jy het nog nie ’n middernagmaal hier in Lissabon genuttig nie.”
“Ja, was dit nie vir my ellendige longontsteking nie . . .”
“. . . dan het ons mekaar vanaand al baie beter geken,” eindig hy die sin op sy eie manier vir haar.
“O, maar ek ken jou al baie goed, Conzalo,” sê sy met ’n glimlaggie. “Ons het al so dikwels gebots dat ek presies weet hoe konserwatief en dominerend jy is.”
“Dit is slegs een deel van my persoonlikheid,” antwoord hy sag. “Die dieper deel ken jy nog nie.”
“Jy het reg, die helfte van jou ken ek nog glad nie. Ek twyfel of ek jou ooit beter sal ken. Jy het te veel fasette in jou samestelling, Conzalo. Jy is onpeilbaar, dus sal ek nie eens met jou daaroor argumenteer nie. Ek is lankal daarvan bewus dat jy geen vreemdeling toelaat om dieper as die oppervlak te delf nie, jy wys net die sy van jou karakter wat jy verkies om bloot te stel.”
“Jy sal my wel nog beter leer ken, pequena,” belowe hy met ’n glimlaggie wat Rina se hart weer laat bokspring. Maar hierdie fratse van haar hart onderdruk sy met alle geweld. Hierdie aand, met sy goue herinneringe, snel sy einde nou vinnig tegemoet. Daarna bly vir haar slegs ’n lang, eensame pad oor, ’n pad wat sy alleen sal moet bewandel.
Asof sy besonder teer en broos is, neem hy haar arm en help haar uit die motor. Dit streel sy verliefde hart om te sien hoe alle oë ineens na Rina draai toe hulle die restaurant binnetree. Haar sonderlinge skoonheid is soos ’n magneet, dink hy. Al sal sy ook hoe oud word, sal sy nog steeds almal se aandag trek.
Hy lei Rina na ’n tafeltjie en bied haar ’n stoel aan. Hulle het ook kwalik gaan sit, toe maak die kelner sy verskyning. Sonder om Rina te raadpleeg, plaas die edelman hul bestelling.Vir homself bestel hy tafelwyn en vir haar ’n koppie koffie. Daarna sit hy gemaklik agteroor in sy stoel.
Hy kyk Rina ’n oomblik stil aan en sê dan ineens: “Jy het my nog nie vertel wat jy van Estoril dink nie, menina. Het jou duenna jou darem in ’n mate veilig laat voel?”
’n Betowerende glimlaggie speel om Rina se aanloklike lippe. “Was dit nodig om ’n duenna agter my aan te stuur?” antwoord sy hom met ’n weervraag.
“Het jy tia Ada irriterend of ’n laspos gevind?”
“Nee, ek het nie,” antwoord sy eerlik. “Om die waarheid te sê, ek het haar geselskap baie geniet. Maar dis jou geluk dat jy tia Ada agter my aangestuur het en nie ’n suurknol van ’n ou dame nie, want dan het jou hare gewaai. Maar ek kan nou nog nie begryp waarom jy die moeite gedoen het nie, Conzalo. Ek het nie met ’n duenna aan my sy grootgeword nie, gevolglik het ek nie een nodig nie. Ek dink dit is nou sommer ’n lawwe gebruik van julle, hierdie duenna-besigheid. As ’n meisie van kleins af geleer word wat reg en wat verkeerd is, het sy beslis nie ’n duenna nodig nie. My ouers het my selfstandig grootgemaak. Ek ken die lewe, sy lokvalle en slaggate wat vermy moet word. Ek dink ek is meer opgewasse om myself te beskerm as wat ’n duenna is.”
“Jy is dus nog steeds