Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit страница 9
Ek moet Katrien Tosen sien, besluit hy koorsagtig. Want wat het my besiel om vir haar te sê ek het familie hier? Ek, wat in geen jare eers onthou het dat ek familie het nie? En toe gaan staan en raak ek sentimenteel en gryp die Isaacsdam-projek aan?
En veral noudat Dormehl sy opwagting gemaak het met ’n begeerte wat ek vir hom moet bevredig. Doen ek dit nie, sal hy ’n stok verwelkom om my mee te slaan. Tannie Varkie … Dis genoeg om van te kreun.
Jeannie. Die Nothnagels. Hulle wat hom onder die vlerk geneem en ’n sakeman asook gentleman van hom gemaak het. Wat hulle betref, is hy die tweede geslag uit Duitsland. Sy ouers is dood en hy is volkome alleen. Hier gebore en hier getoë, en tog alleen. Hy het dit self begin glo. Dit kan waar wees ook.
Hulle glo hom, tensy hulle toneel speel. Hy wonder of Jeannie hom dalk menige sosiale blaps vergewe het op grond van sy herkoms. Dat sy gereken het sy familie het nie van beter geweet in ’n aangenome land nie.
Dit maak seer om oor hulle te praat, verseker hy vir Jeannie wanneer sy te spesifiek uitvra. En daarby bly dit dan. Nou het hy deur ’n dom fout alles opgemors.
Inderdaad maak dit seer, dink Jonathan Bergman waar hy onder die reuse-eik na die huis staan en staar. Die lig is dof. Dalk ook lampe? Dalk is daar met die bedrading ook fout, soos in die winkel? Hy voel vreemd leeg, asof die stormwind van vroeër dwarsdeur hom gewaai het en hy toe verder skoon gereën is. Hy kan verstaan hoekom die suidooster die Kaapse Dokter genoem word. Dis of dit die wasem laat wegdroog wat teen die spieël van jou lewe versamel het.
Uiteindelik loop hy skoorvoetend nader aan die voordeur wat die Tosens s’n moet wees. Hoedanige ontvangs hy sal geniet, weet nugter alleen. Hy kan nie die meisie in sy vertroue neem nie. Sy klink na ’n neurotiese tipe, as hy Dormehl moet glo. En tog was sy vanmiddag – was dit net vanmiddag? – heel koel en beheers, selfs toe sy kwaad geword het.
Maar hy vertrou haar g’n niks. Nie as sy ’n skoothondjie van Dormehl is nie. Hy is reeds op die kaal voorstoepie, toe staan hy nog oor die wysheid van die besoek en twyfel. Oplaas lig hy tog sy hand en voel die ou hout teen sy kneukels.
Dis Katrien self wat oopmaak. Hy is amper seker dat sy wou sê: Al weer jy. Maar daarvoor is sy seker te dorps ordentlik. Sy sê trouens niks. Haar lippe gaan net baie effens oop, en hy verbeel hom dit bewe. Sy het gemaklike drag aan, ’n langbroek en hempbloes. Sy het ’n groot, moderne bril op die neus, wat haar geleerd laat lyk. Gelukkig lyk sy nie meer vies nie, of sy steek dit goed weg.
Hy sê die eerste ding wat in sy kop kom, en besef dadelik self dat dit ’n stompsinnige ding is: “Jy’t vanmiddag sonder bril gebrei.”
“Ek kyk nie as ek brei nie. ’n Mens noem dit blind brei.”
“O.” En daar staan hy sonder ’n verdere woord. Gelukkig weerhou hy ’n nog stompsinniger opmerking oor eenoog in die land van die blindes, of so iets. Sy het hom met die Lilliput-storie te deeglik op sy neus laat kyk.
Sy staan teenoor hom met ’n vraag in haar gespikkelde grys oë. “Jy wou seker inkom,” sê sy na etlike lang oomblikke. “Dis oor Gileam wat jy kom, is dit nie?”
“Ja en nee.”
“Ek is jammer as hy gaan rusie maak het. Ek wou hom keer.”
“Lyk my nie hy is te keer nie.”
“Eintlik nie,” glimlag sy skeef. “Wat het hy vir jou te sê gehad? Sy groot planne vir die nuwe uitbreiding?”
“Eintlik júlle nuwe planne. Kan ek inkom?”
“Ek het mos gesê jy kan.”
“Nee, jy’t gesê ek wil seker.”
Sy antwoord nie en staan net opsy. “Los maar die deur oop,” versoek sy.
“Ja, seker veiliger vir jou,” kan hy dit nie weerhou nie.
In die eenvoudige, basiese sitkamer sit hulle, en sy vryf met haar een duim oor die rug van die ander. “Dis net … ek en Gileam …”
“Ek verstaan,” gebaar hy. En wens hy het. Hoe min hy ook van haar weet, pas sy tog nie juis by Dormehl nie. Sy is van fyner allooi.
“Dalk verstaan jy tog nie,” weerlê sy ook. “Glo dit as jy wil, en ek weet jy glo dit nie van hom nie, maar Gileam is een wat kan begryp.”
“Hy sal ’n gedugte vyand kan wees.”
“Juis. Maar ’n dierbare maat … vriend.”
“Het ek jou eintlik werklik rede gegee om klagtes oor my by hom aan te dra? Wees eerlik, was jy nie ’n bietjie naïef om aanstoot te neem net omdat ek ’n vriendskaplike afspraak met jou probeer maak het nie? Ek is tog vreemd hier, en jy’t vir my na goeie geselskap gelyk. Jy is ook.”
“Op die ou end?” sêvra sy skamper. “Nadat dit geblyk het ek is nie heeltemal onkundig oor Gulliver se storie nie?”
“Kan ons nie daardie een vergeet nie? Ek was grootdoenerig. Dalk die onsekerheid van vreemdheid.”
“Nou toe nou. Skaars in Isaacsdam, en reeds op die regte pad. Goeie ou plattelandse sedes.”
“Moenie spot nie. Is dit waarom jy vies was? Oor my houding?”
“Nee, glo my, ek sê mos jy verstaan nie. Ek verwag ook nie dat jy moet verstaan nie. Maar … ek was onwetend van enigiets en besig in die winkel. Ek pla niemand nie. Ek verwag niemand nie. Die wind was erg, en toe die reën. Hier gooi jy die deur oop …” “Omdat daar staan: Kom binne asseblief.”
“Hoe ook al. En jy kom in, jou kraag opgeslaan, en …” Dit lyk of dit vir haar te swaar word om verder te praat.
“En …?” por hy versigtig.
“Toe herinner jy my sterk aan ’n ander dag en geleentheid. Net dit, die opgeslaande kraag in die nek van ’n man met ruie hare. Verstaan jy nou beter? Dis net … ag, wat doen ’n mens as jy nie kan vergeet nie?”
Hy sit oorstelp. Die hartstogtelike uitbarsting was hy nie te wagte nie. Sy lyk inderdaad oorstuur. Dormehl was reg.
“Maar was dit nou nodig om by hom te kla omdat ek gevra het wat doen jy vanaand, en gesê het jy is in ’n groef?”
“Nee,” prewel sy. “Nee, dis nie reg nie. Maar Gileam … jy sal nog sien. Hy is ’n oorrompelende mens.”
“Of anders gestel, hy het ’n sterk invloed op jou.” Of ’n houvas, wie weet? wonder hy vies.
“Hy is in elk geval nie met ’n halwe waarheid tevrede nie. Hy wil altyd alles weet voordat hy optree. Dit maak van hom ’n goeie sakeman en betroubare raadgewer. In elk geval is dit lekker om hom alles te vertel. Met iemand moet ’n mens tog kan praat?”
“Ja,” sê hy en dan, onbesuis: “Ek het ook nie iemand nie.” Dit wil sê niemand vir wie hy alles kan vertel nie.
“O?” Haar wenkbroue lig. Sy het die bril afgehaal om stipter na hom te kan kyk. “Ek dag … jou familie …”
“Dis